by Orania Beweging | Apr 5, 2017 | Nuus |
Griekeland is in die verre suid-ooste van Europa en is ʼn oeroue beskawing, Ysland is n die verre noord-weste en is ʼn relatief onlangse toevoeging tot die ry van onafhanklike state in Europa (Ysland het eers 1918, amper 100 jaar gelede, onafhanklik van Noorweë geword). Griekeland, een van die armer en minder produktiewe lande in die konteks van Europa, is al sedert 1981 deel van die “eliteklub” van die Europese Gemeenskap (later Europese Unie) en selfs die Euro-gebied (sedert 1999), Ysland is nie lid van die Europese Unie nie en het sy eie geldeenheid, die Yslandse Kroon.
Die verskille tussen die twee lande in ag genome, het al twee in die eerste dekade van die 21ste eeu vol selfvertroue opgetree asof hulle deel van die eerste liga van state is. Ysland as klein eilandstaat met skaars 350 000 inwoners wou die geleenthede van globale finansiële dienste aangryp en ʼn Hong Kong van die Noorde word. Baie vereenvoudig gestel, het die land se drie groot banke, vir Europa besonder hoë rente van meer as 2% belowe, waarmee die groeiende Yslandse ekonomie gestimuleer sou word. Talle veral Britse en Nederlandse beleggers het gebruik gemaak van die aanbod uit Ysland. Die banke kon, ook weens die globale finansiële krisis, die verpligtinge egter later nie meer nakom nie en Ysland se Reserwebank was te klein om as uitlener in die laaste instansie (“lender of last resort”) die banke te kon uithelp, omdat die land se ekonomie te klein was. Ysland se krisis het in 2007 begin en 2008 sy hoogtepunt bereik. Daarna het ʼn lang lydingsproses gevolg. Die land en sy mense was op hulle knieë en die gemaklike lewe waaraan hulle gewoond was, was vir eers verby.
Die Europese Unie het sy hand uitgesteek om Ysland te help, maar dit was op streng voorwaardes en dit was amper soos ʼn dwelmsmous wat die verslaafde nog meer dwelms aanbied as tydelike ontvlugting: “Word deel van die Europese Unie, dan gee ons vir julle lenings waarmee julle die Britse en Nederlandse skuldeisers kan betaal. Julle betaal dit oor baie jare terug en ons het ʼn sê oor julle huishoudelike sake, julle viswaters word vir almal oopgestel en julle aanvaar die Euro”. Die bevolking het egter in ʼn referendum, gesteun deur die staatspresident (maar nie die eerste minister en sy regering nie), die terugbetaling van die banke se skuld verwerp. Die drie groot banke het bankrot gegaan en die land is van die globale ekonomie grootliks uitgesluit. Ysland het gekies vir harde rehabilitasie pleks van die tydelike verligting van sy toestand deur nuwe afhanklikhede. Uit eie krag, en met die voordeel van sy soewereiniteit en sy eie geldeenheid kon die land homself geleidelik self uit die moeras optel. Ysland se ekonomiese insinking het meegebring dat die wisselkoers van die Kroon gedaal het, wat Ysland, ʼn baie duur maar gewilde eksklusiewe toerisme
bestemming, skielik meer bekostigbaar gemaak het en nuwe besoekerstrome ontsluit het. Toerisme het die ekonomie weer aan die gang gekry, en die goedkoper wisselkoers het selfs die vestiging van sekere swaar nywerhede soos aluminiumsmelterye, wat ook baat gevind het by Ysland se goedkoop natuurlike energie, winsgewend gemaak. Die sterk visvangbedryf en die land se eksklusiewe 200 myl sone het Ysland se ekonomiese ruggraat gebly.
In 2010 was daar tekens dat die ergste verby is, en onlangs is die beperkinge op kapitaalvloei van Yslandse Kroon opgehef, wat beteken dat die land finansieel weer gesond is. Die beperking op kapitaalvloei beteken dat Yslandse burgers geen geld mag uitvat nie en ook geen eiendomme in die buiteland mag koop nie. Dit was bedoel om te keer dat die Kroon sy waarde heeltemal verloor en dat die Yslandse ekonomie doodbloei.
Griekeland het ook bo sy verhoudinge geleef en, om dit baie kortliks te stel (die hele Griekse drama is te lank om dit hier te beskryf), veel meer ingevoer en verbruik as wat geproduseer is. Omdat Griekeland deel van die Euro-sone is, was daar geen eie wisselkoers binne die sone ter sprake nie, en Grieke kon byvoorbeeld Duitse produkte teen dieselfde prys koop as Duitsers, terwyl Griekse produkte en dienste gewoonlik gehaltegewys nie kompeterend is nie, en omdat alles in Euro bereken word, ook nie goedkoper kan word nie. Die land se skuld het opgehoop. Griekeland moes, om sy ekonomie weer te laat vlot, terug gekeer het na sy eie geldeenheid Dragme en dit massief teenoor die Euro gedevalueer het. Dit sou ʼn daling in inkomste en koopkrag beteken het, nes in Ysland, maar op die lang termyn sou dit Griekeland weer kompeterend gemaak het. Nes Ysland is Griekeland ʼn gewilde toerismebestemming, maar is weens die Euro relatief duur en het kompetisie van goedkoper lande met soortgelyke voordele soos strande, son en ʼn ou kultuur soos Turkye of Egipte. Griekeland het egter ten alle koste deel van die EU gebly omdat die Grieke nie die voordele wou inboet nie en natuurlik ook omdat die EU-leiers alles gedoen het om Griekeland in die EU te hou. Soos vir ʼn dwelmverslaafde is deur die EU meer en meer dwelms (krediete) gegee wat oor lang tydperke afbetaal moes word. Daar is voorwaardes en rente aan gekoppel, maar omdat die dreigement om Griekeland uit die Euro-sone te skop nooit toegepas is nie, kon die Griekse regering voortploeter en het die pyn en lyding net uitgerek. ʼn Tydelike, valse gerustheid is bereik deur meer en meer krediete deur die Europese Sentrale Bank, maar Griekeland se skuld het net opgehoop en die regering het die radikale hervormings uitgestel. Daar is natuurlik ook ʼn mentaliteitsverskil tussen Yslanders en Grieke, ook wat die werksetiek betref en wat ʼn uitwerking op die ekonomie het. Die Crux bly egter dat die een land beheer oor sy ekonomie behou het, en die ander een nie. Die een was op homself aangewese, die ander een op buitelandse banke en instansies.
Die lesse wat ons kan leer, ook met die oog op groter ekonomiese en politieke selfstandigheid vir Orania is die volgende: fokus op jou sterk punte en moenie probeer om in ʼn hoër liga te wil speel as jy nie daarvoor opgewasse is nie. As jy klein is, is jy gewoonlik die een wat verloor by globalisering. Sowel Ysland asook Griekeland moes die les leer. Ysland wou ʼn finansiële sentrum word met ʼn baie klein ekonomie, Griekeland wou in die eerste liga van Euro-lande saamspeel waarvoor die land struktureel nie gereed was nie. Ysland het wel geleer dat jy met dissipline en veral met beheer oor jou ekonomie weer uit die as kan opstyg, Griekeland daarteenoor wou nie gespeen raak van die Euro nie en het afhanklik gebly van die groot EU-lande se krediete en harde voorwaardes.
By die Afrikaner in die breë is daar altyd die begeerte om in die eerste liga saam te speel en om Suid-Afrika te red. Dit is begryplik uit die onlangse verlede, waar die Afrikaner Suid-Afrika gebou het en waarskynlik van alle volke die meeste daarmee vereenselwig het. Net soos met Griekeland en Ysland geld egter: as jy deel van die groot geheel wil bly, dan sink jy saam. As jy bereid is om op jou eie voete te staan, met al die die nadele daaraan verbonde, het jy ʼn mate van beheer en kan jy jouself aan jou eie skoenveters optrek. Orania se ekonomie is nog gans te veel deel van Suid-Afrika, maar dit is met Orania se beperkte grootte en beperkte produksievermoë tans ook moeilik om anders te wees. Die strewe na groter selfstandigheid, ekonomies sowel as polities, moet egter altyd die doel bly en belangrike stappe is al in die verband geneem.
by Orania Beweging | Mar 23, 2017 | Nuus |
Om te reis bly interessant. Dit neig om ‘n mens nuwe perspektief te gee, of jy daarvoor soek of nie. Na ‘n onlangse besoek aan Vietnam en Kambodja het ek so ‘n dosis perspektief gekry.
My drie weke vakansie het in Vietnam begin. My indruk van Vietnam is baie positief. Die Viëtnamese/Franse kulturele sintese is baie interessant. Daar is pragtige geboue, lekker koffie en kos, die mense het selfversekerde en ontspanne houdings en selfs die konstruksieklanke is sag op die oor. Die land is aan die ontwikkel en dit lyk of almal besig is om vir hulself ‘n beter lewe te beding deur ondernemerskap en handel.
Dit was met hierdie hoë verwagting dat ek die grens na Kambodja oorgesteek het. Onmiddellik besef ʼn mens dat jy nie meer in dieselfde land is nie. Alles is minder ontwikkel en selfs vervalle. My kop kon nie lekker orden wat ek gesien het nie. Daar was genoeg krotbuurtes om my aan Suid-Afrika te herinner, maar die skakerings van ontwikkeld, onder-ontwikkeld en vreemde argitektuur het my kop laat draai.
Net buitekant die busvenster was daar krot en nogmaals krot, ʼn vervalle skool, dan weer uitmuntend versorgde huise, ’n houtfabriek, ʼn vulstasie, huise, eerste klas sportgeriewe, ensovoorts. My (selferkende beperkte) waarneming kon geen rym of ritme aan die stadbeplanning vind nie, en die chaos het my gelyktydig gefassineer en gewalg! Lang storie kort, Kambodja is minder ontwikkel as Vietnam.
Die antwoord op die vraag, ‘Waarom Kambodja soveel minder ontwikkel is’, het baie vinnig gekom in die vorm van ‘n besoek aan die Volksmoordmuseum naby die hoofstad Phnom Phen, die “Killing Fields”.
Die atmosfeer by die museumkompleks is drasties anders as by die ander toeristeareas in die omgewing. Die toeriste met hulle kleurvolle uitrustings wat gewoonlik vrolik en energiek is, is stil, strak en somber. By die ontvangs word jy gegroet met ‘n kaart en oorfone wat dien as jou klanktoergids. Die stemme op die toer verander baie vinnig die moerasagtige kompleks in ‘n letterlike hel op aarde.
Die “killing fields” (moordvelde) was die sistematiese volksmoord wat deur die kommunistiese Khmer Rouge vanaf 1975-1979 uitgevoer is, waartydens meer as 1 miljoen mense uitgewis is. Die Kommunistiese Khmer Rouge regering het enigiemand wat van verset verdink is, gearresteer en vermoor. Etniese minderhede en gelowiges is onder andere geteiken. ‘n Beleid van “eerder per ongeluk ‘n onskuldige vermoor, as per ongeluk ‘n skuldige laat ontsnap” is gevolg. Om ‘n bril te dra was so goed as om jou doodsvonnis te onderteken, omdat jy slim gelyk het. Hele families is daar uitgemoor. In ‘n poging om die volksmoord so goedkoop as moontlik uit te voer, is byvoorbeeld skerp blare gebruik om mense se kele mee af te sny.
Die ergste vir my was die “magic tree”. Naby dié boom was ‘n diesel-kragopwekker wat gebruik is om krag op te wek vir die luidspreker se onaardse musiek, om die slagoffers se lydingsgille te verdoof…
Terwyl ek in ongeloof met die oorfone se begeleide toer van progressief meer gruwelike item na item op die kaart beweeg, hoor mens ook van individue se stories. Met die aanhoor van ‘n spesifieke seun se verhaal van hoe hy totaal uitgelewer was aan die kommuniste se moordsisteem, het ‘n vraag by my opgekom. Waar de hel is die mense wat hom kon beskerm?
‘n Gesprek wat ek in Desember 2015 met ‘n Afrikaanse tannie in haar sestigs gehad het, het ook by my opgekom. Sy was kwaad oor die leuen van die ou bedeling se grensoorlog en die kamstige “rooi gevaar”. Volgens haar was die hele grensoorlog net ‘n leuen. Die titel van die Arno Vosloo fliek “Boetie gaan Border toe” het ook by my opgekom. Wat sou iemand wat op hierdie plek opgeëindig het, met die dieselopwekker se klanke, wat wag op haar beurt vir haar keel om met ‘n skerp blaar afgesny te word, gegee het vir ‘n man op die grens om haar teen die “rooi gevaar” te beskerm? Vir Boetie?
Die werklikheid is dat hierdie volksmoord nie ‘n geïsoleerde geval was nie. Die 20ste eeu se grootste gevaar was inderdaad die “rooi gevaar”. Die dodetal as gevolg van kommunisme is astronomies. Dit het regoor Rusland en Asië plaasgevind, een erger as die ander. Alles in die naam van revolusie, gelykheid en verniet alles. Die gaan die verstand te bowe dat die ikone en simbole van Marxisme vir die langste tyd so populêr was in die Weste. Dink maar aan die Che en rooi ster hempies wat al die “cool” kinders dra. Die tyd van hulle invloed is gelukkig getel na aanleiding van onlangse internasionale politieke gebeure. Die winde van verandering waai gelukkig weer!
Die grensoorlog is myns insiens niks anders as ‘n deel van die Koue Oorlog nie. Umkhonto we Sizwe , The Peoples Liberation Army of Namibia en die Khmer Rouge (onder andere) was almal bewapen, befonds en ideologies geskool deur of die Sowjet-Unie of Sjina. Suid-Afrika en Namibië sou net nog statistiek toegevoeg het tot die kommunistiese moordsyfer as dit nie vir die grensoorlog was wat die kommuniste kon terughou tot en met die val van kommunisme in 1989 nie. Die kommuniste sou oorneem en hulle skrikbewind loslaat. Ek dink ook dat hedendaagse plaasaanvalle ‘n voortsetting is van die destydse taktiek om polisiekantore op te blaas en dan die uitgelewerde boere te vermoor.
Die “cool” kinders is lief om die te spot met diegene wat reken dat kommunisme se “rooi gevaar” regtig waar was. Elke keer as ek dink aan “Die Skynmaagde” se liedjie “Kommunis sokkie” laat dit my bloed kook. Hulle gebruik ‘n sokkieliedjie om ‘n bespotting te maak van enige iemand wat ‘n saak uitmaak dat daar wel so iets soos ‘n “rooi gevaar” was.
ʼn Mens dink aan die deur die Sowjet-Unie befondsde militêre bevrydingsbeweging in Suider-Afrika, Umkhonto we Sizwe, met sy leier Nelson Mandela. Onder die kommunistiese terreurgroepe was die Khmer Rouge besonder radikaal, maar nêrens het kommuniste in die Koue Oorlog tydperk die bewind oorgeneem sonder bloedvergieting, grootskaalse onteiening en ontwrigting nie. Ek is van mening dat as Mandela se kommunisties befondsde organisasie enige tyd voor die val van kommuniste aan bewind sou gekom het, dan sou ons alles verloor het. So nee, boetie (oom, papa, oupa) was nie verniet grens toe nie, boetie het letterlik alles gered. Dankie.
by Orania Beweging | Mar 20, 2017 | Nuus |
Die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, was onlangs in die sop oor ʼn twiet wat lui: “For those thinking colonialism was ONLY negative, think of our independent judicary, transport infrastructure, piped water etc.” Ander wit DA politici was ook al in die moeilikheid en is hart gestraf oor soortgelyke opmerkings wat sekere persone of gebeure in die verlede in perspektief probeer plaas.
In ʼn party soos die Demokratiese Alliansie met ʼn lang liberale tradisie mag sekere goed nie gesê word nie, en geld vryheid van spraak nie in alle opsigte nie. Dat haatspraak en rassisme nie deur die vryheid van spraak gedek word nie kan ʼn mens verstaan, veral in die plofbare Suid-Afrikaanse opset. Dat egter ʼn historiese tydperk wat nou al meer as ʼn halfeeu teruglê, so veel emosies gaande maak dat nie eers aspekte daarvan gedebatteer mag word nie, wys oorsensitiwiteit, onvolwassenheid, en erger nog, ʼn voorskryf oor die nasionale diskoers.
Geen geskiedenis, geen politieke analise kan geskryf word as voor die tyd bepaal word dat die skrywer net negatief of net positief oor ʼn saak mag skryf. Sou die ANC byvoorbeeld beweer dat hulle struggle en elke aspek daarvan net positief was? Waarskynlik ja. Dit lei tot ʼn absolutistiese begrip van die waarheid soos wat dit in kommunistiese lande die praktyk was en is: Die “revolusie” mag nie bevraagteken of beoordeel word nie, die party het die monopolie op die waarheid. Alles aan die “revolusie” (ten spyte van al die lewensverliese en gruweldade) was glorieryk en edel, alles aan die stelsel wat oorwin is was boos. Wie die edelheid van die revolusie en die party bevraagteken, is gedoem, is ʼn “counter-revolutionary”, ʼn “fascis” (selfs oortuigde kommuniste wat verskil met die leier en sy ideologie word so gebrandmerk) en moet uit die openbare sfere verwyder word.
Juis onder liberales is een van die gunsteling gesegdes: “Ek mag van jou opinie verskil, maar ek sal daarvoor veg dat jy mag sê wat jy wil”. Klaarblyklik het die DA sy liberale wortels vergeet en probeer die ANC in elke opsig naboots.
Ironies daarby is dat diegene wat kolonialisme beveg en uiteindelik oorwin het, nie met kolonialisme wou wegdoen en wou terugkeer na ʼn pre-moderne pastorale bestaan nie, maar dat hulle ook die vrugte van kolonialisme wou pluk. In menige Afrika-lande is die wit deur die swart elite na onafhanklikheid vervang, maar die koloniale taal, die koloniale grense, die koloniale politieke en regstelsel, die Westerse infrastruktuur en selfs sekere koloniale gewoontes (soos die liefde vir gin en whiskey en Westerse klere
styl) het die einde van die ou bedeling oorleef.
Dit was ʼn pragmatiese besluit om op die fondasie van kolonialisme op te bou en om dit nie totaal te vernietig nie. Met verloop van tyd is wel sekere straat- en dorpname verander en monumente verwyder en ander opgerig, maar niemand het ernstig ʼn terugkeer na ʼn argaïese verlede met stamstelsel, landelike hutte, donkiekarre en handploeë bepleit nie.
Mev. Zille is reg as sy ʼn sekere nalatenskap van kolonialisme uitlig wat nie negatief was nie. Die Westerse regstelsel wat Afrika geërf het, was beter as die irrasionale en eensydige verhore deur die stamhoof met sy porsie bygeloof en toordery. Almal in Afrika is dankbaar vir spoorlyne en paaie (ten spyte van hulle beperkinge) wat handel en reis moontlik maak en niemand wat eers in ʼn voorstedelike huis met krag en water gewoon het, wil permanent terugkeer na ʼn stelsel met ʼn put en lang afstande nie, hoe oorspronklik en romanties dit ook mag voel vir die oppervlakkige waarnemer.
Die anti-koloniale stryd was nooit teen alles van die Westerlinge gewees nie, maar veral teen die vernederende stelsel van ongelykheid. Anti-koloniale literatuur (en literatuur as sodanig is ook ʼn nalatenskap van die kolonialiste) berig nie so seer van die gevare deur motors of treine, of die besoedeling van die oorspronklike Afrika-opset nie, maar van die persoonlike vernedering wat die meerderheid van die land moes ervaar. Niemand keer dit goed of weeg dit op teen die materiële voordele nie. Wat wel gesê moet word, is dat die koloniale verlede net so elke Afrika-land in ʼn mindere of meerdere mate gevorm het en dat dit deel is van wie jy is, of jy soos Helen Zille ʼn nakomeling van die eertydse elite, of, soos Mmusi Maimane, van die eertydse onderdruktes is.
by Orania Beweging | Mar 20, 2017 | Nuus |
Dis vroeg en die lugversorger dreun reeds eentonig voort. Die lug binne die ouditorium is ʼn welkome lafenis na die bedompige Karoo-lug buite.
ʼn Konstante instroming van gretige leerders kom die ouditorium binne. Hulle vriendelike groet bring ʼn meer ontspanne atmosfeer saam met hulle.
Ek het daardie oggend die voorreg gehad om deel te wees van ʼn produk van die Orania Kunste Raad, ʼn Toneelstuk-skryfskool wat aangebied is deur die bekende en befaamde Professor Nico Luwes. Prof. Luwes het reeds vele toneelstukke agter sy naam en meer vakkennis as menige kenner in dieselfde vakgebied. Iets wat vir my baie duidelik geword het, is dat jy nooit sal ophou leer in hierdie bedryf nie. Daar is elke dag ʼn nuwigheid en hoër trappie om te klim.
Die ingehoue verwagting waarmee ek vanmore opgestaan het, het veroorsaak dat ek vroeg my stoel gekies het waar ek die beste uitsig gehad het en duidelik alles kon hoor.
Baie keer gaan ons van die standpunt uit dat ons reeds alles van hierdie kuns oor die jare in ons vol geheue
gestoor het en niks nuuts meer kan leer nie. Ons liasseer elke stukkie inligting sodat niks verlore mag gaan nie. Elke nou en dan haal ons stukkies van hierdie kennis uit, stof dit af, poets dit en voeg nog ʼn stukkie van die legkaart by. Die menslike strewe na volmaaktheid is so diep gesetel dat alleenlik wanneer die tydelike vir die ewige verruil word, dit die einde van die soektog sal wees.
Die talentvolle woord-gebruik en oordrag van nuwe inligting is so passievol gedoen dat jy daar en dan wil wegval en skryf, skryf tot jou vingers eelte het. Ons het behoorlik aan sy lippe gehang. Dit was vir my persoonlik ʼn reuse sprong in my naïewe klein leke-skrywers-wêreldjie. Die woorde van die Psalmdigter ‘my beker loop oor’ was verseker deel van ons almal na hierdie wonderlike sessie. Met oogklappe aan het ek vele projekte aangepak, maar helaas die klein prentjie waarin ek geleef het, het verander in ʼn lewendige en pragtige wêreld.
Die melodramatiese beskrywing van ʼn klassieke drama soos ‘Romeo and Juliet’ het die sluier gelig van ʼn blyspel waarvan ek net die oppervlakte gesien het. Die oppervlakkige wyse waarop ek na hierdie toneelstuk gekyk het, het ʼn wending geneem van ‘verdoemde liefde’ tot ‘die liefde se oorwinning oor familietwis’
Hierdie volgende vertelling van prof. Luwes het my ʼn ander kyk gegee na my besoeke aan toneelstukke en ek het verwonderd gestaan oor die nuanses wat ek nooit raakgesien het nie.
Die absolute gemak waarmee prof. Luwes sy kennis oorgedra en die borrelende vreugde en passie waarmee hy dit gedoen het, spreek uiteraard van sy absolute liefde vir dit wat hy doen. Wanneer jy na hom luister, kry fiktiewe karakters skielik ʼn skaduwee, jy kan die stem van die karakter hoor dreun deur die klowe of die sagte fluistering versigtig hoor kruip na jou oordrom. Die kleredrag, aanhangsels, ekstras en optrede bring die karakters na die tong van die toeskouers. “Ag shame of jou ongeskikte buffel” ensovoort bring ʼn welkome reaksie van die skare en twee of drie vinnige aantekeninge in die redakteur se notaboek.
Prof. Luwes is al ʼn huishoudelike naam in die kunste en daarom was dit ʼn verskriklike voorreg om te kon deel wees van sy fantastiese skryfskool. Sy kennis van gehoorstimulering word in meeste kringe as ʼn gawe gesien en daarom kan dit slegs verfyn word, as hierdie talent jou slaap en opstaan is. Die Skryfskool-inligting het hy met kwinkslae en grappe geanker om ʼn ewige afdruk in my geheue te maak sodat ek weet ek sal maklik daarheen kan terugkeer en dit oproep soos dit nodig word. My idee van toneel skryf was gegrond op die feit dat dit die akteur se werk is om te sorg dat die skryfstuk ʼn sukses moet wees. Min het ek geweet hoe ver dit van die waarheid is. Ek was nie bewus daarvan dat die skrywer die wêreld in soveel besonderhede moet skep dat die regisseur en die akteurs die skrywer se droom moet inneem en dit hulle eie moet maak vir die tydperk van die optrede nie. Dit is ‘n visuele skepping van ʼn wêreld met sy eie taal, rede, vrede en gebeurlikhede, soos wat J.R.R. Tolkien die “Lord of the Rings” en “The Hobbit” reeks geskep het in ʼn nuwe en onbekende wêreld. Sulke toneelstukke het die gawe om ons te trek uit die donker wêreld waarin ons leef en om ons te plaas in ʼn droomwêreld waar ons vir oomblikke kan wegkruip en ons ore kan sluit vir al die pyn, haat en nyd van die werklikheid.
Ek wil prof. Luwes bedank dat hy tyd afgestaan het uit sy besige skedule. Ons, by name Orania en sy mense, besef nie die goue muntstuk wat ons toegedeel is nie, nie voordat ons na die keersy kyk en ons voorregte raaksien nie. Orania Kunste Raad, en in besondere Stefnie Muller se harde werk agter die skerms is prysenswaardig en dui op die strewe van ons eie mense om elkeen ʼn kans te gee op die ontdekking en ontwikkeling van talente waarvan ons nooit bewus was nie.
by Orania Beweging | Mar 14, 2017 | Nuus |
Redefining Manhood – Jim Ewing
Hoe definieer jy jou manlikheid vandag en hoe beïnvloed dit die omgewing om ons?
Ons leef vandag in ‘n era waar feminisme en die “wit man as sondebok-sindroom” verwoestende gevolge vir mans inhou. Eensaamheid, depressie en selfmoord onder mans styg byna in elke Westerse land en talle studies in die VSA wys daarop dat mans toenemend alleen woon en onseker is oor hoe om hulself in ’n veranderende wêreld te laat geld.
In Redefining Manhood behandel Jim Ewing die vraagstuk oor hoe Westerse mans vandag hul rol in die samelewing moet herdefinieër.
Wat is die natuurlike staat van die mens? Is dit oorlog of vrede? Die fout wat baie mans maak is om in hul soeke na ’n herdefiniëring van manwees, slegs na die verlede te kyk en daarvolgens die man as kryger aan te hang. Dit plaas mans in ’n posisie van oorlogvoering eerder as vrede wat mans in hul persoonlike en professionele lewens in konflik met moderne realiteit plaas.
Sommige mans stap egter ook heeltemal weg van die historiese Westerse man wat as kryger en held uitgebeeld is om sodoende oordrewe invloed aan hul vroulike, sagter kant te gee. Dit lei tot die man as swakkeling en pateet wat nie met selfvertroue sy plek in die wêreld kan inneem nie.
Die uitdaging vir mans vandag is om met selfvertroue ’n gesonde balans tussen hul historiese rol en die realiteit van ’n wêreld waar geslagte as gelyk geag word en waar vrouens ’n groot rol in byna alle sfere van die lewe speel, te vind. Mans moet energie uit die innerlike kryger put, terwyl hul sagter kant vertroetel moet word. Slegs dan kan ’n man met selfvertroue pa, broer, oom, seun, vriend en beminde wees.
Mans het van nature die behoefte om outonoom te funksioneer en te presteer en in ’n hiërargiese samelewing voel mans dikwels asof hulle nie hierin kan slaag nie. Dit veroorsaak geweldige spanning en die opbreek van verhoudinge.
In ons moderne samelewing het ons mans nodig wat deernisvol, rasioneel, intuïtief en oordeelkundig met hul eie kragdadigheid kan omgaan. Die onderdrukking van kragdadigheid of die onbeheerste uitbarsting daarvan is beide verkeerd. Die moderne man is nie meer ’n koning wat net onbeheers kan regeer oor alles en almal om hom nie, maar die samelewing het ook sterk mans, wat met selfvertroue hul ruimte inneem, nodig.
Ewing se boek is ‘n bondige, dog ryk samevatting van wat mans nodig het om gelukkig en suksesvol in ‘n moderne wêreld te kan wees.