Orania vier Taalweek

14 Augustus is Taaldag. Op die dag in 1870 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in Paarl gestig. Hulle het hulle daarvoor beywer dat Afrikaans, toe nog ʼn nie-erkende en nie-gestandaardiseerde dialek, amptelik erkenning sou kry en Nederlands sou vervang. Die stryd is eers in die 20ste eeu gewen. Die saadjie wat die GRA geplant het, het ʼn groot boom geword, met Afrikaans wat ʼn volwaardige taal op elke terrein geword het: die akademie, die kunste, die literatuur, die wetenskap, die ekonomie, die populêre sowel as die hoogkultuur. Dit het ook aan die “Hollanders” in Suid-Afrika ʼn unieke identiteit en trots as Afrikaners, ware inheemse mense van Afrika, gegee. Daar kan ook geargumenteer word dat die suksesvolle modernisering van die Afrikaner in die 20ste eeu nie moontlik sou gewees het sonder die ontwikkeling van die taal wat hulle gepraat het nie. Dit is iets om op trots te wees en iets wat verdedig moet word. Daarom is ons met reg trots op Afrikaans en vier dit ook in Orania. Ook die strewe van Orania is onlosmaaklik verbind aan die bewaring en uitbou van Afrikaans.

Verlede week, beginnend met 14 Augustus, was Taalweek. Dit het afgeskop op Taaldag self met ʼn videovertoning oor die lewe van Jan Pohl, bekende Afrikaanse digter, musikant en liedjieskrywer, wat in Orania begrawe is. Hy het ook die musiek vir 8 Afrikaanse flieks geskryf, en was ook ʼn akteur.

Dinsdag, 15 Augustus was daar ʼn filmvertoning van “Kom saam vanaand”, ʼn ou klassieke Afrikaanse fliek van 1949 en die eerste Afrikaanse musiekblyspel wat verfilm is. Dit was ʼn nostalgiese terugkyk op ʼn tyd waar Afrikaans aan die opbloei was en waar Afrikaners die hele spektrum van uitvoerende kunste verteenwoordig het. Pierre de Wet, Hendrik Susan, Nico Carstens, Al Debbo wat in “Kom saam vanaand” opgetree het, is name wat vandag nog bekend is.

Woensdag 16 Augustus is daar ʼn gesellige samesang van FAK-liedjies by Stokkiesdraai Park in snerpende koue gehou. Pieter Krige was die sanger en kitaarspeler.

Donderdag 17 Augustus was by Plaaswerf Bakkery ʼn keurige uitvoering van gedigte oor die liefde. Orania-digteres Stefnie Muller het op aangrypende wyse haar eie gedigte voorgedra, altyd afgewissel deur ʼn sang- en kitaaruitvoering van Carel Boshoff jnr., eweneens van liefdesgedigte wat hy self geskryf het. Die kulturele genot is aangevul deur lekker pizza en wyn.

Vrydag 18 Augustus was daar ʼn toneelopvoering van “Die storie van Helen Martin”, geskryf deur die Oraniër Roelien de Klerk, by Skinki Kofe restourant. Daar was skaars genoeg plek vir al die belangstellendes, en die kunsgenot is aangevul deur Glühwein en biltong.

Saterdag 19 Augustus was daar die Kultuurskataand, aangebied deur Celeste van Niekerk, by die Gemeenskapsaal, met voordrag van gedigte, volkspele en sangitems deur die koor. Die uitvoerings is ook beoordeel.

Sondag 20 Augustus is pragtige klaviermusiek en sang in die pragtuin van Carel en Anje Boshoff by die geskiedkundige plaasopstal van Vluytjeskraal vertoon. Besoekers kon sommer hulle piekniekkombers en – mandjie bring en peusel terwyl hulle die musiek geniet het.

Die taal word in Orania gekoester, maar dit is nie genoeg as dit net hier gebeur nie. Gelukkig beleef ons veral op die terrein van die kunste ʼn herlewing van Afrikaans. Dink maar aan die musiekbedryf, kunstefeeste, aan Skouspel en Afrikaans is Groot, aan die groeiende filmbedryf, aan ʼn gevestigde Afrikaanse literatuur wat steeds gevoed word deur talle nuwe skrywers en digters.

Ons kan egter nie tevrede wees met die herlewing net op die terrein van die kunste nie. Afrikaans moet nie beperk word tot die kunste nie, terwyl dit verwyder word as taal van opleiding, wetenskap en besigheid nie, soos wat tans die geval is. Klein tale soos Bretons, Oksetaan, Gaelies, Wallies, Frissies, Sorbies, Tamasjek, ensovoorts het almal hulle kunstefeeste maar het hulle universele status verloor of nooit bereik nie. Universeel beteken nie dat dit ʼn wêreldtaal is nie, maar dat jy alles in die taal kan doen binne jou volksverband. Afrikaans was so ʼn taal gewees, en in Orania is dit weer so ʼn taal. Hier word letterlik alles in Afrikaans gedoen, nie net kultuur nie, maar ook werk, besigheid, opvoeding ensovoorts.

Die kibboets: Mite en werklikheid

Die woord kibboets word dikwels genoem in die verband met Orania. Dit is nie verbasend nie, want Orania en die Afrikaner-Vryheidstigting het telkens Israel as voorbeeld en inspirasie vir die totstandkoming van ʼn Afrikaner-volkstaat geneem. Golda Maïr, Theodor Herzl, David Ben-Goerion, Moshe Dayan, die Balfour-verklaring, vlug van vervolging en van vooraf weer opbou is alles dikwels genoem in gesprekke in veral die begintydperk van die Volkstaatstrewe. Die kibboets is gebruik as model vir die ontwikkeling van ʼn volkstaat, wat in die 1990’s nog hoofsaaklik op landbou gegrond was en aansienlik verskil het van die huidige stadbou-plan. Elim, die tehuis vir werkende jong mans, is ook na verwys as “Afrikaner-kibboets” en menige besoeker het gevra (en vra nog steeds) wat die moontlikheid van landbouontwikkeling in Orania volgens die kibboetsmodel is. ʼn Toer na Israel en natuurlik ook besoeke aan verskeie kibboetse is ook in daardie tyd (die middel 1990’), toe Orania nog in sy kinderskoene was, gereel. ʼn Hele paar Afrikanerjongmense het op kibboetse gewerk.

Omdat Orania ʼn gemeenskap is, word dikwels aanvaar dat die kibboets-idee en Orania perfek bymekaar pas. ʼn Sterk element van idealisme en die skepping van ʼn hele leefwêreld deur eie arbeid op gelyke vlak word sowel aan die kibboets asook aan Orania toegeskryf. Wat is die werklikheid agter die miete kibboets en hoe sien hulle vandag daaruit?

Die kibboets is ʼn kollektiewe landbounedersetting in Israel, waar mense saam woon en werk volgens die sosialistiese lees van deel met mekaar en die afwesigheid van privaateindom. Die kibboets is sterk gesteun deur die sosialistiese Mapai (Arbeidersparty), die party wat Israel gestig het en die eerste drie dekades van die land bepaal het. Hulle leiers, soos Ben-Goerion en Maïr het almal op kibboetse gebly en is daardeur gevorm. Die kibboetse was aanvanklik veral landbougerig, maar het later ook by verwerking betrokke geraak. Die eerste kibboets is reeds in 1909 gestig, lank voor onafhanklikheid van Israel en toe Palestina nog onder Osmaanse beheer was. In daardie tyd was private, individuele ontwikkeling van Palestina glad nie eers ʼn opsie nie en weens die Jode se klein getalle in ʼn vyandige omgewing het die saamgroepeer in nedersettings sin gemaak. Dit was ook meer koste-effektief om saam te ontwikkel en die eerste setlaars was gewoonlik arm. Behalwe vir die gesamentlike harde werk is daar ook saam gekuier en planne gemaak en oor die toekoms gepraat. Die kibboetse het ook ʼn beweging gestig om hulle te verteenwoordig. Die wese van die kibboetse was van die begin af sterk sekulêr, selfs ateïsties van aard. Die verdedigingselement was ook altyd belangrik by die kibboetskonsep en die Israelse weermag was daar betrokke.

Die hoeveelheid kibboetse en die bevolking wat daar gewoon het, het veral tussen die twee wêreldoorloë toegeneem, maar daar was nooit meer as 10% van Israel se Joodse bevolking in kibboetse woonagtig nie. Aanvanklik was feitlik alle kibboetse bewoon deur Asjkenasim Jode, wat uit Europa afkomstig was en ʼn gesamentlike voorkoms en kultuur gedeel het. Na onafhanklikheid in 1948 het die Joodse bevolking meer divers geraak en meer en meer MizrahiJode uit die Midde-Ooste, donkerder van kleur en kultureel meer soos die Arabiere, het bygekom. Daar het onbedoeld ʼn tot dusver onbekende klasseverdeling ontstaan, met die gevestigde Asjkenasim wat werk deur die Mizrahi laat doen het, wat ook tot ʼn verbrokkeling van eenheid op die kibboetse gelei het. Die verdeling was ook polities van aard, met die Asjkenasimwat veral die Arbeidersparty ondersteun het, en die Mizrahi, wat die Likoedparty aangehang het.

Die 1960’s was ʼn tyd van voorspoed en die inkomste van die kibboetse en hulle bewoners het gestyg. Die dae van uitmergelende handewerk in die brandende son van vroeg tot laat was verby. Met die magsverlies van die Arbeidersparty in die 1980’s aan die konserwatiewe Likoedparty het ook die ondersteuning vir die kibboetsstelsel vervaag. Israel het ook meer godsdienstig geraak soos wat ultra-ortodokse Jode se getalle en invloed uitgebrei het en geen regering sonder die steun van ten minste een godsdienstige party tot stand kon kom nie. Na 1990 het die bevolking van en die getalle kibboetse afgeneem en daar is ook meer en meer elemente van privatisering en individualisering ingebring. Israel is vandag ook besonder dig bevolk en verstedelik en die landbougerigte kibboetse is amper ʼn relik uit ʼn ander era. In tye van keusevryheid en materialisme is outarkie, opoffering en gemeenskapaksie vir ʼn groter doel ook nie meer iets wat ʼn sterk appèl op meeste mense het nie. Met Israel wat sy pioniersfase lankal agtergelaat het en hoogs gemoderniseer is, het ook die kibboetse hulle betekenis en sin grootliks verloor.

Onlangs ervaar die kibboetse weer ʼn soort van ʼn herlewing, egter in ʼn ander gedaante. Stadsmoë jappies soek die bekoring van die landelike, meer eenvoudige lewe en trek na die kibboetse toe wat ook voorsiening vir private behuising maak. Sekere dinge word nog gesamentlik gedoen, ander individueel. Terwyl die kibboets vroeër ʼn leefwêreld en ‘n leefwyse was, is dit deesdae meer en meer ʼn leefstylkeuse.

Daar is sowel raakpunte asook verskille tussen die kibboetse en Orania. Albei word gedryf deur idealisme en nasionalisme, is gebou op eie arbeid, beklemtoon handewerk en selfvoorsiening. Die sosialistiese en kollektivistiese aard van die kibboetse is egter vir die Afrikaner heeltemal vreemd. Om saam in een groot kommune te bly, saam te eet en saam te ontspan en om geen of baie min privaatbesit te hê, sal nooit vir die Afrikaner, wat baie sterk individualisties en privaat ingestel is, aantreklik wees nie. Orania kan nie funksioneer as almal net vir homself werk en lewe nie, maar ook nie as almal saamgedwing word en nie ruimte vir private uitlewing en ontwikkeling kry nie. ʼn Gemeenskap leef van deelname, en baie is al vermag deur gemeenskapsbetrokkenheid. Dit is egter heeltemal iets anders as die sosialistiese gelykheidsdenke. Nog ʼn belangrike verskil is dat Orania nie sekulêr is nie, maar Christelik gefundeer. 

Wees waterslim

Hier op Orania is ons bevoorreg om goed versorg te wees as dit by water kom, maar dit gee ons nie die reg om dit te mors nie. Dit kan selfs skade aan ons tuine doen as dit nie reg benut word nie. Hier is ’n paar belangrike punte.

 

Gee minder dikwels water, maar vir langer: As net die grondoppervlakte water kry, word plantwortels gedwing om opwaarts te groei om water te vind en hulle anker hulself sodoende nie behoorlik in die grond vas nie en mag selfs omval. Wanneer die water diep in die grond indring, groei die wortels na onder toe en kom by water dieper in die grond uit. So sal hulle beter oor die weg kom gedurende droogtetye en temperatuuruiterstes.

 

Besproeiingstye moet by die seisoene aangepas wees. Gedurende die somer, gee so vroeg moontlik in die oggend water om die warmste tyd van die dag te vermy. As plante laat in die middag water gegee word, word hulle ‘met nat voete bed toe gestuur’ en dit moedig plantsiektes soos swamsiektes aan. In die winter is die beste tyd tussen 9vm and 1nm sodat plante en grond kan uitdroog voordat dit donker word met gepaardgaande kans van ryp. As plante te vroeg in die oggend water gegee word, kan die water op die plant vries en dit sodoende beskadig.

 

Sit plante met soortgelyke watervereistes bymekaar sodat hulle die regte hoeveelheid water kry. Net soos plante kan vrek van te min water, kan plante wat min water benodig soos byvoorbeeld vetplante en dié met grys-groen blare soos salie en laventel maklik van te veel water vrek.

 

Plante is waterpompe: as daar min loof op ’n plant is weens siekte of rustyd, kan dit nie die gewone hoeveelheid water uit die grond trek nie, so gee spaarsaam water sodat die wortels nie vrot nie.

ʼn Volk staan op. Gister en vandag

Die Helpmekaarbeweging was die eerste georganiseerde opheffingsbeweging na die Tweede Vryheidsoorlog. Dit is gebore uit die Rebellie van 1914 en 1915, toe Afrikaners wat gekant was teen Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog aan die kant van Brittanje en teen Duitsland, deur middel van gewapende protes hulle misnoeë daarmee gewys het. Die rebellie is vinnig onderdruk deur die regering van Louis Botha. Die rebelle is in die tronk gesit en daar is groot skadevergoedingseise teen hulle ingestel. Die rebelle se vroue moes alleen die pot aan die kook hou en dit het maar gesukkel. Spontaan het Afrikaners, familie van die rebelle en diegene wat hulle goedgesind was, bymekaar gekom en die Saamwerk-Vereniging op 8 Februarie 1915 op Bethlehem gestig, wat vinnig uitgekring het oor veral die Oranje-Vrystaat en wat die doel gehad het om gesamentlik fondse in te samel om die skuld van die rebelle te betaal. Die naam is spoedig verander na die Helpmekaarvereniging. Op bykans elke dorp is takke gestig wat aan die werk gespring het. Die beweging het landswyd uitgekring. Met die beperkte middels van daardie tyd is koeksisters en ander goed gebak, klere gemaak en verkoop asook groot fondsinsamelings gehou. Vroue het veral die leiding geneem en daar was ʼn gees van samewerking en ondersteuning vir ʼn groter doel. Die sukses was oorweldigend en die skuld van die rebelle kon nie net ten volle afbetaal word nie, daar was ʼn groot oorskot. Die beweging het op ʼn groter en meer algemene doel besluit, naamlik om die vraagstuk van arm Afrikaners (armblankes in die taal van die tyd, maar dit was hoofsaaklik Afrikaners) aan te spreek. Die NG Kerk het die leiding geneem en dit het uitgeloop op die Volkskongres oor die Armblankevraagstuk wat op 22 November 1916 in Cradock gehou is, waar die saak behoorlik ondersoek en bespreek is.

Die Ekonomiese Volkskongres het ʼn geweldige katalisator geword vir Afrikaner bemagtigingsinisiatiewe op talle terreine: die stigting van eie finansiële instellings en handelshuise, die stig van landbounedersettings vir arm Afrikaners soos Kakamas, bemagtiging deur opleiding, uitbou van ‘n eie Afrikaanse media (by name die Burger). EP du Plessis beskryf dit raak in sy boek “ʼn Volks staan op”(p.48): “Miskien van groter belang nog as die onmiddelike noodlening wat die Helpmekaar-insameling bewerkstellig het, was die geweldige sielkundige uitwerking daarvan. Opeens het Afrikaner besef dat, betreklik arm soos hy is, daar tog ʼn kapitaal-in-verstrooiing in hom opgesluit lê wat hom kon en moes help om sy ekonomiese voete te vind – mits die geld doeltreffend gemobiliseer kon word.”

Die Helpmekaarbeweging en dit wat daarop gevolg het, was egter nie genoeg nie. Veral in die 1930’s, met die Groot Depressie, het Afrikaners weer verarm, erger nog as tevore. JD Kestell het met ʼn reeks artikels in die Volksblad in 1932 die aandag daarop probeer vestig. Die volk was egter nog nie gereed nie, maar ʼn saadjie is geplant. Met die grondsteenligging van die Voortrekkermonument in 1938 was die volk grootliks verenig en Vader Kestell se pleit het nou op vrugbare grond geval. Weer is ʼn rigtinggewende kongres gehou met die naam die Eerste Ekonomiese Volkskongres, van 3-5 Oktober 1939 in Bloemfontein, waar Vader Kestell een van die sprekers was. Die kongres was baie groter en baie meer omvattend as die armblanke-konres van 1916 en het ʼn veel wyer impak gehad. Die klem was nou nie meer in die eerste plek op liefdadigheid en opheffing nie, maar op die mobilisering van Afrikanerkapitaal en ʼn volkseie kapitalisme tot voordeel van die volk as geheel. Die Volkskongres het uitgeloop op die stigting van die Reddingsdaadbond, ʼn volksorganisasie met ʼn Christelik-nasionale grondslag en die doel om Afrikaners se spaarkrag, koopkrag en mensevermoë te mobiliseer tot voordeel van die volk. Die Reddingsdaadbond het die leuse gehad: ʼn Volk red homself. Die Afrikaanse Handelsinstituut en Federale Volksbelegging is ook daarna gestig met die doel om Afrikaners op die saketerrein te bemagtig. Dit het ook uitgeloop op die stigting van groot maatskappye soos Foskor en Sasol in 1950.

Na 1948 het toenemend die staat en die staatsmaatskappye die funksie van noodverlening, opheffing en werkverskaffing vervul. Dit was baie doeltreffend en het van die Afrikaner ʼn gemoderniseerde middelklasmens gemaak, maar dit het die gees van interafhanklikheid, van saamstaan en saamwerk laat vervaag en uiteindelik tot die roemlose oorgawe van 1994 gelei.

Sedertdien het individuele oorlewing die wagwoord geword deur te verengels, te globaliseer of te emigreer en kollektiewe pogings tot ekonomiese bemagtiging het so vêr nog nie werklik momentum gekry nie. Daar is wel bemoedigende pogings, soos die talle aksies van Afriforum en Solidariteit, en natuurlik die Orania-projek, wat waarskynlik meer omvattend is as enige ander projek in die sin dat die volledige bemagtiging van die Afrikaner (al is die getalle nog klein) hier geskied, nie net ekonomies nie, maar ook geestelik en kultureel. Genoeg geld, maar ʼn verlore siel en of ʼn gebroke gees help ook niks nie. Ook hier kan ons sê, om die woorde van EP du Plessis soos bo aangehaal op vandag van toepassing te maak: belangriker as die fisiese hulpverlening aan Afrikaners in die vorm van werk, behuising en maatskaplike dienste is die sielkundige uitwerking van Orania. Meteens besef Afrikaners dat ons wel ons self kan ophef en ons eie toekoms sonder beheer oor die staat kan skep. Die Reddingsdaadbond se leuse is vandag nog net so geldig: “ʼn Volk red homself”.

 

Bronne:

EP du Plessis: ʼn Volk staan op. Die Ekonomiese Volkskongres en daarna. Human en Roussouw, Kaapstad, 1964.

Dr. Dirk Hermann: Van Helpmekaar tot Helpmekaar. Referaat gelewer tydens die Burgerraad van die Orania Beweging, 30 September 2016.

Skakerings van Groen 6 Die seester

 

Tensy ons wil hê dat ons kinders eendag op ’n reusagtige ashoop woon, moet ons ons deel doen en herwin waar ons kan. Ons mag wel nie kan verander hoe die mensdom lewe nie, maar ons kan wel verander hoe dinge in ons eie huishoudings gebeur.

’n Ou man stap op die strand en kom op ’n jong seun af wat besig is om gestrande seesterre terug in die see te gooi. Die ou man bekyk die spul so ’n rukkie en vra dan vir die seun: ‘Hoekom mors jy jou tyd, daar is tog so baie van hulle, hoe kan jy ooit ’n verskil maak?’ Die seun tel nog ’n seester op en met die gooi sê hy: ‘Ek maak ’n verskil aan hierdie een’.

Met die gedagte dat so min van ons hulpbronne as moontlik ons perseel behoort te verlaat, hier is wat om met hulle te doen ter voorbereiding van jou kostuin:

 

  • Metaal: blikkies, spykers en ander skrootmetaal: vir die bodem van die groentetuin beddings.
  • Nie-glans koerantpapier en karton: bo-op die gras wat jy wil omskep in ‘n groentetuin en vir die komposhoop.
  • Jogurt- en margarienhouers en plastiekbottels: sit dreineringsgate in en gebruik hulle om saailinge te groei.
  • Hout: verbrand stompe en takke en sit die as op die komposhoop
  • Ongekookte kombuis vrugte – en groenteafval, eierdoppe, koffiemoer en teeblare: vir die komposhoop of klein gesny as deklaag
  • Met ‘n wurmdrom kan jy gekookte kos, nie geskik vir die komposhoop nie, herwin. Jou erdwurms sal doodgelukkig hul pad deur jou muwwe brood, yskas kosoorblyfsels en selfs gisteraand se pizza eet. Hulle verwerk tot hulle eie liggaamsgewig in een dag!

 

Op my kombuistoonbank het ek twee bakke: een vir die komposhoop en een vir die voëltafeltjie en wurmdrom. Drie groot emmers staan daaronder gereed vir herwinbare vullis saam met ’n klein asblikkie – al wat nodig is vir dit wat oorbly.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel