Duitsland: skok-verkiesingsuitslag.

Die verkiesing vir die Duitse parlement het toe in ʼn taamlike aarskudding ontaard. Nog met die aanloop is aanvaar dat dinge op die voorspelbare, vervelige trant sal voortgaan, met mev. Merkel as kansellier van ʼn sentrum-linkse “groot koalisie” uit haar Christen-Demokrate (CDU) en die Sosiaal-Demokrate (SPD).

Die CDU se veldtog was uit en uit toegespits op mev. Merkel en haar suksesse en ʼn boodskap van “meer van dieselfde, want dit werk”. Teen alle verwagting in het die CDU egter ernstige verliese gelei. Hulle het terug gesak na 33% (-9%), die tweede slegste resultaat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Ook die koalisievennoot, die SPD, het sleg verloor en het die swakste ooit in ʼn nasionale verkiesing na 1945 gevaar, naamlik 20% (-5%). Dit nadat nog 4 maande gelede hulle kandidaat vir kansellier, Martin Schulz, volgens meningspeilings ʼn kop-aan-kop stryd met Merkel gehad het en selfs gespekuleer is dat hy kansellier kan word met ʼn linkse koalisie. As reaksie op die swak vertoning van die SPD het Schulz reeds kort na die uitslag aangekondig dat die SPD nie meer deel van die regering gaan wees nie, maar in die opposisie hulleself wil herstel.

Die groot sensasie was die sukses van die konserwatief-nasionalistiese Alternative für Deutschland (AfD), wat 13% van die stemme gekry het en die eerste keer ooit in die nasionale parlement verteenwoordig is (hulle is reeds in meeste provinsiale parlemente verteenwoordig). Die AfD was die enigste party wat mev. Merkel se beleid, veral ten opsigte van die massa-immigrasie en die daarmee gepaardgaande styging in misdaad, vierkantig aangevat het. Anders as die media en die elite dit wou hê, voel groot getalle Duitsers wel daardeur bedreig. Die AfD se sukses het die ander partye behoorlik soos hoenders laat rondskarrel. Alhoewel dit vir Duitsland ʼn eerste is dat ʼn party regs van die CDU parlement toe gaan, volg Duitsland amper as laaste land in Europa die tendens na wat al lankal in die ander lande gevestig is, naamlik dat die tradisionele twee groot partye links en regs van die middel versplinter in ʼn wye spektrum van partye van verlinks tot verregs. Dit is die skuld van die CDU dat die AfD ontstaan het, omdat die CDU onder Merkel meer en meer ononderskeibaar van die SPD en selfs Groenparty geword het en linkse beleid uitgevoer het (soos die massa-immigrasie, opgee van nasionale grense en soewereiniteit, gay-huwelik, regulering, ophoop van skuld, uitbou van die welsynstaat ens.). Die AfD se kiesers is veral voormalige CDU-ondersteuners, maar ook mense wat nie vantevore gestem het nie, en kom selfs in aansienlike getalle van die SPD en Linksparty. ʼn Potensiële probleem vir die AfD is dat hulle veral as protes- en anti-establishmentparty waargeneem word en eers ʼn stabiele ondersteunersbasis (en eensgesindheid) moet opbou as hulle nie weer wil verdwyn nie.

Die ander oorwinnaar is die klassiek-liberale Vry-Demokratiese Party (FDP), wat al ʼn ou party is, maar vir die laaste termyn nie in die parlement verteenwoordig was nie, en nou met 10% terug gekeer het. Die twee partye aan die uiterste linkerkant, Groenparty en Linksparty, het al twee min of meer dieselfde gekry as laas (9%).

Die Duitse parlement het nou 6 partye pleks van 4, wat regeringsvorming moeiliker maak. Die groot koalisie, waarvoor die burgers duidelik moeg is, is verby, die SPD wil beslis nie weer saam regeer en daardeur verder opgebruik word nie. Die enigste moontlikheid (aangesien niemand met die AfD wil saamwerk nie) is nou die sogenaamde Jamaika-koalisie (vernoem na die kleurkombinasie van die CDU, Groenes en FDP, swart, groen, geel van Jamaika se vlag). Dit gaan egter moeilik wees om die twee sentristiese partye CDU en FDP en die linkse Groenes, wat in talle punte aansienlik verskil, saam in een koalisie in te bring. Indien hulle dit nie regkry nie, is ʼn herkiesing of selfs ʼn minderheidsregering met wisselende meerderhede die enigste opsie. Wat ook al gebeur, die Duitse politiek sal minder stabiel wees en meer interessant en onvoorspelbaar raak as in die verlede. Terwyl tot dusvêr in amper alle punte die groot konsensus geheers het, kan daar nou weer lewendige en aggressiewe debat verwag word, sowel van ʼn AfD wat sy reputasie as alternatief gestand moet doen, asook van ‘n SPD wat nou alles moet doen om homself van die regering te onderskei.

 

Orania en Maslow se piramied van behoeftes

Abraham Maslow was ‘n Amerikaanse sielkundige van Russies-Joodse herkoms wat van 1908-1970 gelewe het. Hy is veral bekend vir die hiërargie of piramiede van menslike behoeftes wat na hom vernoem is. Maslow het ʼn positiewe beeld van menslike behoeftes gehad, wat hom van Freud en ander onderskei, wat veral seksuele drange as bepalend aansien. Daarteenoor het elke mens volgens Maslow die strewe na selfverwesenliking, na die oplos van probleme en die verbetering van hulle toestand, nie net materieel nie, maar ook wat emosionele en intellektuele behoeftes betref. Sy bekende piramied van behoeftes identifiseer 5 vlakke van menslike behoeftes, van die laagste en mees basiese tot die hoogste. Mense wat die hoogste vlak van selfverwesenliking bereik is gelukkig, moreel goed en fisies en geestelik gesond.

Heel onder aan die hiërargie is die fisiese behoeftes waarsonder niemand kan lewe nie, soos kos, water, skuiling en klere.

Op die volgende vlak lê die behoefte aan veiligheid en sekuriteit. Dit bevat behoeftes soos gesondheid, om ʼn werk en private besittings te hê en om met mense te sosialiseer.

Nog ʼn vlak hoër is die vlak van liefde en om te behoort en dit verteenwoordig die menslike behoefte aan vriendskap, intimiteit, gesin en familiebande en die gevoel om te behoort.

Die volgende vlak is die selfbeeld: ʼn mens se behoefte aan selfvertroue, respek wat jy van ander ontvang, die strewe om iets te bereik en om ʼn unieke individu te wees.

Heel bo is die vlak van selfverwesenliking: om moreel op te tree, om ʼn doel te hê, ʼn roeping of bestemming na te volg en om jou innerlike potensiaal te bereik. Alhoewel Maslow dit nie genoem het nie, aangesien hy nie ʼn Christen was nie, is hier ook die vlak waar jy met die metafisiese, bonatuurlike in aanraking kom. Vir Christene kan daar geen werklike selfverwesenliking wees sonder ʼn verhouding met God nie.

Wat het Maslow se piramiede met Orania te doen? Die strewe na ʼn eie plek, gebied of selfs staat vir Afrikaners het nog altyd die aanspraak gehad om die hele spektrum van ons mense, sowel as individue asook as deel van ʼn unieke volk, se behoeftes te vervul. Uit die aard van die saak kom die basiese behoeftes soos behuising, kos, water en krag en ʼn inkomste eerste, anders bly die Afrikanerstaat net ʼn droom. Ons kan egter nie stilstaan by die bou van huise en die skep van werk nie. Om, soos die Marxiste, die menslike behoeftes bloot tot die fisiese en materiële te beperk, skiet tekort. Dit is juis om die rede dat die nuwe Suid-Afrika met sy sosialistiese uitgangspunt misluk. Ongeag daarvan hoeveel duisende huise gebou is en hoeveel mense voedselhulp en gratis medies en basiese dienste gekry het, as daar nie ook in die mense se behoefte aan ‘n betekenisvolle lewe voorsien word nie, deur veiligheid, goeie opleiding en ‘n klimaat van goeie morele waardes, sal Suid-Afrika net meer en meer ‘n mislukte samelewing word. Om eweneens wit plakkers op groot skaal in Orania te vestig deur gratis huise en welsynstoelae los nog geen probleem op nie, inteendeel, dit skep nuwes.

Orania se doel kan ook nie net tot ‘n veiligheidsoord gereduseer word nie. So belangrik soos wat veiligheid is, en so trots soos wat ons op ons rustige en veilige bestaan is, as dit al is waaroor dit gaan dan was dit nie nodig om al die moeite te doen nie. Jy kan veilig wees op jou eiland, soos die geval is met talle sekuriteitskomplekse in die stede, maar jy bly deel van ‘n omgewing waar jy jouself nie kan uitleef nie, waar jou taal nie gepraat word nie, geen gemeenskapsgevoel bestaan nie, godsdiens nie ‘n rol speel nie en alles om die materiële draai.

Vir ʼn ryk en vol bestaan op alle vlakke van die menslike behoefte is om deel te word van ʼn gesin, familie en gemeenskap, en die ontwikkeling van jou potensiaal en die metafisiese veral belangrik. ʼn Gesonde samelewing kan wel nie jou persoonlike geluk waarborg nie, en ook binne ʼn gesonde samelewing is party mense diep ongelukkig, maar die invloed van die omgewing moet nie onderskat word nie. Jy kan jouself ook beter verwesenlik in ʼn samelewing waar jou kultuur, taal en waardes uitgeleef word. Daarom is dit nie maar net ‘n oorbodige luukse om dig- of sangwedstryde, kultuuraande, lesings, kunskursusse en vertonings te hou nie. Diegene wat kla dat geld wat op ʼn kultuurfees of vir opvoeding gespandeer word, eerder vir nog behuising gebruik moes word, verstaan nie die Orania-konsep nie. Die dinge lê op die hoogste vlak, naamlik die selfverwesenliking deur skepping en die ontwikkeling van die innerlike potensiaal.

Maslow was nie ‘n Christen-gelowige nie, en daarom word op die hoogste vlak ook net die breë term van moraliteit genoem. Die heel hoogste sport van die mens se innerlike behoefte (as God dit opwek) is ‘n liefdesverhouding met God. Alhoewel dit ‘n persoonlike saak is, speel die omgewing en samelewing daarby ‘n groot rol. Dit is makliker om dit binne ‘n samelewing te bereik wat Christelik is en waar kerkbywoning, bid en Bybel lees algemeen is, as binne ‘n sekulêre of ateïstiese een. Daarom moet ons by ons strewe nooit vergeet nie dat eer aan God heel bo moet staan.

Die republiek, republikanisme en die Afrikaner. Deel 2: Die Afrikaner se strewe

Die Afrikaner het vir die grootste deel van sy geskiedenis stroomop geswem. Daar word deur ons vyande beweer dat ons agter die tyd is en in die verkeerde eeu leef. Die trekboere en Voortrekkers is as argaïes beskou met hulle landelike veeherder- en rondtrekleefwyse in ʼn tyd waar Europa sterk geïndustrialiseer en verstedelik het. ʼn Mens kan egter anders daarna kyk, naamlik dat die Voortrekkers oftewel Afrikaners al vryheidsgesind was in ʼn tyd waar Europeërs tevrede was om onder absolute heersers te staan. Die Afrikaners was eintlik veel nader aan die vryheidsgesinde Amerikaners as aan die Europeërs in die verband.

Die stryd vir vryheid loop soos ʼn goue draad deur die Afrikaner se geskiedenis en dit is iets om op trots te wees. Reeds in die tyd van die VOC – bewind het die Vryburgers onder leiding van Adam Tas teen beperking op hulle ekonomiese vryheid en teen onregverdige monopolieë deur die kompanie beswaar gemaak. Alhoewel dit nog geen republikeinse beweging was nie, was die gees van burgerlike vryheid en beperking op die mag van die owerheid by hulle aanwesig. Die eerste proto- republieke van die Afrikaners was Graaff-Reinet en Swellendam wat in 1795 in verset teen die kompanie en sy onbekwame amptenare gekom het en hulleself onafhanklik van die kompanie verklaar het, maar nog steeds die Vrye Republiek van Nederland as hoogste gesag erken het. Die hoogste bestuursliggaam was die Nasionale Konvensie of Nasionale Vergadering, en die Nasionale Landdros was die president. Kort na die stigting van die twee republieke het Groot-Brittanje die beheer van die Kaapkolonie oorgeneem en ook gepoog om sy gesag in Graaff-Reinet af te dwing. Die burgers het egter geweier om dit te aanvaar of om ʼn eed van getrouheid af te lê. Hulle is egter na minder as ʼn jaar van eie bestaan militêr deur die nuwe Britse bewind onderwerp. Historici is dit oneens of dit ʼn eerste republikeinse poging van die Afrikaners (oftewel Nederlanders in Suid-Afrika) was, en of dit veral oor griewe soos veiligheid, arbeid en belasting gegaan het en daar geen groter politieke doel was nie. Bygesê, ook die Amerikaanse vryheidstryd het begin met ongelukkigheid oor belasting.

Die tyd van republikanisme onder die Afrikaners was veral die 19de eeu, meer spesifiek die Groot Trek van 1836-1838 en die tyd daarna. Na die oorwinning by Bloedrivier oor die Zoeloes is die Republiek Natalia na ʼn verdrag met die Zoeloes in 1839 gestig. Pietermaritzburg was die hoofstad waar ook die Volksraad gesetel was. Ook in die Noordelike Vrystaat het die Voortrekkerrepubliek van Winburg en noord van die Vaal die Republiek van Potchefstroom tot stand gekom. Andries Pretorius, die leier van Natal, het gepoog om die drie republieke te verenig. Na net 4 jaar, in 1843, het Brittanje egter Natal verower en dit ʼn Britse kolonie gemaak. Potchefstroom en Winburg het in reaksie daarop verenig en die Voortrekkers in Natal opgeroep om eerder oor die Drakensberge na die vrye binneland te trek as om onder Britse bewind te bly, wat die meeste gedoen het. In veral die gebied noord van die Vaalrivier het wydverspreide, kortstondige republieke ontstaan soos Ohrigstad, Lydenburg, Soutpansberg en Utrecht. Daar het egter ʼn vrye verkose Volksraad as oorkoepelende liggaam van die verspreide Voortrekkers en ʼn grondwet bestaan, alhoewel die sentrale gesag ontbreek het. Geografiese en institusionele saamvoeging was ʼn gedurige uitdaging vir die leiers. Die tendens om eerder af te skei en te isoleer pleks om ʼn groter Voortrekkerstaat te stig was baie sterk. Behalwe vir die verdeeldheid onder mekaar was daar die sterk vyandige kragte van Groot-Brittanje as imperiale mag, aan die een kant, en swart volke soos Zoeloes, Ndebeles, Xhosas en Basothos wat gereeld die Voortrekkerstate aangeval het, aan die ander kant. Nogtans kon die Voortrekkers met Britse verteenwoordigers onderhandel om die onafhanklikheid van Transvaal met die Sandrivierkonvensie van 1852, en van die Oranje-Vrystaat met die Bloemfonteinkonvensie van 1854 te erken.

Vir bykans ʼn halfeeu het twee soewereine, demokratiese Boererepublieke in die sentrale en noordelike binneland van Suid-Afrika bestaan. Benewens hulle was daar ook kortstondige Boererepublieke soos Stellaland en Goosen in die gebied van Mafeking en Vryburg, die Nieuwe Republiek in Noord-Natal en die Republiek van die klein Vrystaat in ʼn deel van Swaziland. Ten spyte van talle oorloë, ekonomiese benoudhede en interne woelinge kon die twee republieke Transvaal (Zuid-Afrikaansche Republiek) en Oranje-Vrystaat hulle onafhanklikheid handhaaf en geleidelik groei en gedy. Die Oranje-Vrystaat is selfs ʼn modelrepubliek genoem. Die praggeboue uit die bloeityd van die twee republieke aan die einde van die 19de eeu, soos op Kerkplein in Pretoria en in Brandstraat in Bloemfontein, wys die graad van trots en gesofistikeerdheid wat die twee republieke bereik het. Al twee het al die eienskappe van ʼn republiek gehad: ʼn verkose volksraad met ʼn verkose president wat gereeld gewissel het, ʼn grondwet, ʼn vlag, ‘n volkslied, ʼn verdedigingsmag en ʼn staatsadministrasie. Die twee republieke met hulle demokratiese aard was eintlik in die laat 19de eeu voor hulle tyd. In Afrika van die tyd het dikwels tiranniese konings oor swart volke geheers, of Europese moondhede het kolonies direk en hiërargies beheer. Dit is ook betekenisvol dat die Afrikaners nooit enige konings of diktators gehad het nie, en dat die beginsel van vrye burgers wat ʼn verteenwoordige liggaam met ʼn tydelike voorsitter of president verkies, die essensie van republikanisme, so sterk gevestig was en is. Net die VSA het ʼn soortgelyke politieke aard gehad. Die Latyn-Amerikaanse republieke het dikwels in diktatorskappe ontaard en in Asië en Europa was monargieë die reël.

Na die verlies van die Boererepublieke se onafhanklikheid in die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 het die Afrikaners se stryd om republikanisme in die 20ste eeu onverpoosd voortgegaan. Aandrang op demokratiese deelname, mobilisering en geduldige onderhandeling vir konstitusionele ontwikkeling met Brittanje eerder as militêre verset was die aangewese weg (ten spyte van die 1914 rebellie en die Ossewa Brandwag in die 1940’s). Die strewe na ʼn republiek was die Afrikaner se groot ideaal in die eerste helfte van die 20ste eeu, en het na die Tweede Wêreldoorlog en met die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 momentum gekry. Terwyl die Afrikaner in die 19de eeu met hulle republikanisme teen die stroom geswem het te midde van imperialisme, het imperialisme in die 20ste eeu sy appèl en krag verloor. Die stryd vir ʼn eie republiek los van Britse bande is in talle ander kolonies geëggo.

In 1961 kon Suid-Afrika die ideaal bereik onder eerste minister Hendrik Verwoerd. Die republiek van 1961 het egter die groot tekortkoming gehad, wat dit ook van Boererepublieke in die 19de eeu onderskei het, dat dit ʼn multi-etniese republiek was (al is dit ontken), en reeds te groot vir dié staatsvorm was om werklik gepas te wees. Suid-Afrika is vandag nog steeds ʼn republiek, maar dit het min in geneem met die aanvanklike, oorsigtelike burgerrepublieke met ʼn klein grondgebied en ʼn etnies homogene bevolking. ʼn Party wat vir dekades regeer, met ʼn korrupte elite wat meer en meer bronne van mag en kapitaal in hulle hande konsentreer en deur manipulasie van arm massas verkiesings wen, het niks meer te doen met die oorspronklike bedoeling van ʼn republiek nie. Trouens, dit laat ʼn mens dink aan die finale jare van die Romeinse Republiek.

Orania se strewe na ʼn Afrikanerrepubliek knoop aan by die Voortrekkers se strewe om in ʼn groot Suid-Afrika met ʼn diverse bevolking ʼn stuk vryheid in ʼn beheerbare grondgebied vir hulleself op te eis, wat etnies homogeen en demokraties georden is en ʼn sterk Christelike karakter het.

 

Skakerings van groen 9: Van boomstomp tot woonstelblok

Nie alles verloop altyd volgens plan nie, al is die plan ook hoe fyn bedink. Ek was baie gretig om ’n sandbad vir my tuinvoëls in te rig en spring toe met sand en hark aan die werk. Ek kies ’n plekkie in die middel van my siertuin. Van daar af sal die voëls maklik by die blomme kan nektar drink en insekte vang. Ek maak mooi skoon, versprei die sand en hark hom netjies. Opgewonde en vol afwagting gaan sit ek toe agter my lessenaar, waarvandaan ek die skouspel ongesien sal kan waarneem. Uit die hoek van my oog sien ek iets beweeg, maar dit was toe nie ’n voël nie, maar my kat, wat, ewe in sy skik, die nuwe VIP kattoilet kom uittoets! Met dié verwikkeling het ek toe nie gereken nie.

 

Ons hou lente-regruk op Orania. As jy van plan was om van dooie bome en ou hout in jou tuin tydens jou jaarlikse skoonmaak ontslae te raak, sal jy miskien só van plan verander dat jy jouself op heterdaad betrap besig om jou bure se weggooihout van die sypaadjie af ook nog in jou tuin te sit. Hier is hoekom:

 

Soos wat bome afsterf, raak hulle bas losserig. Akkedisse, geitjies en insekte sal onder die bas huis opsit en voëls sal ure lank onder die bas na dié sappige happies soek. Houtkapperbye sal ’n doolhof van tonnels in die hout saag om hulle lewenssiklusse te voltooi. Spegte en ander houtkappervoëls sal aan broeiholtes beitel. Hulle verkies hierdie natuurlike nesplekkies vêr bo die mensvervaardigde nesstompe.

 

As die dooie hout vir ’n paar seisoene onversteurd bly, sal ’n klomp neste vorm soos wat die houtkappervoëls elke beskikbare plekkie op die stomp vir nuwe tuistes gebruik. Algaande die ou neste leeg word, trek die sekondêre broeiholte voëls in.

 

Probeer om ’n hopie takke in die uitsluitingsgedeelte van jou tuin bymekaar te maak. Die verrottende hout sal ’n tuiste bied vir insekte, spinnekoppe en reptiele voordat dit in waardevolle kompos afbreek.

Afrikaner 2050: Geografiese oplossings vir demografiese uitdagings

`n Onlangse artikel uit die pen van die bekende demograaf, prof Flip Smit, dui daarop dat Afrikaners in die jaar 2030 sal moet erken dat hulle die getalleoorlog verloor het. Teen 2050 gaan die situasie nog meer benard wees. Die middeljaarraming plaas Suid-Afrika se totale bevolking op 56,5 miljoen. Die blanke deel van daardie bevolking word op 4,5 miljoen gereken en die Afrikaanstalige deel van die blanke bevolking word op 2,7 miljoen gereken. Prof Smit wys verder daarop dat Suid-Afrika se blanke bevolking met 40 000 per jaar afneem, die Afrikaanssprekende deel van daardie groep met 24 000 per jaar. Prof Smit reken dat daar teen 2030 slegs 1,8 miljoen Afrikaners in Suid-Afrika sal wees en teen 2050 slegs 900 000. Dit beteken dat die Afrikaner teen 2050 minder as 1% van die Suid-Afrikaanse bevolking sal uitmaak. (Sien onderstaande grafika wat oorspronklik op Netwerk 24 verskyn het.)

Faktore soos emigrasie speel `n rol maar daar word gereken dat daar tans 10 000 meer sterftes as geboortes is. Wat emigrasie betref, reken prof Lawrence Schlemmer dat 750 000 Afrikaanstaliges tussen 1990 en 2010 geëmigreer het. Prof Smit skets in sy artikel `n somber prentjie oor die toekoms van die Afrikaner. Dit is `n artikel wat duidelik uitwys hoe daar anders gedink en beplan moet word in tye waar nóg getalle nóg politieke mag aan jou kant is. So uitstekend nagevors soos die artikel is, stop prof Smit tog na my mening kort van `n daadwerklike oplossing. In die laaste deel van sy artikel verwys hy na twee groepe Afrikaners. Die een groep onttrek hulle van die samelewing en vestig hulle binne sekuriteitsgebiede en agter veiligheidsheinings. Dit is diegene wat die pad van politieke korrektheid of die minste weerstand volg. Dan, reken prof Smit, is daar ook `n tweede groep. Dié groep maak bydraes tot die welstand van alle mense en lewer onbaatsugtige diens aan die breër gemeenskap. Sodoende sal hierdie groep hulself onmisbaar maak.

Prof Smit is wel korrek dat bovermelde twee groepe bestaan. Daar is inderdaad die groep wat, na die verlies van politieke mag, hulself uit die samelewing onttrek het. Hulle vestig hulle op ‘golf estates’ en vermy politieke gesprekke uit vrees dat hulle geteiken kan word. Daar is inderdaad ook die tweede groep wat poog om hulself onmisbaar te maak. Ek twyfel egter of die groep al daarin geslaag het om hulself onmisbaar te maak. Ongeag die harde werk wat sommige van die persone in die staatsdiens lewer, sal hulle steeds in die slag bly wanneer dit by regstellende aksie kom. Die gedagte dat jy kan hard werk en jouself sodoende onmisbaar maak, is verskeie kere sedert die implementering van die Wet op Gelyke Indiensneming in 1996 verkeerd bewys.

Die onderstaande kaart wys die bevolkingsverspreiding na afloop van die 2011 sensus. Die groen kolletjies dui die swart bevolking aan, die oranje kolletjies die bruin bevolking en die pers kolletjies die blanke bevolking.

Wat ons uit die kaart moet neem is dat Afrikaners kan onttrek na hulle veiligheidskomplekse of hard werk om te probeer om hulself onmisbaar te maak, maar hulle sal nie met een van bogenoemde opsies hulle politieke situasie verbeter nie. Slegs waar `n minderheid `n meerderheid in `n geografiese gebied vorm, kan hy besluit hoe munisipale belastinggeld bestee word, wat die taalbeleid in plaaslike skole is en wat die naam van die straat is waarin hy bly. Slegs dan sal Afrikaners werklik weer seggenskap hê oor dit wat hulle direk raak. Prof Herman Giliomee word aan die einde van die artikel as volg aangehaal: “In die 20ste eeu het die opkoms van Afrikaners as etniese groep en van Afrikaans as openbare taal groot aandag in die Westerse wêreld getrek. Die kans dat albei in die loop van die 21ste eeu kan verdwyn is nie meer so vergesog nie.”

Indien ons besef dat konsentrasiepolitiek swaarder kan weeg as getallepolitiek hoef ons nie prof Flip Smit se projeksies as `n apokalips-scenario te sien nie.

 

Die republiek, republikanisme en die Afrikaner. Deel 1. Die historiese konteks. Van die Romeinse res publica tot vandag

Die term republiek en republikanisme het nog steeds ‘n sterk klank en appèl in Afrikanerkringe. Ook die Orania Beweging streef na ‘n Afrikanerrepubliek as uiteindelike doel. Wat beteken ‘n republiek en republikanisme? Volgens die huidige begrip beteken die staatsvorm van ‘n republiek dat ‘n (verkieslik verkose) president aan die spits van die staat staan en nie ‘n erflike monarg nie. Verreweg die meeste state vandag, ook Suid-Afrika, is republieke en state wat ‘n koning as staatshoof het, is die uitsondering. Daar is ook allerhande variasies van republieke, soos ‘n sosialistiese republiek of volksrepubliek, ‘n demokratiese republiek, of ‘n Islamitiese republiek.

Die Romeinse Republiek

Laat ons by die begin begin. Republiek is afgelei van res publica uit Latyn, wat beteken “die openbare aangeleentheid of saak”. Nog voor die Romeine het die ou Grieke ook reeds ‘n stelsel van stadstate gehad wat talle ooreenstemmings met die Romeinse Republiek gehad het, maar die naam republiek kom van die Romeine af en hulle stelsel die bloudruk vir latere republieke geword. Die Romeinse Republiek het gevolg op die Romeinse koningryk, wat deur ‘n volksopstand teen die tirannie van koning Tarquinius Superbus in 510 voor Christus beëindig is. Die staat was voortaan nie meer die besit en verantwoordelikheid van die koning nie, maar van die burgers (wat in die tyd net mans met burgerregte was). Die beginsel was die beheer deur die burgers deur middel van deelname en die verdeling van mag tussen verskillende instansies en persone.  Aan die spits van die staat was die konsuls. Daar was altyd twee konsuls wat saam regeer het en mekaar kon veto om mekaar in toom te hou, en hulle is net vir ʼn termyn van ‘n jaar verkies. Die konsuls het die weermag gelei, die senaat voorgestaan en wette voorgestel. Die senaat was ‘n nie-verkose liggaam met veral ‘n raadgewende en debatterende funksie en is saamgestel uit verdienstige senior burgers, almal adellikes. Hulle het lewenslank gedien, maar kon deur die censor weens wangedrag van hulle posisie onthef word. Benewens die senaat was daar ‘n verkose liggaam, die comitia centuriata wat uit adellikes saamgestel is en die konsuls verkies en wette aanvaar het. Later het op druk van die gewone burgers ‘n concilium plebis bygekom, wat die volkstribuun as hulle verteenwoordiger gekies het. Om in tye van oorlog nie deur te veel kompeterende instansies lamgelê te word nie, was daar ook die funksie van die diktator, wat egter streng tot 6 maande beperk was en wat na die einde van ‘n oorlog of krisistydperk weer sy amp moes opgee. Daar was ook geskrewe wette, en die Romeinse regspreking is die basis van die Westerse regstelsel. Moderne terme soos senaat, magistraat, komitee en sensus wys hoe diep die Romeinse staatsbestel die Westerse een en uiteintlik die hele wêreld s’n beïnvloed het.

Die Romeinse Republiek was geen demokrasie in die huidige sin nie, en die adellikes (patrisiërs) het meer mag as die gewone burgers (plebejers) gehad en aanvanklik kon net die adellikes ampte beklee. Na talle konflikte en wrywings tussen die twee groepe kon die plebejers meer magte kry, tot hulle uiteindelik teen 287 voor Christus ten volle gelyk voor die reg was. Die plebejers het besef dat hulle die grootste las van die staat dra, byvoorbeeld as soldate en boere, maar nie behoorlik verteenwoordig was nie, en het deur ‘n staking hulle mag gewys en die elite gedwing om aan hulle eise toe te gee. Benewens die senaat vir die adellikes het die plebejers hulle eie volksvergadering gekry en as hulle verteenwoordiger die volkstribuun. Dit het lank gevat, deur ‘n proses van trial and error, tot die Romeinse Republiek sy uiteindelike vorm gekry en goed gewerk het, nog steeds met talle beperkinge. Nogtans was dit vir daardie tyd, waar omtrent orals absolute konings geheers het, ‘n voorbeeldige staatsbestel. Moraliteit en sedes was hoog en dit is as eer beskou om die staat te dien, nie as ʼn manier om mag en geld te versamel nie.

Soos wat Rome van ‘n stadstaat met ‘n hinterland verander het in ‘n groot ryk wat verder as die Italiaanse stamland gestrek het, het die republiek egter voor meer en meer uitdagings gekom. Sy leiers het korrup en magsbehep geraak soos wat die militêre en die uitbreiding van die grondgebied al hoe belangriker geword het en populêre generaals die senaat se gesag uitgedaag het. Dieselfde persone is weer en weer as konsuls hries en diktators het nie meer by hulle termynbeperkingegehou nie en selfs krisisse geskep om aan bwind te kon bly. Julius Caesar se gevegte teen die senaat in die naam van die volk (maar eintlik ter wille van homself) is ‘n bekende voorbeeld daarvan, maar daar was ander voor hom soos Marius en Sulla. Die Romeinse Republiek is amptelik in 27 voor Christus beëindig en deur die keiserryk vervang, alhoewel dit reeds dekades voor die datum terminaal siek was. Die hoofrede vir die afskaffing van die republiek was dat Rome, wat aanvanklik ‘n stad met ‘n hinterland was, eenvoudig te groot, geografies uitgestrek en etnies te divers geword het en op republikeinse manier met verdeling van mag nie meer beheerbaar was nie. ‘n Republiek pas by ‘n klein, oorsigtelike en etnies homogene entiteit, nie by ‘n ryk nie. Dit is ook nie toevallig nie dat ook later die groot Europese Ryke, met of sonder hulle koloniale verlengstukke, feitlik almal monargieë was.

Van die Middeleue tot die Renaissance

Vir eeue was die groot ryke met ‘n absolute heerser die aangewese staats- en regeringsvorm en was die idee van ‘n republiek met burgerlike deelname en verdeling van mag vergete, alhoewel in die uithoeke van die wêreld en buite die radar van die groot ryke klein, kwasi-republikeinse gemeenskappe bestaan het. Na die val van die Romeinse Ryk in die 5de eeu na Christus het opvolgryke soos die Bisantynse Ryk, die Frankiese Ryk, die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie en ander Europa tydens die Middeleeue beheer. Bygesê het binne die Heilige Romeinse Ryk talle vrystede bestaan wat ʼn vorm van republikeinse stadsregering gehad het, al het die keiser formeel die oppergesag gehad. Ook buite Europa was die groot Ryke soos die Persiese Ryk, die Osmaanse Ryk, die Russiese Ryk, die Sjinese Ryk, die Japannese Ryk ensovoorts die reël.

Eers in die tyd van die Renaissance, juis weer in Italië, het die republiek weer sy verskyning gemaak. Dit was tipies handelstede met ‘n sterk klas van sakemanne soos Genoa, Milan, Venisië, Florence, Pisa en ander wat stadsrepublieke was. Om hulle na buite te beskerm, het hulle onder mekaar federasies gevorm, met sowel die doel om die handel en hulle politieke vryheid te beskerm, byvoorbeeld die Lombardiese Liga. Ook in die gebied van die Baltiese See het sterk, selfstandige en trotse stadstate met ʼn republikeinse regeringsvorm na vore gekom wat saamgebind was in die Hansa as alliansie om hulle belange te beskerm. Polities was die Italiaanse stadstate baie soos die Romeinse Republiek georganiseerd, met verskillende stande of klasse (hoë adellikes, lae adellikes en welvarendes, en die gewone mense). Elke stand het sy eie verteenwoordigende liggame gehad met hulle voorsitters wat verskillende funksies vervul het. Oor tyd het sekere families meer en meer mag in hulle hande gekonsentreer (soos die bekende Medici in Florence) en sekere leiers mag in hulle hande gekonsentreer. Die Italiaanse stadsrepublieke (en die stede van die Hansa) was kultureel gevorderd en toonaangewend, ekonomies voorspoedig en ‘n trotse burgery wat die kunste bevorder het, kon ontwikkel. Die koningryke daarteenwoor het gewoonlik alle mag in die hoofstede gekonsentreer, kuns was veral deur en vir die koning en daar het ‘n groot gaping tussen adellikes en gewone mense bestaan. In die tyd is die konsep van republikanisme ook deur Italiaanse denkers bevorder. Republieke was egter nie beperk tot Italië nie. Switserland was een van die eerste republieke in Europa tydens die Renaissance met ʼn sterk federale en demokratiese charakter. Na die samesluiting van die drie oerkantons in 1307 het Switserland oor die volgende sowat 200 jaar talle oorloë teen die Habsburgryk geveg tot dit sy huidige grootte bereik het.

Daar was ook die Nederlandse Republiek van 1581 tot 1795, wat ‘n federasie van provinsies met sterk selfregering was. Die Nederlanders kon na ‘n lang vryheidstryd, waarin geloof ‘n wesenlike rol gespeel het, hulle onafhanklikheid van Spanje bereik. Nederland se goue era, met ‘n opbloei in die ekonomie, veral die seehandel en ook ‘n opbloei in die kunste, val in die tydperk. Dit is nogal van betekenis vir die latere vorming van die Afrikaners, dat hulle voorouers uit ‘n land met ‘n republikeinse tradisie en ‘n vryheidstrewe kom (meer daaroor in deel 2). In die tyd van die Reformasie het ook godsdienstige republieke ontstaan soos die een van Johannes Calvyn in Genève in Switserland. Republieke was egter die uitsondering, en in die 16de eeu en daarna het die sentralistiese, absolute monargieë, met Frankryk as beste voorbeeld, die langdurigste staatsvorm geblyk.

Van die Verligting tot die huidige tyd

In die 18de eeu, in die era van die Verligting en met die opbou na die Franse Revolusie, het denkers soos Jean-Jacques Rousseau en Monesqiueu ‘n betoog vir die republikeinse staatsvorm gelewer. Hulle het die Griekse stadstate as voorbeeld gestel en was ook aanhangers van die destydse republikeinse eksperiment (wat selfs vir die eerste keer vrouestemreg ingesluit het) op die eiland Korsika (1755-1769). Hulle het egter, miskien tereg, erken dat republikanisme werk vir klein gemeenskappe, maar nie kan werk vir ‘n groot, territoriale staat soos Frankryk met destyds 20 miljoen inwoners nie. Hier sou ‘n konstitusionele monargie die aangewese vorm wees.

Die Verenigde State van Amerika was die eerste suksesvolle republiek aan die einde van die 18de eeu, terwyl die Franse Republiek wat deur die revolusie teweeg gebring is, vinnig in ‘n diktatorskap ontaard het. In die Amerikaanse Grondwet van 1789 (ook die jaar van die Franse Revolusie) is die beginsels van federalisme, verdeling van magte, burgerlike deelname en gewaarborgde regte vervat. Amerikaanse republikanisme het ‘n sterk invloed op Latyns-Amerika gehad, waar na die bevrydingstryd van 1810 – 1821 talle republieke ontstaan het. Die golf het egter nie oorgespoel na Europa nie, waar feitlik alle lande deur konings regeer is, veral na die oorwinning oor Napoleon en die tyd van restourasie. Bestaande republieke soos diegene in Italië is by groter ryke ingelyf. Selfs Frankryk het weer terug geval op die monargie.

Die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) en die groeiende internasionale invloed van die VSA het veel bygedra tot die val van monargieë en die stigting van kleiner, meesal etnies gedefinieerde republieke. Die proses het ook, na die kortstondige opkoms van diktatorskappe, na die Tweede Wêreldoorlog en die dekolonisasie voortgegaan. Feitlik alle voormalige kolonies het republieke geword (dikwels ongelukkig slegs in naam republike, en in praktyk diktatorskappe). Suid-Afrika is ‘n voorbeeld van die konstitusionele ontwikkeling weg van die bande met die Britse monargie heen tot ‘n republiek (meer daaroor in deel 2). Die beginsel dat alle volwasse burgers aan die politieke proses moet kan deelneem, direk of indirek, is vandag in ‘n groot mate internasionale konsensus, ook danksy die dominerende rol van die VSA (en meer nog sedert die val van Sowjet-kommunisme). Selfs die lande wat hulle konings behou het, het hulle magte afgeskaal tot seremoniële hoofde. Kommunistiese “volksrepublieke” soos Sjina, Vietnam, Kuba en Noord-Korea is op papier ook republieke, maar in praktyk diktatorskappe. Hulle model is egter in die gedrang.