Die meeste Chinese glo vandag nog in die gesegde dat jy eerder die sneeu voor jou eie deur moet wegvee voordat jy bekommerd raak oor die ryp op jou buurman se dak.
Terwyl die wêreld onseker is oor wat ’n Trump-administrasie vir hulle gaan inhou, hoe die talle oorloë in die Midde-Ooste en Afrika gaan uitspeel en hoe die invloed van die immigrasiekrisis, Brexit en die verval van die politieke konsensus wat na die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het, Europa gaan verander, moet die opkoms van China nie misgekyk word nie.
Slegs ’n paar eeue gelede was China nog die grootste ekonomiese ryk in die wêreld. Dié magtige ryk het egter tydens industrialisasie in die Weste, stelselmatig agteruit begin boer. Die aanslag op die ryk Chinese kultuur wat met Mao se opkoms in 1949 ’n hoogtepunt bereik het, was die finale spyker in die een magtige Chinese ryk se doodskis.
Dekades van verval en agteruitgang het tot grootskaalse armoede en agterstande in China aanleiding gegee. Die afgelope twee dekades het dinge in China egter begin verander. Die land se kommunistiese regering het talle vryemarkbeginsels sy eie begin maak en die kombinasie van goedkoop, ongereguleerde arbeid en ’n groot internasionale mark vir goedkoop produkte het meegebring dat Chinese industrieë teen ’n vinnige tempo onwikkel het en dat honderde miljoene mense binne enkele jare uit armoede gelig is.
Die media berig gereeld oor China se betrokkenheid in Afrika en hoe Chinese maatskappye eiendomme in die VSA, Europa en ander wêrelddele opkoop. Kommer oor Chinese imperialisme of selfs ’n soort Chinese kolonialisme word gereeld geopper. Wil die Chinese regtig die wêreld oorneem soos wat mense soms vir mekaar langs die braaivleisvuur probeer oortuig?
Die realiteit vandag is dat die Chinese steeds ’n volk op soek na ’n nuwe identiteit is. Die huidige regering het wesenlike binnelandse kwessies waarmee hulle moet handel en beskou internasionale deelname steeds as ’n luukse. Die sterk Chinese selfbeeld van drie of vier eeue gelede bestaan nie meer en in die Chinese regering se poging om daardie selfbeeld te herwin sien ons toenemend streeksagressie en ’n vertoon van militêre mag soos wat die onlangse krisis in die Suid China-see bewys het.
Die Chinese regering probeer alles in hul vermoë doen om te verhoed dat ongelykhede, korrupsie en die steeds ernstige armoedekrisis in groot dele van China tot opstande onder hul burgery lei. Terselfdertyd probeer hulle nasionalisme aanblaas deur in die Verre Ooste hul spiere te bult.
Of China egter werklik ’n bedreiging vir ander lande inhou is onseker. Professor Shi Yinhong van die Renmin Universiteit in Beijing sê dat hy vyf jaar gelede nog gedink het dat Chinese agressie geen bedreiging is nie, maar dat hy vandag onseker is.
Terwyl binnelandse uitdagings die Chinese regering nog vir lank gaan besig hou, sal een van die belangrikste internasionale vraagstukke van 2017 moet handel oor die toekomstige rol van China in vrede en in konflik en tot watter mate veral Westerse lande nou reeds daarvoor moet voorberei.