fbpx

deur Andre Pretorius

Die term “morele hoë grond” kan gedefinieer word as ’n posisie wat verkry is as gevolg van die aanhoudende behoud van ’n universele standaard van goedheid of regverdigheid.

In die praktyk gee “morele hoë grond” ’n persoon of instansie die perspektief om ’n kritiese ontleding te maak van ’n saak en dan stand daarteen of daarvoor in te neem. Die “morele hoë grond” gee dus teoreties die persoon meer reg om krities na ’n saak te verwys. Dit word dan gebruik om simpatie en ondersteuning van die wye samelewing te verwerf in jou saak.

Vir meer as 25 jaar gebruik die regerende ANC Apartheid as ’n wapen om die morele hoë grond te behou. Dit lyk egter of hulle besig is om hulle greep daarop te verloor. So gryp hulle na enige nuwe tendens: Black Lives Matter, sogenaamde ‘rassisme’, die Covid-19 krisis en meer om hulle greep te probeer versterk.

Van hulle oorsprong vroeg in die 20ste eeu tot 1994 was die ANC altyd gesien as ’n terreur organisasie. Die siening is ondersteun deur hul aktiwiteite in daardie tydperk.

Hulle oorname van die staat is vergemaklik deur ’n probleem van uiterstes wat reeds deur NP van Wyk Louw in die ou bedeling aangespreek en uitgewys is. Carel Boshoff het daarop uitgebrei in die Van Wyk Louw gedenklesing* wat hy gelewer het op 18 Junie 2020. Die samestelling van die Afrikaner se regeringsisteem was van so aard dat alle mag in een basis gekonsentreerd was. Indien hierdie basis sou wankel, sou die mag verloor word.

Deur hierdie probleem van uiterstes uit te buit kon die ANC beide die tuiste sowel as die mag van die Afrikaner wroeg. So is die Afrikaner van alle mag ontneem.

Na 1994 moes die ANC ’n nuwe blaadjie voorhou, maar die ink van die verlede slaan tot vandag toe nog telkemale deur.  ’n Onwilligheid om morele stand in te neem teen moord, diefstal of rassisme teen een deel van die bevolking is ’n kenmerk. Enige soortgelyke onheile teenoor ’n ander deel van die bevolking word hewig gekritiseer. Hierdie is liewer ’n aanduiding van onsekere grond as hoë grond. Die ANC glo dat hulle steeds die morele hoë grond en dus die reg om alle wit Suid-Afrikaners (insluitende die Afrikaner) te kritiseer, het.

Dit kan dui daarop dat die ANC moreel verward is, of ’n tipe selektiewe moraliteit toepas. Daar is geen vaste objektiewe outoriteit waarmee moraliteit gemeet word nie, maar inderdaad ’n subjektiewe, wisselende outoriteit wat deur die regering gereguleer word. Hierdie stand van sake pas natuurlik perfek by die postmoderne, sosialistiese wêrelduitkyk wat die regering probeer afdwing. Dit is egter ook terselfdertyd weersprekend.

Ons kry dus dat grond vanaf een groep geneem kan word, maar nie vanaf ’n ander groep nie.

Moord op een groep kan geduld word, maar nie op ’n ander groep nie.

Nou in die grendelstaat is finansiële hulp aan een groep toegestaan, maar nie aan ’n ander groep nie.

Ekonomiese hulp word gebied aan een groep besighede, maar nie aan ’n ander groep besighede nie.

Van die een groep word verwag om finansieel by te dra, maar nie van die ander groep nie      – hulle eis en ontvang net.

Aan die een kant verkondig die regering sosialisme en kommunisme as voordeel vir almal en aan die ander kant eksklusiwiteit vir sekere groepe.

Ons het dit ook onlangs gesien toe Orania weer in die soeklig was as gevolg van Lesufi se uitlatings: Ander groepe (Bafokeng koningkryk, Zulu koningkryk) het ’n reg tot selfbeskikking op grond van kultuur en taal, maar die Afrikaner nie. Van ons word verwag om te diversifiseer en saam te smelt met die rëenboognasie ideologie.

Hierdie selektiewe, wisselende uitkyke verhinder dus die ANC om die ware morele hoë grond in te neem. Hulle beklee ’n posisie van vals hoe grond. Hoe kan die regering sogenaamde “land diefstal” in die verlede kritiseer, as hulle self staatsfondse steel? Hoe kan hulle die moordsyfer aanspreek as hulle self in die verlede moordenaars was en steeds moord op ’n deel van die bevolking goedkeur? Hoe kan hulle aandring op eerlikheid as hulle self oneerlik optree? Dieselfde agenda word steeds bevorder al word dit al hoe duideliker dat hulle hele sisteem en wêrelduitkyk weersprekend is.

Die vraag is: Kan die Afrikaner uit die loopgrawe die vals morele hoe grond bestorm? Die antwoord laat my dink aan die slag van Majuba – dit kan gedoen word. Die ANC is besig om deur die vals morele hoe grond en wisselvallige standaarde die loopgrawe van die Afrikaner voller te dwing. Met die Allerhoogste se hulp het ons oorloë oorleef, konsentrasiekampe oorleef, samesmelting met oorweldigende massas oorleef en ’n groot uittog van ons eie mense na ander wêrelddele oorleef. Geskiedkundig het die Afrikaner gewys dat hy kan oorleef en oorkom.

Hoe kan ons dit vandag vermag? Carel Boshoff glo ons kan dit doen deur die Afrikaner se tuiste sowel as magsbasis te konsolideer. So kan ’n tuiste dan te weeg gebring word deur die Afrikaner bevolking te konsentreer in ’n geografiese gebied. Selfwerksaamheid kan as ’n voertuig gebruik word om die konsentrasiedigtheid te behou. Ons eie stemme en die Afrikaner se selfbeskikkingspoging sal versterk word.

Die Afrikaner kan weer mag hê deur ons eie instellings te ontwikkel en uit te brei, soos Joost Strydom onlangs in sy artikel Instellings bepaal instellings** verduidelik. Instellings sal uiteindelik die hartklop van hierdie selfbeskikking wees.

Daar is hoop vir die Afrikaner. Hoop geplant in die geloof en natgelei met selfbeskikking.

*Facebook: Die Vryheidstigting  – Die Derde Afrikaner – 18 Junie 2020

**Orania beweging: Instellings bepaal instellings  – Joost Strydom – 09 Junie 2020

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.