Orania se ekonomiese model en die e-Ora

(Hierdie artikel het oorspronklik in Mei 2016 verskyn en word weens die debat oor die e-Ora en oor Orania se ekonomie met enkele toevoegings weer geplaas).

Talle besoekers aan Orania (en waarskynlik nog meer mense wat Orania nog nie besoek het nie) het die persepsie dat Orania volgens een of ander sosialistiese model bestuur word, omdat ons sê dat ons ‘n gemeenskap is.

Die persepsie is byvoorbeeld dat jy grond nie kan koop nie en dit nie jou eiendom is nie, maar dat jy net ‘n lewensreg het en dit ook nie mag verkoop nie, behalwe aan die maatskappy en sonder wins. Verder is die persepsie dat die dorp se inkomste uit die gemeenskaplike boerdery kom en die inwoners se inkomste na die bestuur toe gaan wat dit dan gebruik vir ontwikkeling en om almal se salarisse te betaal.

Daar is blykbaar ‘n probleem om die idee van privaatbesit en privaatinisiatief met die idee van ‘n gemeenskaplike strewe te versoen. Privaat word gekoppel aan individualisme, en gemeenskap aan sosialisme. Verder is dit blykbaar ook moeilik om te verstaan dat ontwikkeling en voorspoed nie soseer kom uit ‘n maatskappy of bestuur wat alles beheer nie, maar uit verskillende privaatinisiatiewe. “Maar hoe verdien die dorp dan sy inkomste as die landbougrond aan privaatpersone behoort?” word dikwels gevra.

Orania funksioneer met die beginsel van die vrye mark, maar met die gemeenskap as die basis en vryheid vir die Afrikaner as ideaal. Dit is ‘n soort derde weg tussen sosialistiese staatsbeheer aan die een kant, en liberale individualisme aan die ander kant. Sowel die alles beherende staat asook die individualisme kalwe gemeenskappe uit, dus moet ons nie te veel van die een of die ander een hê nie. Ons soek egter groei en ontwikkeling, en dit is oor en oor bewys dat owerheidsinmenging groei eerder belemmer as bevorder en dat die owerheid hoogstens ‘n rol moet speel as inisieerder van ontwikkeling en dan moet onttrek en die bestuur aan ander moet oorlaat.

Dit is nie toevallig dat Libertariërs nogal ‘n groot mate van aanklank by Orania vind, nie so seer oor die ideaal nie, maar oor die praktyk van ‘n gemeenskap met die minimum staatsinmenging. Omdat die staatsfunksie in Orania grootliks afwesig is, word ‘n groot mate daarvan deur Orania-instellings gedoen. Die Dorpsraad, wat dikwels as die regering van Orania beskou word, beperk homself grootliks tot die pligte van ‘n munisipaliteit, naamlik dienslewering. Die Dorpsraad het wel ‘n soort “belasting” tot sy beskikking deur middel van heffings. Die Orania Beweging word befonds uit vrywillige bydrae van lede en ondersteuners. Sekere “staatsfunksies” soos die daarstelling en onderhoud van infrastruktuur, die handhawing van orde, geskilbeslegting, maatskaplike hulp en voorsiening van maatskaplike behuising word deur die Dorpsraad of die Orania Beweging bestuur en befonds. Daar is sowel betaalde amptenare asook vrywilligers wat daarmee gemoeid is.

Die verskaffing van werk, lewering van produkte en dienste word feitlik heeltemal aan die privaatsektor oorgelaat. Die ekonomie is markgerig en vry, en die owerheid meng selde daarby in. In die beginjare van Orania was die ekonomie gereguleer deur ‘n permitstelsel wat slegs een besigheid van ‘n soort toegelaat het. Dit het egter nie gewerk nie en gelei tot bevoordeling van sekere mense en ontevredenheid by ander en is daarom vervang deur die huidige stelsel van vrye kompetisie. Dit is werklik betreklik maklik om ‘n besigheid in Orania oop te maak, dit is slegs die markkragte wat jou sukses bepaal. Daar is egter ‘n hele paar markkragte wat in ag geneem moet word voor ‘n mens ‘n besigheid begin. Die kompeterende voordele van Orania is die gemak waarmee ‘n besigheid oopgemaak kan word, relatief lae huur, goeie veiligheid en goeie werkende infrastruktuur asook ‘n betroubare en nie-korrupte plaaslike bestuur. Die nadele is dat Orania ver van die markte is sowel vir in- as uitvoer, dat die plaaslike mark klein en in talle opsigte oorbedien is en dat die aanbod aan geskikte personeel nie altyd volop is nie. Die Tegniese Sentrum en ander onderwysinstellings in die toekoms sal laasgenoemde toedrag van sake egter aanspreek, en met meer inwoners is daar ook meer geleenthede.

Die basis van die ekonomiese model is dat hier geleenthede geskep moet word om ‘n gesonde gemeenskap te bou, maar dat van die enkeling verwag word om die geleenthede aan te gryp en om nie met die lepel gevoer te wil word nie. Sterk individue vorm sterk gesinne en families en bou sodoende ‘n sterk gemeenskap.

Groot opgewondenheid heers oor die vooruitsigte van ʼn elektroniese Ora. Die Ora as fisiese ruilmiddel word al vir sowat 15 jaar gebruik (parallel met die Rand) en dit werk goed, alhoewel die volle potensiaal nog nie bereik is nie. Soos meer en meer mense deesdae elektronies betaal, sal ʼn elektroniese Ora ook ʼn logiese volgende stap wees wat die ekonomie baie vinniger laat groei. Die tegnologie is in die vorm van selfoonaanwendings reeds beskikbaar en ʼn gemeenskap soos Orania, waar mense mekaar ken en mekaar vertrou, is die ideale terrein vir ʼn plaaslike (elektroniese) geldeenheid. Tyd word gespaar deurdat ʼn mens nie meer bank hoef toe te gaan nie, geld word gespaar deur geen transaksiekoste meer nie. Die geleenthede vorentoe is geweldig en die moontlikheid bestaan self om die Ora eendag van die Rand te ontkoppel.

Die ATKV en die Orania Beweging – koersloos voortslinger, of aanpas om koers te hou?

Feitlik alle Afrikanerorganisasies het oor die jare by die veranderende omstandighede aangepas. Party het aangepas om hulle doelwitte onder ander omstandighede te kan bly nastreef (die FAK, Voortrekkers, Solidariteit), ander het aangepas om hulle organisasie te red en daarby amper onherkenbaar verander (hier sou ek die Afrikanerbond of die AHI noem), weer ander het aangepas om te verdwyn, soos die NP. Party het glad nie aangepas nie en irrelevant geword, soos die HNP.

Lede van ʼn Afrikanerorganisasie is buigbaar genoeg om te besef dat ʼn organisasie die veranderende tydsomstandighede moet verreken en sekere aanpassings moet maak. Hulle is egter ook slim genoeg om die verskil tussen aanpassing om te oorleef en aanpassing tot irrelevansie of verandering ter wille van verandering te sien, en daarom verlaat lede sekere organisasies en bly getrou aan ander. Mense, ook Afrikaners, is bereid om veranderings te aanvaar mits dit wat vir hulle kosbaar is nog herkenbaar is. Daar kom egter ʼn punt waar ʼn organisasie of ʼn handelsmerk wat jy ondersteun, so drasties verander het dat jy niks daarvan wat jy waardeer meer herken nie.

Die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging) is oorspronklik deur Henning Klopper, ʼn voorste kultuurleier onder Afrikaners, in 1930 gestig, met die doel om ʼn kultuurorganisasie vir Afrikaner spoorwegwerkers te begin, in ʼn tyd waar die Engelse taal en die Engelse kultuur in Suid-Afrika alles oorheersend was. Die ATKV het sterk gegroei en oor die jare al geweldig aangepas. Die vakansieoorde is vir meeste lede waarskynlik ʼn groter motivering om aan te sluit as die ledetydkskrif “Taalgenoot” en redenaarskompetisies. Nietemin, die ATKV roem daarop dat hulle nog steeds staan vir die bevordering van Afrikaans. Nou wil die nuwe uitvoerende bestuurder, Deidre le Hanie die ATKV deur die “Afrikaans plus” inisiatief meer inklusief maak deur na ander tale uit te reik en bruë te bou, aldus hulle eie werwing. Dit mag ʼn klein aanpassing wees, maar die ATKV, en talle ander organisasies wie se ruggraat Afrikaners is, vergeet blykbaar hoe hulle lede voel (sien goeie artikels oor die onderwerp van Eugene Brink en Herman Toerien op Maroela Media).

Afrikaners het vir jare aangepas en radikale veranderinge meegemaak ter wille van akkommodering van ander volke, ter wille van oorlewing ensovoorts, maar die laaste tyd is daar al hoe meer ʼn gees van “genoeg is genoeg” te bespeur. Dit is asof die toegewings en aanpassings wat Afrikaners maak nie waardeer word nie, in teendeel, dat vir die hand wat hulle uitsteek die hele lyf geëis word. Die hewige reaksie oor die eensydige skuldigbevinding van ʼn wit persoon in die Spur-onderonsie behoort vir almal wat in ʼn groot mate op Afrikaner-kliente of ondersteuners staat maak te wys dat dit nie nou die tyd vir nog verdere toegewings en verdere wegbeweeg van jou kerngroep is nie. Daarom, as jy ʼn nis beset het en daar suksesvol is, wees dan baie versigtig om nie jou plek daar te verloor nie, anders vul iemand anders daardie leemte.

Die ATKV se tydsberekening is swak en kom op ʼn tyd waar die laaste bastions van Afrikaans val en waar Afrikaners allermins voel dit is nou tyd om na “die ander” uit te reik deur meer van jou taal en kultuur op te gee. Ons mense het nou al te veel kere praatjies gehoor dat “Afrikaans nie weggeneem word nie, daar word net ander tale bygevoeg”, byvoorbeeld by die voorheen Afrikaanse Universiteite. Mev. Le Hanie verstaan moontlik nie daardie gevoel nie, want sy het groot geword in ʼn tyd waar Afrikaners (en ander blankes) alles gehad het en uit ʼn posisie van mag soms eerlik bedoel, soms om hulle gewisse te sus, na die minder bevoorregtes soos hulle bediendes uitgereik het. Dit is egter die een ding om uit jou oorvloed te gee, en die ander een om ʼn organisasie se rigting te verander sonder om jou lede te raadpleeg, veral in ʼn tyd waar die “voorheen bevoorregtes” self aan die agterspeen suig.

Die Orania Beweging het sedert sy stigting in 1988 deur prof. Carel Boshoff as Afrikaner-Vryheidstigting ook verskeie aanpassings gemaak. Die retoriek en die debatte is nie meer dieselfde as in die 1990’s nie, die naam en kenteken is aangepas, die voorkoms van die kantoor is verander, pleks van ʼn uitgestrekte landelike staat word eerder (ten minste vir nou) ʼn kompakte Afrikanerstad met sy landelike omgewing gebou. Dit was en is alles veranderings met die doel om jou ideaal en strewe beter te kan bevorder en om relevant te kan bly. Die doel en strewe van die Orania Beweging is nog steeds Afrikaner-vryheid in ʼn eie territoriale gebied, gebou op Christelike waardes en eie arbeid. Daarom groei die Orania Beweging se ledegetal en word ons meer en meer gereken. Sou ons egter nou besluit om dit waarvoor ons sedert die stigting staan en waarvoor ons lede ons ondersteun, vaarwel te roep en ons te herloods as “inklusiewe organisasie met die doel om ʼn beter Suid-Afrika vir almal te bou”, dan sou ons groot getalle ondersteuners verloor, sonder om nuwes te wen. Wie wil by ʼn ongeloofwaardige organisasie wat kort-kort sy rigting verander, aansluit? As die vertroue eers gebreek is, help gewoonlik geen verskoning en geen terug roei nie. Omdat die Orania Beweging ʼn alternatief tot die eenheidstaat Suid-Afrika skep, hoef ons nie oor elke verandering in windrigting bont te spring nie, maar kan koers hou. As ons uitreik, dan op ʼn basis van gelykheid en as een gemeenskap teenoor ʼn ander, nie as “bevoorregtes” teenoor “minder bevoorregtes” nie. Ons “minder bevoorregtes” is in elk geval ons mede-Afrikaners.

(Fotokrediet: www.atkv.org.za)

Om ‘n boom te plant

In die nagtelike ure voor die aanbreek van ’n nuwe week het ek, miskien deur ’n mate van moedeloosheid gedryf, besluit om weer die Gedagtes van ‘n gewone man te hervat. Nie dat ek ooit besluit het om dit te onderbreek nie, dit is asof die wintervakansie wat ek nie geneem het nie sigself as’t ware op dié manier op my gewreek het. Ten minste in één opsig was dit dus asof ek op die soort wekelange jagtog was waarvan ek onlangs in Eugene Marais se lewensverhaal gelees het.

Dit is ook nie om dowe neute dat ek na Leon Rossouw se Die groot verlange verwys nie; een van daardie boeke wat mens altyd alreeds moes gelees het, maar by my tot nou agterweë gebly het. Maar wat ’n wonderlike ervaring! Wat ’n vreugde om te besef watse skatte daar vir opkomende geslagte in ons literatuur opgesluit lê. En dat verwys ek nog nie eers na Marais se eie werke, soos Die siel van die mier en The Soul of the Ape wat ek darem as hoërskoolkind gelees het nie.

Die rede hoekom ek na Marais verwys (en eintlik moet ek Henriette Roland Holst-Van der Schalk se Jean Jacques Rousseau: Een beeld van zijn leven en werken wat ek terseldertyd gelees het, hierby noem), is dat so ’n geestelike nabyheid aan twee besonder ongewone figure ‘n gewone man se gewone gedagtes ‘n bietjie in die war stuur.

Nie dat baie gewone dinge nie bly gebeur het nie: in my gedagtes het ek rubrieke begin bewoord oor ’n heerlike ontbyt met ’n eerste besoeker aan Orania; oor my gewaarwording toe ek onlangs in Bloemfontein se middestad die geur van ’n gebrande mielieland kry en besef dat ek langs die stadsaal verby ry; oor ’n kostelike stap vorentoe in my stokperdjie van boekbindery; oor dr Danie Langner se wonderlike, plat op die aarde onderskeid tussen kulturele bywoners en eienaars by die opening van die Voortrekkers se kongres.

Dinge wat ’n gewone man kan laat dink, het dus nie opgehou gebeur nie. Wat opgehou gebeur het, is dat ek dit opskryf en soos brood op die water werp met die gerusstellende wete dat niemand dit juis gaan lees nie.

Een verklaring vir my afwesigheid van Orania se blogblaaie is dus dalk dat ek vir ’n paar weke goed genoeg geslaap het om nie tyd te kry vir skryf nie, want sulke geskrifte kom nie in die geroesemoes van gewone ’n werksdag na vore nie. Nog ’n verklaring is dat mens van jou beste ure weglees – iets waarsonder jy natuurlik niks van betekenis kan skryf nie, maar waarby jy die risiko loop om só verdwerg te voel deur groot geeste dat dit jou eie stem stil maak.

Nou lê die tweede helfte van die jaar voor, die deel waar dinge begin vinnig gaan. Jaarvergaderings, Taalweek, gedenklesings, Hervormingsondag, en dan moes jy al jou wingerd en rose gesnoei het. Elke week is te kort en die naweek nog meer so. As ons weer sien, begin die jaareindfunksies. Maar laat ek dit nie vooruit loop nie, daar is darem nog tyd om dinge te doen.

My pa het dikwels vermoeid uit ’n vergadering gekom en gesê: “Ek kon eerder ’n boom geplant het”. Nou is dit amper boomplanttyd en as dit vir Martin Luther ’n geloofsdaad sou wees, is dit in Orania ’n politieke daad. Dit sê dat ons hier wortel skiet. Maar van bome plant alleen sal ons ook nie vry word nie; sonder om ons sienings en strewes te verwoord, gaan dit ander verby sonder om iets ten goede te verander. Stel jou voor Luther het ’n boom geplant sonder om sy 95 stellings neer te pen …

Bome plant, boeke lees, rubrieke skryf, vergaderings hou, gaste ontvang, en al die res. Orania hou nooit op nie – dankie tog daarvoor!

Opgeskote Tuinwerkers

 

As jy soos ek nie juis opgewonde raak oor die vooruitsig van ’n Saterdagmiddag se grond gaan losmaak in die tuin, stel ek jou aan jou nuwe tuinwerker voor: Die erdwurm. As jy ’n goeie tuiste vir hom skep, gaan hy jou grond los, deurlug, bemes, waterhoudend en goed gestruktuureerd hou. Erdwurms hou van klam grond vry van chemiese plaagmiddels met molm op.

 

Op ons stukkie land het ons met aansienlike grou tot sover nog net op omtrent tien erdwurms afgekom. Op ’n erdwurmsoektog by ’n kollega het ek toe nog 5 bygekry, wat ek sorgvuldig in my tonnelbed begrawe het. Hopelik sal die getalle gou aangroei. In ons erdwurmplaas het ons wel baie ‘red wrigglers’, maar dis ’n soort ingevoerde erdwurm wat nie goed deug nie vir tuinbeddens nie.

 

Erdwurms eet organiese materiaal en help dat dit so vinniger in die grond afbreek. Hulle mis is waardevolle plantvoedsel en soos wat hulle afsterf, voed hulle die grond ook. Hulle kanaaltjies in die grond laat lug en water in en wortels kan so ook makliker versprei. Minder algemene kennis is dat erdwurms ‘n gommerige stof afkei wat gronddeeltjies bymekaar hou. Dit is baie belangrik omdat dit wind – en water gronderosie help verminder.

 

Ons wurmplase voorsien ons met erdwurmkompos wat ek gereeld in die grond inwerk en wurmtee, my vloeibare misstof en blaarvoeding vir my groente. Ek is op die oomblik besig met ’n eksperiment met my wurmdromme. My wurmboeke sê dat my red wrigglers glad nie minustemperature sal verdra nie, maar klaarblyklik is dit nie so nie. My dromme staan in my tonnel met ’n kombers (- ‘n regte ene!) – bo oor gegooi en ofskoon ek een oggend laas week eers deur die gevriesde boonste lagie grond moes kap, was hulle daaronder nog heel lewendig en op en wakker daarby. Ek sal julle op hoogte van sake hou.

 

Hoekom kan Orania nie alle arm Afrikaners help nie?

Die behoefte onder ons mense is groot en daagliks kry ons versoeke van Afrikaners wat vra oor werk en behuising in Orania. Daar is ‘n verskil tussen iemand wat na Orania toe trek oor die ideaal en wat probeer uitvind watter werk daar is en watter eiendomme te huur of te koop is, wat vir enige verhuising ‘n voorvereiste is, en mense wat iewers gehoor het dat Orania arm Afrikaners help en wat wil kom met die verwagting dat Orania ‘n welsynsdorp is waar jy van toelaes en in gratis woonstelle kan bly.

Ten eerste is ons fondse heeltemal te min om groot getalle Afrikaners deur middel van welsyn te help. Dink aan die reuse bedrae wat elke maand in staatspensioene uitbetaal word (wat nie eers lewensvatbaar is nie), en jy kry ‘n idee. Orania kan nie ‘n halfmiljoen behoeftige Afrikaners onderhou nie, nie eers 10 000 of ‘n duisend nie. Wat is dan die doel van Orania, sal mense vra, as julle nie iets kan doen aan die volk se ellende nie? Is dit dan net vir rykes?

Daarop kan ons tweeledig antwoord: ons help arm Afrikaners wel en op verskillende vlakke. Gousblom Ontwikkeling subsideer behuising deur woonstelle en huise onder markwaarde te verhuur wat R150 000 per maand kos. Daar is nog nuwe behuisingsskemas in beplanning. Bydraes word ook uit Orania instellings gemaak vir die maatskaplike werker, vir die kliniek, vir Oramed. Daar is ook private hulpinstellings en die kerke wat ook op talle terreine help. Die doel is daarby om mense op die been te help. Die belangrikste hulp vir arm Afrikaners word egter deur die vrye mark beskikbaar gestel en nie deur instansies nie, naamlik werk. Omdat hier ʼn beleid van volkseie arbeid geld, en omdat ekonomiese groei en ondernemerskap aangemoedig word, deur goeie administrasie, deur die Ora, deur lokalisme, deur lojale kliente, is daar altyd iewers werk en het ons geen werkloosheid nie.

Wat ons egter nie doen nie, is om mense se armoede te subsidieer. Hier is geen maandelikse toelaes vir arm gesinne nie, en ook geen gratis behuising nie. In die eerste plek het ons nie nog meer geld vir maatskaplike uitgawes nie, maar selfs al het ons onbeperkte fondse, sou dit verkeerd wees om welsynstoelae uit te deel. Dit is al so dikwels bewys: as jy iets subsidieer, kry jy meer daarvan. Wil jy werkloosheid of armoede subsidieer? Beslis nie. Daarom moet ons ook sê: niemand baat daarby as ons wit plakkerskampe Orania toe skuif nie. Ons kan nie onbeperk arm Afrikaners help nie, selfs al bloei ons hart vir hulle, want as hier later net nog armes is, wie moet vir hulle werk gee, wie moet hulle ophef, materieel en kultureel en geestelik? Dat daardie stelsel nie werk nie sien ons juis in die ANC-beheerde Suid-Afrika. Miljarde toelaes kon nog nie armoede oplos nie, in teendeel, die armes word net meer en meer. As ons Orania omring met wit plakkerskampe, sal dan enigiets anders wees as in ander dorpe net omdat hulle wit is?

Ons wens ons het ʼn resep om Afrikanerarmoede en ellende as geheel aan te spreek. Wat ons wel het, is ʼn resep om Afrikaners wat gewillig is, maar weens omstandighede buite hulle beheer uitgesak het, weer op te tel sodat hulle weer hulle selfrespek kan herwin en weer ander kan help.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel