14 Augustus is Taaldag. Op die dag in 1870 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in Paarl gestig. Hulle het hulle daarvoor beywer dat Afrikaans, toe nog ʼn nie-erkende en nie-gestandaardiseerde dialek, amptelik erkenning sou kry en Nederlands sou vervang. Die stryd is eers in die 20ste eeu gewen. Die saadjie wat die GRA geplant het, het ʼn groot boom geword, met Afrikaans wat ʼn volwaardige taal op elke terrein geword het: die akademie, die kunste, die literatuur, die wetenskap, die ekonomie, die populêre sowel as die hoogkultuur. Dit het ook aan die “Hollanders” in Suid-Afrika ʼn unieke identiteit en trots as Afrikaners, ware inheemse mense van Afrika, gegee. Daar kan ook geargumenteer word dat die suksesvolle modernisering van die Afrikaner in die 20ste eeu nie moontlik sou gewees het sonder die ontwikkeling van die taal wat hulle gepraat het nie. Dit is iets om op trots te wees en iets wat verdedig moet word. Daarom is ons met reg trots op Afrikaans en vier dit ook in Orania. Ook die strewe van Orania is onlosmaaklik verbind aan die bewaring en uitbou van Afrikaans.
Verlede week, beginnend met 14 Augustus, was Taalweek. Dit het afgeskop op Taaldag self met ʼn videovertoning oor die lewe van Jan Pohl, bekende Afrikaanse digter, musikant en liedjieskrywer, wat in Orania begrawe is. Hy het ook die musiek vir 8 Afrikaanse flieks geskryf, en was ook ʼn akteur.
Dinsdag, 15 Augustus was daar ʼn filmvertoning van “Kom saam vanaand”, ʼn ou klassieke Afrikaanse fliek van 1949 en die eerste Afrikaanse musiekblyspel wat verfilm is. Dit was ʼn nostalgiese terugkyk op ʼn tyd waar Afrikaans aan die opbloei was en waar Afrikaners die hele spektrum van uitvoerende kunste verteenwoordig het. Pierre de Wet, Hendrik Susan, Nico Carstens, Al Debbo wat in “Kom saam vanaand” opgetree het, is name wat vandag nog bekend is.
Woensdag 16 Augustus is daar ʼn gesellige samesang van FAK-liedjies by Stokkiesdraai Park in snerpende koue gehou. Pieter Krige was die sanger en kitaarspeler.
Donderdag 17 Augustus was by Plaaswerf Bakkery ʼn keurige uitvoering van gedigte oor die liefde. Orania-digteres Stefnie Muller het op aangrypende wyse haar eie gedigte voorgedra, altyd afgewissel deur ʼn sang- en kitaaruitvoering van Carel Boshoff jnr., eweneens van liefdesgedigte wat hy self geskryf het. Die kulturele genot is aangevul deur lekker pizza en wyn.
Vrydag 18 Augustus was daar ʼn toneelopvoering van “Die storie van Helen Martin”, geskryf deur die Oraniër Roelien de Klerk, by Skinki Kofe restourant. Daar was skaars genoeg plek vir al die belangstellendes, en die kunsgenot is aangevul deur Glühwein en biltong.
Saterdag 19 Augustus was daar die Kultuurskataand, aangebied deur Celeste van Niekerk, by die Gemeenskapsaal, met voordrag van gedigte, volkspele en sangitems deur die koor. Die uitvoerings is ook beoordeel.
Sondag 20 Augustus is pragtige klaviermusiek en sang in die pragtuin van Carel en Anje Boshoff by die geskiedkundige plaasopstal van Vluytjeskraal vertoon. Besoekers kon sommer hulle piekniekkombers en – mandjie bring en peusel terwyl hulle die musiek geniet het.
Die taal word in Orania gekoester, maar dit is nie genoeg as dit net hier gebeur nie. Gelukkig beleef ons veral op die terrein van die kunste ʼn herlewing van Afrikaans. Dink maar aan die musiekbedryf, kunstefeeste, aan Skouspel en Afrikaans is Groot, aan die groeiende filmbedryf, aan ʼn gevestigde Afrikaanse literatuur wat steeds gevoed word deur talle nuwe skrywers en digters.
Ons kan egter nie tevrede wees met die herlewing net op die terrein van die kunste nie. Afrikaans moet nie beperk word tot die kunste nie, terwyl dit verwyder word as taal van opleiding, wetenskap en besigheid nie, soos wat tans die geval is. Klein tale soos Bretons, Oksetaan, Gaelies, Wallies, Frissies, Sorbies, Tamasjek, ensovoorts het almal hulle kunstefeeste maar het hulle universele status verloor of nooit bereik nie. Universeel beteken nie dat dit ʼn wêreldtaal is nie, maar dat jy alles in die taal kan doen binne jou volksverband. Afrikaans was so ʼn taal gewees, en in Orania is dit weer so ʼn taal. Hier word letterlik alles in Afrikaans gedoen, nie net kultuur nie, maar ook werk, besigheid, opvoeding ensovoorts.
Hoe laat dit my nou terugdink aan my laerskooldae, toe ons vir ‘n hele week in Augustus 1975 Taalfees gevier het. Dit was ook die inhuldiging van die Taalmonument in die Paarl, en ek het in die skoolkonsert die rol van ‘n fakkel vertolk. Ongelukkig leer ons kinders nie meer ons trotste taalgeskiedenis nie en word dit verguis as die taal van die onderdrukker.