fbpx
Orania se groei dra vrugte vir elke seisoen van die lewe.

Orania se groei dra vrugte vir elke seisoen van die lewe.

Orania maak baie mense se harte warm, en selfs sommige mense warm onder die kraag. Een ding bly egter seker – Orania groei teen ʼn snel!

Oraniërs en toeriste van die dorp ken al die bekende Oewerhotel, restaurant en spa teen die Oranjerivier, die verskeie lekker eetplekkies in die dorp, die heerlike dorpswembad, plaaslike bierbrouerye, die splinternuwe sportinstituut en ander besienswaardighede soos Orania se  Monumentkoppie. Dit is egter ʼn riem onder die hart (en kraag, vir sommiges) om te sien hoe daar in Orania, tot bate van Oraniërs in elke seisoen van die lewe,  gegroei, gebou en ontwikkel word.

Vir babas van drie maande tot peuters van vier jaar oud groei Orania se twee dag sorgsentrums Kieliepensie en Huppelkind, eersteklas dagsorgsentrums, geweldig. Huppelkind kyk na ongeveer 80 kindertjies wat liefdevol versorg word en in ʼn veilige, mooi, opvoedkundige omgewing kan speel.

Die twee skole, wat albei laer- en hoërskole is, se skoliere presteer op verskeie terreine en die CVO-skool is tans besig om ekstra klaskamers aan te bou, om die toenemende skolier-aansoeke te akkommodeer. Die nuut uitgebreide sportgronde van die skool spreek boekdele van ʼn lekker, lewendige skoolloopbaan in Orania.

Bo-Karoo Opleiding (BKO) het in 2019 die eerste voltydse groep studente ontvang en sedertdien so baie belangstelling gewek dat daar reeds planne vir verdere uitbreiding is. Die oprig van koshuise en die aanbieding van nog kursusse is in die pyplyn. Tans kan BKO studente ʼn nasionaal geakkrediteerde kwalifikasie in die volgende rigtings verwerf: elektries, bou en siviele konstruksie, loodgieter en gemeenskapsversorging. Hierdie kursusse bou egter nie net studente se kennis en vaardighede nie, maar die studentelewe by BKO is een wat ook die studente se Christelike en Afrikanerkarakter ontwikkel. In 2022 gaan BKO ook ʼn landboukursus aanbied en die grond vir ʼn eie proefplaas is reeds gekoop. Orania het ook sy eie haar-akademie, waar studente hulself as geakkrediteerde haarkappers kan bemagtig. Verder is daar reeds planne opgeteken om in die nabye toekoms nog tersiêre opleiding-instellings in Orania te bou.

Ontwikkelings, soos ʼn park by Gannabos se verblyf-eenhede, getuig van ʼn toename in jong werkendes wat hulself in Orania vestig. Al hoe meer verblyf-ontwikkelings word deur die 28 geregistreerde bouspanne in Orania, wat almal ver vooruit vol bespreek is, aangepak. Volgens Christo Conradie van OOM (Orania ontwikkelingsmaatskappy) is “Orania se eiendomsmark verbysterend goed”. Daar is gelukkig genoeg grond in Orania se besit om  alreeds ʼn bevolkingsgroei van 2000 inwoners, tot 10 000, te akkommodeer. Conradie sê die grond gaan vir die ontwikkeling van woonerwe, huurerwe en besigheidserwe gebruik word.

Die nuwe toring vir hoë spoed internet wat tans opgerig word is een van die vele bakens van vooruitgang wat dit vir jong werkendes makliker maak om Orania hul tuiste te maak. Stadsontwikkeling in die nabye toekoms gaan juis fokus op die stadskern, waar dit tans beplan word om drie groot geboue met kantoorspasie te ontwikkel. ʼn Blink toekoms vir die landbousektor word in Orania verwag, soos daar beplan word om al hoe meer handel- en diensgeleenthede aan Boere in die omgewing te bied. Die toerismesektor in Orania groei ook, en soos ekonomiese bedrywighede toeneem volg werksgeleenthede.

Karoosig Atreeoord is ʼn veilige hawe vir Orania se bejaardes. Hier is 10 wooneenhede en ʼn topklas versorgingsaal wat in ʼn personeelspan van 13 toegewyde werknemers se betroubare hande is. Daar is vier-en-twintig-uur versorging en die inwoners sê sommer spontaan hoe lekker hulle eet, en hoe goed daar na hulle gekyk word! Verdere uitbreiding en ontwikkeling word reeds beplan vir Karoosig Aftreeoord, wat ideaal naby aan Orania se mediese sentrum geleë is.

Die snelle bevolkingsgroei in Orania dien as katalisator vir instellings om infrastruktuur en diensteontwikkeling ten bate van baba, peuter, kleuter en kind, voort te sit.

Geskryf deur René Krüger

 

Dit is tyd om self moue op te rol

Orania is net die somtotaal van die intellektuele, arbeids- en kapitale vermoë van sy inwoners en ondersteuners. Indien iets nie in Orania gebeur nie kan ek en jy net vinger wys na ons eie onvermoë of dan wel die tekort aan kapasiteit. Om dit te verstaan vereis egter van elkeen van ons om ‘n denksprong te maak. In Orania is daar nie ‘n regering, groot maatskappye, politieke partye of ander eksterne magte met towerstaffies om te blameer nie.

Ek hoor onlangs dat die provinsiale regering ‘n eksterne toekenning van R20 miljoen aan een van ons buurdorpe gemaak het. Dit is ekstra tot die bestaande toelaes wat hierdie dorp reeds jaarliks van die regering ontvang. Die betrokke dorp se infrastruktuur is sonder twyfel in ‘n swakker toestand as dié van Orania en mens kan net wonder hoe hierdie geld aangewend gaan word. Die Orania Dorpsraad se begroting vir die huidige boekjaar is sowat R8 miljoen. Daarmee moet munisipale dienste en ook talle dienste wat in ander dorpe deur distriksmunisipaliteite, provinsiale regerings en die nasionale regering gelewer word, befonds word. In Orania wil ons dus meer dinge met minder geld goen. Ek kan net dink wat ons met daardie R20 miljoen sou kon doen?

Orania se sukses hang van ‘n paar eenvoudige dinge af. Dit begin by groter betrokkenheid. Groter verwys na meer mense, wat meer tyd, geld en intellektuele kapitaal beskikbaar stel. Daarna moet verseker word dat al hierdie verhoogde bydraes effektief aangewend word. Orania is eintlik reeds ‘n toonbeeld van effektiwiteit en daar is min plekke waar jou bydrae so effektief aangewend sal word.

Dit laat die vraag ontstaan oor waarom ons dan nog nie baie meer mense sien wat met meer tyd, geld en arbeid by Orania betrokke raak nie. Eerstens is ons as Orania se kern instellings natuurlik skuldig dat ons nie genoeg gedoen het en steeds nie genoeg doen om meer Afrikaners by Orania te betrek nie. Dit is egter iets waaraan daadwerklik aandag gegee word en die geweldige toename in belangstelling in Orania (webbladbesoeke, intekening op nuusbrief, fisiese besoeke aan Orania, ens) is ‘n toonbeeld hiervan. Die afgelope week het Orania die meeste besoekers nog ooit in een week ontvang – winkels was leeg, restaurante oorvol en daar was geen verblyf teen Vrydagaand beskikbaar nie. By die Orania Beweging moes ons gesinne wegwys omdat ons geen beskikbare vakansieverblyf op ons verblyflys kon kry nie. Soos ons dus by meer van ons mense uitkom is daar ‘n styging in belangstelling.

Die vraag kan egter tereg gevra word oor of elkeen van ons, inwoners en uitwoners van Orania, nie meer kan doen nie. Is ons bydrae genoeg geweeg aan die dringendheid van ons saak? Waarom nie eiendom in Orania koop, in vakansieverblyf hier kom belê, ‘n bydrae tot die Helpsaamfonds maak, vriende en familielede aanmoedig om by die Orania Beweging aan te sluit, ‘n besigheid hier te kom begin, ‘n groter bydrae tot die Groeifonds te maak of eenvoudig die daad by die woord te voeg en Orania toe te trek nie?

Dit is vir my ongelooflik om steeds te hoor dat mense Orania toe wil trek met die voorwaarde om dieselfde salaris hier te verdien. Vir partye mense is die voorwaarde om te skuif iets so belaglik soos die teenwoordigheid van ‘n Woolworths Foods! Ander persone sê weer hulle sal slegs in Orania belê indien hulle dieselfde opbrengs op hul belegging kan kry as wanneer hulle geld in ‘n multimiljoenrand fonds belê? My vraag is dan: Waaraan weeg ons die opbrengs op ons belegging? Gaan dit net oor rykdom oor die korttermyn of oor ‘n welvarende toekoms vir ons en ons nageslagte? Israel is gebou uit Jode wat bereid was om riskante beleggings in ‘n droom wat op ‘n seker toekoms vir Jode gemik was, te maak. Is jy bereid om dieselfde vir jou volk te doen?