fbpx

deur Karin Kemp

Gemeenskapsbetrokkenheid – Wat ‘n vreemde, dog beskrywende woord.

In ‘n veelsydige, vooruitstrewende en vinnig groeiende dorp soos Orania kan jy so eensaam of so betrokke wees as wat jý kies om te wees. Hier is baie organisasies en instansies waarby jy buite jou werksure betrokke kan raak en wat jou tyd en aandag in beslag sal neem. Vrywilligers, veral die wat ‘n passie vir en/of ervaring in ‘n betrokke saak het, is altyd ‘n bate in ’n gemeenskap.

Radio Orania is ’n gemeenskapsradiostasie wat totaal afhanklik is van vrywillige bydraes en daar is vele fasette waarby jy jou gewig kan ingooi, byvoorbeeld klankregie, stemopnames, boekvoorlesings, die samestelling van programme, as nuusleser of omroeper of aanbieder.

Werf lede vir die Orania Beweging: Daar heers ‘n wanpersepsie dat slegs Orania-uitwoners ingeskrewe lede van die Beweging hoef te wees. Nee, inteendeel behoort elke liewe inwoner lid van hierdie organisasie te wees. Dit kos jou so min as R50 per maand, selfs vir ’n gesinslidmaatskap. Moenie dink jy hoor en sien alles wat in ons dorp gebeur net omdat jy hier bly nie. Die korrespondensie wat na lede van die Beweging uitgaan is van onskatbare waarde ook vir inwoners.

Raak betrokke by oriëntering. Alle nuwe Oraniërs moet oriëntering ondergaan om hul meer van ons dorp en gemeenskap te leer en hul voor te berei daarop om ware Oraniërs te word, en nie sommer net inwoners van ‘n nuwe dorp te wees nie. Jy kan teekoppies regsit of stoele uitpak en nuwe Oraniërs laat welkom voel.

Daar is altyd, oral, iets waarmee jy kan help.

Ons Veiligheidsdienste het altyd vrywilligers nodig om patrollie te ry om ons gemeenskap veilig te hou. Net so het Orania Helpmekaar en Orania Dieresorg weldoeners en hande nodig.

Daar is ‘n staaltjie van ‘n man wat Orania binnekom en vir ‘n inwoner vra hoe dit is om hier te bly. Die Oraniër vra hom toe hoe was die vorige dorp waar hy gebly het. ”Aaklig’ sê die man en lys ‘n rits negatiewe aspekte oor sy vorige blyplek.

‘Noujatoe,’ sê die Oraniër, ‘dan gaan dit hier ook vir jou so wees.’ Dieselfde staaltjie vertel van ‘n nuwe intrekker wie se reaksie op dieselfde vraag, weer besonder positief was. Vanselfsprekend kry hy toe dieselfde antwoord, dat dit vir hom hier ook so gaan wees. Die slag, met ‘n glimlag en ‘n handdruk van die Oraniër af. ‘n Plek is wat jý daarvan maak.

As jy met erns kom om ‘n besigheid hier te vestig wat al jou tyd en aandag gaan verg, verstaan en respekteer ’n mens dat jy dalk kies om jouself vir eers van alle buitemuurse aktiwiteite weerhou. Nuwe intrekkers moet natuurlik ook eers uitpak en aanpas en hul administratiewe sake in orde kry. Maar om net te werk en nooit te ontspan nie, is ook nie gesond nie. Soos die Engelse sê: “All work and no play…”

Begin eenvoudig: gaan stap byvoorbeeld laatmiddag deur die dorp – deels as verkenningsoefening en deels om baie nodige sonlig, vars lug en oefening te kry. Jy kan vir geselligheid by ander stappers aansluit.

Dit is ook waar dat ’n mens só vinnig by soveel verskillende goed betrokke kan raak (ek het al die term ‘ingesluk’ gehoor) dat jy later nie meer weet of jy kom of gaan, of waar om te vat en waar om te los nie. ’n Nuttige wenk is om elke maand net een ding tot jou roetine by te voeg sodat jy betyds kan keer as jou gesinslewe of huistake onder jou gemeenskapsbetrokkenheid begin ly.

Daar is natuurlik seisoengebonde aktiwiteite en sportgeleenthede of Ad Hoc geleenthede soos projekte of feeste, pekanneut- (en ander) oeste en fondsinsamelingsgeleenthede waartoe jy jouself dus nie elke maand, week of dag toe hoef te verbind nie maar waar jou betrokkenheid ook geweldig waardeer sal word. Jy kan dit selfs ‘n jaarlikse instelling maak.

Besoekers staan dikwels verstom oor wat hier alles aangaan en hoe baie hier is om te doen. ‘Maar wat is hier alles om te doen vir die jongklomp?’ is hulle lief om te vra.

Daai ouens en meisies wat pas klaar is met skool en hul nuutgevonde vryheid moet ontdek en leer bestuur? Of, dié jongwerkendes wat pas klaar studeer het maar regtig presies net dit gedoen het: studeer. Dus nié in klubs rondgehang, gaan fliek, gaan dans, gaan kuier het en hul naskoolse vryheid nog nie eintlik benut het nie.

Hier is my antwoord: Ja, hulle kan hier ook gaan fliek en gaan uiteet en in ‘n kroeg gaan kuier of by vriende se huis gaan braai. Hier word ook vertonings en konserte en musiekuitvoerings gehou. Hier kom tree ook bekendes op. Hier word ook feeste en kermisse gereël en konserte gehou. Hier heers ’n gemeenskapsgees met geleenthede wat ek my grootste vyand nie wil ontsê nie. Dan kan die jongklomp natuurlik ook buiten die gekuier, ’n sinvolle kulturele bydrae tot jeugorganisasies lewer.

Ek herhaal: daar is altyd, oral, iets waarmee jy kan help of waarby jy betrokke kan raak. Lekker goed! Soos die jaarlikse Karnaval (my persoonlike gunsteling) met talle verrigtinge en as hoogtepunt, ’n gemeenskapskonsert. Die dorp is in rep en roer tydens die Karnaval en daar is soveel om te doen en aan deel te neem. Akkommodasie is oral vol bespreek en besoekers gaan tuis sover as in Hopetown of Vanderkloof en kamp selfs in Oraniërs se agterplase. Waar kry jy dit in die stede, daar waar die sogenaamde ‘buzz’ is?

Dan praat ek nie eers van die AVS se onder 21 Bokkietoernooi wat jaarliks hier aangebied word of van die vakansieprogram wat in Desembermaand aangebied word nie. Dit, wat ek noem ‘vakansietyd in Orania’ is by my sterk kompetisie vir Karnavaltyd. Ek weet van talle Oraniërs wat seevakansies of selfs oorsese reise prysgee het om eerder daardie tyd in Desember, in Orania te kan vertoef.

My raad aan nuwe inwoners is, meld iewers aan. Raak betrokke. Wees, nee lééf, deel van hierdie wonderlike gemeenskap. As jy eensaam is, is dit jou keuse.

My leuse is, “Orania: nêrens anders nie,” en my bors swel van trots wanneer ek dit sê.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.