Die woord kibboets word dikwels genoem in die verband met Orania. Dit is nie verbasend nie, want Orania en die Afrikaner-Vryheidstigting het telkens Israel as voorbeeld en inspirasie vir die totstandkoming van ʼn Afrikaner-volkstaat geneem. Golda Maïr, Theodor Herzl, David Ben-Goerion, Moshe Dayan, die Balfour-verklaring, vlug van vervolging en van vooraf weer opbou is alles dikwels genoem in gesprekke in veral die begintydperk van die Volkstaatstrewe. Die kibboets is gebruik as model vir die ontwikkeling van ʼn volkstaat, wat in die 1990’s nog hoofsaaklik op landbou gegrond was en aansienlik verskil het van die huidige stadbou-plan. Elim, die tehuis vir werkende jong mans, is ook na verwys as “Afrikaner-kibboets” en menige besoeker het gevra (en vra nog steeds) wat die moontlikheid van landbouontwikkeling in Orania volgens die kibboetsmodel is. ʼn Toer na Israel en natuurlik ook besoeke aan verskeie kibboetse is ook in daardie tyd (die middel 1990’), toe Orania nog in sy kinderskoene was, gereel. ʼn Hele paar Afrikanerjongmense het op kibboetse gewerk.
Omdat Orania ʼn gemeenskap is, word dikwels aanvaar dat die kibboets-idee en Orania perfek bymekaar pas. ʼn Sterk element van idealisme en die skepping van ʼn hele leefwêreld deur eie arbeid op gelyke vlak word sowel aan die kibboets asook aan Orania toegeskryf. Wat is die werklikheid agter die miete kibboets en hoe sien hulle vandag daaruit?
Die kibboets is ʼn kollektiewe landbounedersetting in Israel, waar mense saam woon en werk volgens die sosialistiese lees van deel met mekaar en die afwesigheid van privaateindom. Die kibboets is sterk gesteun deur die sosialistiese Mapai (Arbeidersparty), die party wat Israel gestig het en die eerste drie dekades van die land bepaal het. Hulle leiers, soos Ben-Goerion en Maïr het almal op kibboetse gebly en is daardeur gevorm. Die kibboetse was aanvanklik veral landbougerig, maar het later ook by verwerking betrokke geraak. Die eerste kibboets is reeds in 1909 gestig, lank voor onafhanklikheid van Israel en toe Palestina nog onder Osmaanse beheer was. In daardie tyd was private, individuele ontwikkeling van Palestina glad nie eers ʼn opsie nie en weens die Jode se klein getalle in ʼn vyandige omgewing het die saamgroepeer in nedersettings sin gemaak. Dit was ook meer koste-effektief om saam te ontwikkel en die eerste setlaars was gewoonlik arm. Behalwe vir die gesamentlike harde werk is daar ook saam gekuier en planne gemaak en oor die toekoms gepraat. Die kibboetse het ook ʼn beweging gestig om hulle te verteenwoordig. Die wese van die kibboetse was van die begin af sterk sekulêr, selfs ateïsties van aard. Die verdedigingselement was ook altyd belangrik by die kibboetskonsep en die Israelse weermag was daar betrokke.
Die hoeveelheid kibboetse en die bevolking wat daar gewoon het, het veral tussen die twee wêreldoorloë toegeneem, maar daar was nooit meer as 10% van Israel se Joodse bevolking in kibboetse woonagtig nie. Aanvanklik was feitlik alle kibboetse bewoon deur Asjkenasim Jode, wat uit Europa afkomstig was en ʼn gesamentlike voorkoms en kultuur gedeel het. Na onafhanklikheid in 1948 het die Joodse bevolking meer divers geraak en meer en meer MizrahiJode uit die Midde-Ooste, donkerder van kleur en kultureel meer soos die Arabiere, het bygekom. Daar het onbedoeld ʼn tot dusver onbekende klasseverdeling ontstaan, met die gevestigde Asjkenasim wat werk deur die Mizrahi laat doen het, wat ook tot ʼn verbrokkeling van eenheid op die kibboetse gelei het. Die verdeling was ook polities van aard, met die Asjkenasimwat veral die Arbeidersparty ondersteun het, en die Mizrahi, wat die Likoedparty aangehang het.
Die 1960’s was ʼn tyd van voorspoed en die inkomste van die kibboetse en hulle bewoners het gestyg. Die dae van uitmergelende handewerk in die brandende son van vroeg tot laat was verby. Met die magsverlies van die Arbeidersparty in die 1980’s aan die konserwatiewe Likoedparty het ook die ondersteuning vir die kibboetsstelsel vervaag. Israel het ook meer godsdienstig geraak soos wat ultra-ortodokse Jode se getalle en invloed uitgebrei het en geen regering sonder die steun van ten minste een godsdienstige party tot stand kon kom nie. Na 1990 het die bevolking van en die getalle kibboetse afgeneem en daar is ook meer en meer elemente van privatisering en individualisering ingebring. Israel is vandag ook besonder dig bevolk en verstedelik en die landbougerigte kibboetse is amper ʼn relik uit ʼn ander era. In tye van keusevryheid en materialisme is outarkie, opoffering en gemeenskapaksie vir ʼn groter doel ook nie meer iets wat ʼn sterk appèl op meeste mense het nie. Met Israel wat sy pioniersfase lankal agtergelaat het en hoogs gemoderniseer is, het ook die kibboetse hulle betekenis en sin grootliks verloor.
Onlangs ervaar die kibboetse weer ʼn soort van ʼn herlewing, egter in ʼn ander gedaante. Stadsmoë jappies soek die bekoring van die landelike, meer eenvoudige lewe en trek na die kibboetse toe wat ook voorsiening vir private behuising maak. Sekere dinge word nog gesamentlik gedoen, ander individueel. Terwyl die kibboets vroeër ʼn leefwêreld en ‘n leefwyse was, is dit deesdae meer en meer ʼn leefstylkeuse.
Daar is sowel raakpunte asook verskille tussen die kibboetse en Orania. Albei word gedryf deur idealisme en nasionalisme, is gebou op eie arbeid, beklemtoon handewerk en selfvoorsiening. Die sosialistiese en kollektivistiese aard van die kibboetse is egter vir die Afrikaner heeltemal vreemd. Om saam in een groot kommune te bly, saam te eet en saam te ontspan en om geen of baie min privaatbesit te hê, sal nooit vir die Afrikaner, wat baie sterk individualisties en privaat ingestel is, aantreklik wees nie. Orania kan nie funksioneer as almal net vir homself werk en lewe nie, maar ook nie as almal saamgedwing word en nie ruimte vir private uitlewing en ontwikkeling kry nie. ʼn Gemeenskap leef van deelname, en baie is al vermag deur gemeenskapsbetrokkenheid. Dit is egter heeltemal iets anders as die sosialistiese gelykheidsdenke. Nog ʼn belangrike verskil is dat Orania nie sekulêr is nie, maar Christelik gefundeer.
wel kibbouts is dalk die oplosing vir ons plaas moorde en aan valle om meer huise by mekaar te bou dat daar altyd mense op die plaas is wat mekaar kan beskerm
Dankie vir hierdie artikel Sebastiaan. Dit is my beskeie mening dat daar wel ruimte vir Afrikaner kibbutzim in ander streke bestaan. Wat belangrik is, is na mening dat die blanke en verdrukde Afrikaner, veral op laagste grondvlak en die verarmende “middelklas”, heenkome op “kibbutz” projekte gegun word. Hiervoor is grond, beleggers en deelname brood nodig. Daar is tans enkele Afrikaner “kommunes” soos Kleinfontein, Kleinvallei, Projek Eden, Eureka!, AN Weskus, die HEA en Bronberg Aaandeelhouding in aanvang na jare se onsuksesvolle pogings. My visie vir ‘n alternatiewe sosio-ekonomiese model vir verarmde Afrikaners is landswye “kibbutzim” of te wel aandeelhoudings met landbou, verwerking en plaaslike nywerheidsdeelname.
Die kooperatiwe landbougemeenskap waarna gestreef word is in Israel bekend as ‘n “Moshav”. Op google is daar ‘n hele beskrywing van hierdie opset. Lees dit gerus.
Dat die huidige landbouopset met sy amper feudale aard onvolhoubaar is, is vir seker waar. Ons moet na ander maniere van landbou kyk, dalk iets soos ‘n moshav, maar soos in my artikel uiteengesit glo ek nie dat die Kibboetsopset vir ons mense werk nie, ook nie vir die armes nie. Ons ervaring op Orania is dat arm Afrikaners of met die bakhand kom, ‘n ruk vir ‘n baas werk en dan weer die pad vat sodra hulle iets het, of, as hulle nog iets in hulle het, graag hulle eie stuk grond wil hê en selfstandig wil boer, hoe klein ook al. Kollektiewe landboupogings het so vêr misluk. Iets soos ‘n Moshav maak wel sin, met jou eie stuk grond, maar gesamentlike toerusting en bemarking.
Goeie dag, ek sal ook graag so ietsie wil se in die verband. Alhoewel dit waar is dat die deursnee Afrikaner n self denker is ( tong in die kies) eie kerk, eie politieke party ha ha. Is dit nie te versmaad dat die Afrikaner wat tans nie werk of heenkome het nie,daar sal kan aanklop by so n kibboets en sy /haar arbeid verruil totdat dit beter gaan. In tussen kan hy /sy hul mense van die nodige lewensmiddele voorsien , sou die kibboets vorder en as dit goed gaan kan die persoon/ne verskeie vaardighede geleer word. Die Kibboets sal vir alle praktiese redes as n nie winsgewende entiteit geregistreer wees. Soos dit nou aangaan het almal iets van die volgende eie mense nodig. Die boer het arbeiders nodig en van die waarvoor hy nie heeldag oor sy skouer moet kyk en vanaand kom die arbeider of die se kennis hom of haar vermoor. Dankie vir die geleentheid.