by Sebastiaan Biehl | Okt 8, 2013 | Nuus |
Aan die suidpunt van Spanje, by die Seestraat van Gibraltar, raak Afrika en Europa amper aan mekaar. Hier, waar die twee vastelande slegs sowat 60 kilometer van mekaar af is, is ook waar desperate mense uit Afrika daagliks per boot probeer om die paradys, Europa, te bereik en dikwels met hulle lewe daarvoor betaal deur te verdrink.

Volgens ‘n Griekse mite was dit die sterkman Heracles (beter bekend onder die Romeinse naam Herkules) wat die twee vastelande, wat eens aanmekaar vas was en van die Middellandse See ‘n meer gemaak het, uitmekaar gedruk het, waarvan nou twee berge aan weerskante getuig. Een is die bekende rots van Gibraltar en die ander ‘n minder bekende rots in die stad Ceuta, ‘n Spaanse enklawe in Noord-Afrika. Die twee berge vorm die sogenaamde “Suile van Herkules” en het in die antieke tydperk die grense van die bekende wêreld afgemerk. As jy verder wes seil, dan val jy die een of ander tyd van die aardbol af.
Die Britse enklawe, Gibraltar, aan die Europese kant, trek talle toeriste met sy unieke ligging en die rots wat uittroon uit die andersins plat omgewing rondom die stad Algeciras met sy baai. Gibraltar is natuurlik ook ‘n kulturele en politieke aardigheid, ‘n stuk Groot-Brittanje op ‘n smal skiereiland omring deur Spanje. Dié toedrag van sake maak reeds dat ek as Oraniër simpatie met Gibraltar het en nie met sy veel groter buurland Spanje nie, ongeag die feit dat ek dalk meer hou van die Spanjaarde en hulle kultuur as van die Britte. Gibraltar is wel reeds vir 300 jaar, sedert die Verdrag van Utrecht in 1713, deel van Groot-Brittanje. Destyds het Groot-Brittanje in ‘n oorlog tussen verskillende Spaanse koningshuise die kant ondersteun wat sou wen en as prys die strategiese hawestad Gibraltar gekry en daarmee saam die eiland Menorca, wat wel later weer Spaans geword het. Die toegang na die Middellandse See sou daarvandaan beheer kon word en een van die belangrikste seeroetes ter wêreld wees, veral sedert die opening van die Suez-kanaal.

Vir Spanje is Gibraltar ‘n doring in die vlees en die pogings om Gibraltar terug te wen duur al baie jare. Dit is soms minder en soms meer intens, maar geen Spaanse regering het dit nog ooit oorweeg om af te sien van die rots op sy voorstoep nie. In die 18de eeu is Gibraltar ook verskeie kere onsuksesvol beleër. Dit is tot vandag toe ‘n twisappel tussen die twee lande en is vergelykbaar met die gedurige konflik oor die Falklandeilande tussen Groot-Brittanje en Argentinië. In altwee gevalle laat die bevolking van die omstrede gebiede egter geen twyfel waar hulle lojaliteite lê nie. Gibraltar het in 2002 ‘n referendum oor sy status gehou en 99% van die kiesers (met ‘n 90%-deelname) het gestem vir die inlywing by Groot-Brittanje. Britse vlae, asook die vlag van Gibraltar met die veelseggende leuse “nulli expugnabilis hosti” (deur geen vyand verower nie) word orals vertoon om geen twyfel te laat waar die lojaliteit van Gibraltar se mense lê nie. Die beginsel van territoriale integriteit waarop Spanje aanspraak maak, staan teenoor die beginsel van selfbeskikking, waarop Gibraltar steun.
Die politieke toutrekkery oor Gibraltar is tans weer op ‘n mespunt nadat die regering van Gibraltar in Julie vanjaar sementblokke in die see gegooi het om ‘n kunsmatige rif te skep. Spanje het dit dadelik as ‘n aanval op sy territoriale waters en op sy vissermanne gesien, wie se bedryf dan beperk sou word. Die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, sit sedertdien ‘n verbale oorlog op tou en dring by Groot-Brittanje aan om oor die status van Gibraltar te onderhandel, en dit sonder om Gibraltar se regering daarby te betrek. Die status van Gibraltar as tolvrye sone (wat altyd ‘n mate van smokkelary meebring) is verder ook ‘n ergernis vir Spanje.
Spanje het tydens die Tweede Wêreldoorlog ‘n realistiese kans gehad om Gibraltar te herower. Die Duitse diktator Hitler het die Spaanse diktator Francisco Franco Gibraltar as prys aangebied indien Franco aan die kant van Duitsland en Italië tot die Tweede Wereldoorlog sou toetree. Die besit van Gibraltar was strategies uiters belangrik vir seeverkeer en sou in besit van die magte van die As (Duitsland en sy bondgenote) ‘n gevoelige slag vir Brittanje wees. Dit sou wel nie maklik verowerbaar wees nie want die hele rots van Gibraltar was vol verskansings, kanonne, ondergrondse skuilings, ens, maar beslis vir die magtige Duitse Ryk voordelig. Hulle het pas oor Frankryk geloop en was vol selfvertroue. Franco was egter slim genoeg om te besef dat sy land, na ‘n duur burgeroorlog, beëindig in 1939, nie nog deelname aan die Tweede Wêreldoorlog kon bekostig nie en dat die prys van Gibraltar, en ‘n groter deel van Marokko as kolonie, dit nie sou regverdig nie. Die plan van ‘n verowering is dus laat vaar. Hitler se aandag was in elke geval kort daarna op Rusland gevestig en Gibraltar eers vergete. Later, in 1968, met Franco nog steeds aan bewind, het Spanje wel Gibraltar se enigste toegang tot die land gesluit en die skiereiland beleër. Dit is eers in 1985, onder ‘n demokratiese bewind, opgehef, wat Gibraltar se wil tot weerstand en inlywing by Brittanje net versterk het.
Alhoewel Spanje luidkeels kla oor “die laaste kolonie in Europa”, ‘n anachronisme wat nie meer in die tyd pas nie, is Gibraltar intussen eerder ‘n eie entiteit wat van die reg van assosiasie met Groot-Brittanje gebruik maak eerder as van ‘n Britse kolonie. Die gebied het reeds ‘n groot mate van selfbestuur en het ‘n eie parlement. Groot-Brittanje hanteer slegs die interne veiligheid, verdediging en internasionale verteenwoordiging van Gibraltar. Die Britse regering se houding is dat Gibraltar self oor sy toekoms kan besluit en natuurlik ook kan kies om deel van Spanje te word. Dit is hoogs onwaarskynlik soos die referendum van 2002 bewys. Spanje se gekerm oor Gibraltar se territoriale integriteit is natuurlik ook skynheilig, aangesien Spanje self twee stede, oftewel “kolonies”, in Noord-Afrika besit, Ceuta en Melilla, wat geografies deel van Marokko is en deur die land opgeëis word.
Dit is ook interessant dat die bevolking van Gibraltar geen oorgeplante Engelse is nie, maar reeds ‘n eie volk wat ontstaan het uit mense van Britse, Spaanse, Maltese, Portugese en Italiaanse herkoms. Dit word ook in vanne soos Picardo, Caruana en Bossano weerspieël. Die oorgrote meerderheid is Katolieke soos die Spanjaarde en nie Anglikane soos die meeste Britte nie. Ook hier kan ‘n parallel met die Afrikaners getrek word, wat uit verskeie Europese volke saamgestel is en hulle eie identiteit gevorm het. Kultureel is die Gibraltese wel Brits, soos ‘n mens aan die argitektuur in die ou deel van Gibraltar, aan die “pubs” en natuurlik ook aan die Engelse taal sien, al lyk hulle meesal Meditereens en is die rooikoppe met sproete gewoonlik besoekende toeriste uit Engeland.
Afgesien van die kulturele en geskiedkundige bande bied die inlywing by Groot-Brittanje ook ekonomies groter voordele vir Gibraltar as vir die toevoeging tot Spanje. As ‘n mens van die Spaanse kant by die dorp La Linea na Gibraltar oor die grens stap, dan val dit dadelik op dat alles skoner, meer georden en meer voorspoedig lyk. Jy stap in ‘n sekere sin van ‘n arm Suid-Europa na ‘n welvarende Noordwes-Europa, met die weer wat gelukkig dieselfde bly. Gibraltar se ekonomie is verder veral gebou op toerisme. Toeriste word ook deur die feit gelok dat Gibraltar ‘n geopolitieke en kulturele aardigheid is, iets wat Gibraltar behoorlik benut. Die stad is nogal duur en alle besienswaardighede, soos die rots van die ape met sy grotte en ondergrondse skuilings, jaag ‘n aansienlike klomp geld uit jou sak uit. Slegs die tolvrye produkte soos drank, sigarette en elektronika kan goedkoper verkry word. Die geldeenheid is natuurlik die Britse Pond, waarby ook in Euro (teen ‘n slegte wisselkoers) betaal kan word. Verder is die ekonomie van Gibraltar op hawe en finansiële dienste aangewese. Die eenvoudige werk, soos skoonmaak, bouwerk ens., word wel meestal deur Spaanse gasarbeiders verrig, wat in die oggend oor die grens stap en Gibraltar weer in die aand verlaat. Die regering van Gibraltar waak met ‘n eie identiteitskaart daaroor dat geen stille besetting deur Spanjaarde plaasvind nie. Wat ook in sy guns tel, is dat die skiereiland reeds so dig bevolk is dat daar eintlik nêrens meer plek is vir mense om nog huise te bou nie en dat die pryse vir eiendom besonder hoog en vir Spaanse gasarbeiders moeilik bekostigbaar is. So het daar amper ‘n scenario net soos in die ou Suid-Afrika in die kleine ontstaan, met die “township” La Linea net anderkant Gibraltar se grens en mense wat elke dag heen en weer pendel tussen werkplek en woonplek.
Gibraltar is slegs 6.5 km2 in omvang en het ‘n bevolking van meer as 28 000 mense, wat ‘n digtheid van 4 400 mense per vierkante kilometer beteken. Voeg daarby dat meer as die helfte van die grondgebied wat uit die rots bestaan, onbewoonbaar is vir mense en die habitat van die beroemde ape is, die enigste vrylewende ape in Europa.
Hier eindig die parallelle met Orania beslis, want ons het waarlik nie ‘n tekort aan plek nie en ons verrig ons arbeid self! Dit is selfbeskikking waarna ons streef en wat klaarblyklik goed vorder op Gibraltar.
by Sebastiaan Biehl | Okt 7, 2013 | Nuus |
Prof. Koos Malan het onlangs ‘n studie gedoen oor onderskeidelik die Baske en die Katalane se oorlewingstryd teen Spaanse oorheersing (veral tydens die Franco-diktatorskap van 1939 tot 1975) en hulle onderskeie strategieë bekyk.
Kortliks is sy bevinding die volgende: Die Baske, ‘n klein volk met ‘n unieke taal wat aan geen ander taal verwant is nie, het die onderdrukking met gewelddadige verset beantwoord. Nasionalistiese groepe soos ETA het met bomontploffings, ontvoerings en sluipmoorde op Spaanse gesagsdraers teen die oorheersing geveg. ‘n Bloedspoor loop deur die Baskiese versetpoging en is natuurlik hardhandig deur Spanje beantwoord en het simpatie en steun vir die Baske buite hulle gebied beperk.
Nie almal het die gewelddadige opsie gekies nie en daar was nasionalistiese partye ook wat die politieke pad gevolg het. Maar hulle was almal op die een of ander manier aan ETA gekoppel en het geweld as opsie verdedig. Die Baskiese taal het blykbaar net ‘n ondergeskikte rol gespeel en is nooit ontwikkel tot die vlak van ‘n volwaardige akademiese taal nie. Die Baske het toe uiteindelik teen die einde van die Franco-era en geleidelike toegewings van die Spaanse regering ‘n mate van outonomie bereik.
Die Katalane het ‘n ander benadering gevolg. Hulle het die kulturele en taalonderdrukking beantwoord met ‘n koestering en uitbou van hulle taal. In die tyd van onderdrukking was die ruimte vir politieke verset beperk en daarom het die Katalane ‘n soort intellektuele verset gevolg. ‘n Magdom publikasies in Katalaans het in dié tyd die lig gesien, daar is toneelstukke opgevoer en daar was kultuurfeeste.
Alhoewel die Franco-diktatorskap dit beslis nie aangemoedig het nie, het hulle dit ook nie kon verhinder nie want dit was nie onwettig nie. Alhoewel Spaans die amptelike taal ook in Katalonië was, het niks die Katalaanse skrywers verhoed om in hulle eie taal vir hulle eie mense te skryf nie. Teen die einde van die Franco-era het die Katalane ook, soos die Baske, geleidelik outonomie bereik en staan vandag polities sterk, met hulle eie deelstaat en eie regering. Daar is selfs sprake van afskeiding.
Afrikaners leef eweneens onder ‘n bewind wat onsimpatiek is teenoor hulle strewe en kultuur en wat graag een ideologie, een taal en een identeit op die land wil afdwing.
Die huidige onderdrukking van Afrikaners is nie so erg dat geen ander uitweg behalwe gewelddadige verset oorbly nie. Gewelddadige verset, so wil dit voorkom, is ook nie deel van die Afrikaner se kultuur nie (anders as by die Baske, aldus prof. Malan) en die paar pogings tot geweldpleging was almal onsuksesvol, as ‘n mens dink aan die AWB se Bophuthatswana-inval of die bestorming van die Kempton Park Konferensiesentrum of meer onlangs die Boeremag se optrede. Die militante Afrikaner-organisasies is deurspek met spioene en agents provocateurs en anders as die Baskiese ETA het die Afrikaners nie die hart om verraaiers te vermoor nie.
Boonop is Afrikaners versprei en het geen etniese basis soos die Baske vanwaar hulle kan opereer nie en leef die meerderheid ‘n gemaklike middelklasbestaan wat nie bevorderlik is vir terrorisme nie.
Die Katalaanse opsie van intellektuele verset is wel ‘n pad wat gangbaar is en wat reeds gedeeltelik deur die Afrikaner gevolg word. Anders as die politieke oorheersing van die ANC, wat dikwels met geweld en aggressie onderskraag word (as ons dink aan die onverdraagsaamheid teenoor ander politieke partye en die uitskakeling van teenstanders), is die kulturele oorheersing nie iets wat afgeforseer kan word nie.
Natuurlik word ons gebombardeer met reënboognasiesepies in Engels of in gemengde “Englikaans” en propagandafilms oor die euwels van die wit beskawing, maar dit is iets waaroor Afrikaners ‘n keuse kan uitoefen of hulle daaraan blootgestel wil word. Die politieke oorheersing deur die ANC word deur meeste Afrikaners tans as onvermydelik aanvaar (al is dit met klagtes en tandekners), maar die pogings tot die swart “nasiebou-ideologie” word deur die oorgrote meerderheid Afrikaners verwerp en hulle inneem van Engelse ligte vermaak het meer te doen met ‘n gebrek aan verskeidenheid as ‘n bewustelike keuse.
Die veld vir intellektuele verset lê wyd oop en word toenemend deur Afrikaners betree. Die begin is gewoonlik in die kategorie “ligte vermaak”, wat ons in die geval van die Afrikaner al vir ‘n geruime tyd beleef deur die kunstefeeste, musiekblyspele en films. Toenemend ontstaan daar egter dieper kulturele werke, soos sangers wat onomwonde die bewind aanvat en hulle volk se haglike toestand bekla, films wat Afrikanertemas simpatiek en met begrip behandel en wegbeweeg van die “wit skuld” en apartheidtema en skrywers wat nie meer ontvlugtingsprosa skryf nie, maar versetliteratuur.
Die terrein van gewelddadige verset is nie iets waarop Afrikaners hulle in aansienlike getalle en nog minder met sukses begeef nie. Die terrein van die partypolitiek bied min ruimte met die gesegmenteerde de facto-tweepartystelsel (altans in die algemene persepsie waar daar net tussen ANC of nie-ANC gekies word) en die Afrikaner se ekonomiese onmisbaarheid is ook reeds as ‘n drogbeeld bewys. Verder is al die genoemde pogings dié van reaksie, om iets te behou eerder as om iets nuuts te verwerf, naamlik kulturele selfgelding wat uiteindelik in vryheid moet uitmond.
Die terrein van intellektuele en kulturele verset is nog nie behoorlik ontgin nie. Nog steeds lees Afrikaners hoofsaaklik Engelse boeke en kyk Engelse televisieprogramme en films. Op die musiekterrein is Afrikaans taamlik prominent, maar ‘n mens hoop vir meer uitgesproke en gelyktydig kwaliteitmusiek. Die terrein van skryf is seker nog die minste ontgin en voer ‘n randverskynselbestaan.
Laat ons die ruimte vir intellektuele verset dus beset terwyl ons kan. Latere politieke selfbeskikkingspogings kan in elk geval nie slaag as daar nie ‘n ryk kultuur is wat tot sy reg moet kom en waarvoor die stryd die moeite werd is nie. Om maar net ‘n blanke Westerling in Afrika te wees is niks spesiaal nie, maar om ‘n Afrikaner met ‘n ryk geskiedenis, literatuur- en kultuurskat te wees is wel besonders en is iets wat nie verlore mag gaan nie.
*Hierdie artikel het vroeër vanjaar in die Orania Beweging se ledetydskrif, Voorgrond, verskyn.
by Sebastiaan Biehl | Aug 8, 2013 | Nuus |
Die opskrif sê van meet af dat ek nie meer kan doen as waarneem nie, en wel hier en daar ´n bietjie subjektiewe inligting van mense wat hier woon en werk kan gebruik. Daar is seker doktorsgrade op die internet beskikbaar vir diegene wat in diepte op die onderwerp wil ingaan.
Die meerderheid Spanjaarde behoort tot die Katolieke Kerk, seker naastenby 90%. Die oorgrote meerderheid van hulle is egter nominale Katolieke wat selde kerk toe gaan. Die Katolieke Kerk was van lankal af ‘n groot magsfaktor in Spanje en alhoewel dit geleidelik sy invloed begin verloor, is dit nog steeds ‘n magtige instelling. Trouens, die Katolieke Kerk en Spanje was amper sinoniem. Die Katolieke Kerk in Spanje was aan die voorpunt van die Inkwisisie, die Spaanse konings was die groot verdedigers van die Katolieke godsdiens en diegene wat Protestantisme beveg het. In die meer onlangse Franco-era (1939-1975) was die Katolieke Kerk een van die steunpilare van die bewind en ‘n behoudende mag.
Spanje is vandag egter redelik ewe gelyk verdeel tussen die konserwatiewe element (wat tans regeer met die Partido Popular of Volksparty) en die linkse, anti-kerklike element (polities verteenwoordig deur die Partido Socialista de Orbreros, PSOE, asook kleiner vêrlinkse partye en die vakbonde). Die Katolieke Kerk se vereenselwiging met die regse deel van Spanje het gemaak dat die PSOE-regerings (die mees onlangse een van 2004 tot 2012 onder Jose Luis Zapatero) die Katolieke Kerk se vlerke geknip het en wetgewing ingevoer het wat lynreg in stryd met Bybelse sienings is (vergemakliking van egskeiding en aborsie, aanvaarding van gay-huwelike, ens). Spanje het in die laaste 30 jaar meer en meer sekulêr geraak, ‘n tendens wat orals in Europa voortduur en die Katolieke Kerk se invloed het daarmee saam gekwyn. Die talle pragtige kerke in elke Spaanse stad en dorp wys egter die geweldige mag wat die Katolieke Kerk gehad het en nog steeds gedeeltelik het. Nog is dit nie so ver soos in Nederland nie, waar kerke as stoorplekke gebruik word.
Ek het ‘n paar kere ‘n Katolieke mis bygewoon, in die week (elke aand behalwe Maandag is daar ‘n mis) en ook op ‘n Sondag, selfs met die biskop van Almeria wat gepreek het en in volle ornaat sy opwagting gemaak het, met die mitra op sy kop en die silwer herderstaf in sy hand en voorafgegaan deur wierrookswaaiende misdienaars. Die bywoning van die mis is egter maar net effens, dit is hoofsaaklik vroue bo 50 jaar en selde meer as sowat 50 mense. Die verrigtinge is formeel en dit verskil in wese nie veel van die gereformeerde, formele dienste nie wat die liturgie betref, met Bybellesing, geloofsbelydenis, preek en seën. Natuurlik het die Katolieke Kerk allerhande byvoegings en tradisies wat onbybels is en maak dat ek my afstand handhaaf, al beïndruk hulle pragtige kerke en hulle geordendheid en waardigheid my wel.
Spanje het die hervorming in die kiem gesmoor en daar is nie iets soos ‘n “amptelike” Protestantse Kerk nie. Die mense wat tot die Protestante in die wyer sin behoort is slegs om en by 1%, dit is dus ‘n amper weglaatbare minderheid as dit bloot gaan oor getalle. Meer nog, hulle is verdeel in talle klein kerke wat almal op die oog af Charismaties of Pinkster is. Blykbaar is daar egter wesenlike verskille tussen hulle, wat maak dat selfs so ‘n klein groep mense nie een kerk kan vorm nie. Dit was, so sleg soos wat die situasie is, in ‘n sekere troos vir my om te besef dat die kerkverdeling geen Afrikaner-eienskap is nie, maar blykbaar iets wat saamgaan met die Protestantisme. Mense uit Finland het dieselfde tendens by hulle bevestig: ‘n Groot “amptelike” maar dooie en polities-korrekte Lutherse Kerk en talle klein evangeliese kerke.
Ek het verskeie van die evangeliese dienste bygewoon, met bywoningsyfers van so min as 10 tot so baie as 100, maar met groot entoesiasme en meelewing, en gewoonlik meer as twee ure lank. Dit begin gewoonlik met sang met orkesbegeleiding wat ‘n uur kan aanhou en meer en meer tot ‘n hoogtepunt kom wat dan direk oorgaan in algemene bid wat hier en daar in geskreeu ontaard. Dan volg gewoonlik ‘n goeie, suiwer preek en dan weer saamsing en daarna nog saamkuier en saameet in die kerk. Al verkies ek die formeel-gereformeerde opset, het ek vrede gemaak met hoe dit hier gedoen word, dit pas immers by die Spaanse, meer emosionele geaardheid.
Die Protestantse kerke hier is feitlik almal nog kerke in wording, of pionierkerke en die lidmate is meesal arm, anders as in Suid-Afrika se voorstede, waar die charismatiese kerke intussen by uitstek die kerke vir die welvarende middelklas is. Dienste word gehou in gehuurde store of sale wat die sjarme van ‘n fabrieksgebou het, in totale teenstelling van die Katolieke Kerke met hulle prag en praal van eeue gelede. Wat egter tel is die Gees wat teenwoordig is. Verder is dit opvallend dat die lidmate baie divers is, met aansienlike getalle mense uit die immigrantegemeenskap (mense uit Afrika en Latyns-Amerika). Evangeliese Spanjaarde is werklik iets wat nogal skaars is, seker nie verbasend as ‘n mens die algemene tendense in Europa in ag neem. Dit wil voorkom asof die godsdiens in Europa net meer en meer verval en geen omdraai in uitsig is nie, terwyl buite Europa meer en meer herlewing plaasvind.
by Sebastiaan Biehl | Jul 24, 2013 | Nuus |
Almeria, die stad waar ek sedert die begin van Junie woon, is in die provinsie Andalusië in die suide van Spanje geleë. Dit is ‘n belangrike hawestad met talle veerbote na Marokko en Algerië.
Die naam Almeria is van Arabiese oorsprong (Al-Mariyah) en beteken “spieël” wat verwys na die see wat meesal soos ‘n spieël lyk, sonder golwe. Dit was vir eeue ‘n Arabiese stad (die Arabiere oftewel Moore het die grootste deel van Spanje in die Middeleeue beset) tot dit in die 15de eeu in die proses van die Reconquista (herowering) deur die Christelike Spanjaarde verower is. Daar is nog geboue uit die tyd van die Moore, soos die Alcazaba (n enorme kasteel uit die 10de eeu wat bo die stad uittroon), en die moskee, wat later ‘n kerk geword het. Daar is natuurlik ook ‘n hele paar pragtige Katolieke kerke uit die laat Middeleeue en daarna. Ten spyte van die besienswaardighede is toeriste hier redelik skaars wat daarmee te doen dat Spanje eenvoudig te veel besienswaardige stede het, en toeriste na Andalusië se reisplanne sluit gewoonlik die hoogtepunte Sevilla, Granada, Cordoba, Malaga en Ronda in, en vir Almeria bly dan nie nog tyd nie. Dit maak dat die stad ‘n Spaanse karakter behou het en nie net leef vir toerisme nie en daarmee saam sy karakter prysgee om buitelandse geld te verkry nie. Dit bring ook mee dat feitlik nêrens Engels gepraat word nie (anders as byvoorbeeld by die Costa do Sol rondom Malaga, waar omtrent alle aanwysings en advertensies al tweetalig Spaans en Engels is ter wille van die groot getalle Britse sonsoekers). Sonder ‘n bietjie Spaans om ten minste iets in ‘n restourant te bestel of inkopies te kan doen en jou pad te vra sal jy sukkel.
Die stad het sowat 170 000 inwoners, waarvan ‘n deel mense van Marokko is, wat meesal in die armer dele woon en hulle eie groep vorm en min met die Spanjaarde meng. Ooglopende konflik tussen die groepe is daar baie min, maar die Spanjaarde het oor die algemeen nie veel ooghare vir die Marokkane nie, wat ‘n ander godsdiens (Islam) en gewoontes het en ook die grootste deel van die arm bevolking uitmaak. In die deel waar Marokkane gekonsentreer is, is dwelmmisbruik en misdaad, maatskaplike probleme en algemene verval nogal ooglopend. Dit gesê, het ek egter met heelwat Marokkane te doen gekry wat vriendelik, gasvry en ordentlik is en goeie morele waardes (in die konteks van Islam) aanhang en trots is op hulle kultuur.
Die klimaat is nogal baie soos Orania s’n, altans in die somer: baie warm, altyd son, en droog. Die omgewing is barre rotswoestyn, maar ten spyte daarvan is die stad groen, met talle palm-, sitrus en ander bome wat die groot strate begrens en ‘n aangename voorkoms aan die stad gee.
As ‘n mens vanaf die netjiese en geordende Middel-Europa na Spanje kom, is dit eers ‘n aanpassing. Dit is ooglopend dat Afrika geografies al taamlik naby is: die strate is vuil, talle geboue onversorg en half vervalle. Die ekonomiese krisis wat Spanje tans beleef (en Almeria het ‘n werkloosheid van 45%) speel daarby ook ‘n rol. Op die oog af gaan die lewe aan, mense is meesal netjies geklee, gaan eet en doen inkopies. Maar as ‘n mens van nader kyk val die talle mense op wat snags in asblikke na bruikbare goed krap, en elke tweede gebou staan leeg en is te koop of te huur, veral in die ou stad.
Die reuke wat jy dikwels aantref is riool, rommel, hondemis of vis, en af en toe ‘n daggawalm. Alhoewel die munisipaliteit gereeld die vullisdromme leegmaak en strate skoonmaak en mense probeer aanmoedig om hulle hondemis op te tel en weg te gooi, gee mense nie veel daarvoor om nie. Vergelyk dit met Weenen, ‘n veel groter stad wat silwerskoon is. Hier word ook meer gerook as in Middel-Europa, en nogal heelwat sigare. Wat die kleredrag betref is die ouer mense (veral die ou vroue) meesal elegant geklee, die jong vroue stylvol en nogal verleidelik, die jong mans en tieners taamlik informeel. Tatoeëermerke is ook opvallend volop by die jeug.
Die lewe vind plaas op straat, nie in mense se privaathuise nie. In die huise word gebad, sekere etes geëet en geslaap, maar al die ander dinge gebeur op straat. Die oorgrote meerderheid mense woon in woonstelle, private huise met groot tuine is amper ongehoord, selfs in die voorstede. Dit is in sterk teenstelling met die Britse (en ook Afrikaanse) leefwyse van “My home is my castle” en die openbare ruimte wat veral, om verstaanbare redes, onder wit Suid-Afrikaners as ‘n amper vyandige plek beleef word. Hier is orals pleine, straatkafees en kroeë en restourante.
Die ritme van die tipiese Spaanse stad is so: mense slaap redelik laat, tot 8 uur, eet dan ‘n vinnige ontbyt (desayuno) bestaande uit sterk koffie met baie melk (wat hier uit glase, nie bekers of koppies nie, gedrink word) en ‘n roosterbrood met konfyt of ‘n joghurt. Die idée om spek en gebakte eiers vir ontbyt te eet is hier absurd, en toe ek dit een keer wou maak, het my “landlady” dit baie vreemd gevind. Eers na 9 uur begin besighede open en is mense op straat tot so om en by 12 uur, wanneer mense vir die klein honger gewoonlik by ‘n “bar” (n soort eetkroeg) ‘n koffie, of ‘n bier sal drink, saam met ‘n tapa, ‘n ligte verversing soos n broodjie met vis of vleis, ‘n stuk gebraaide vis, ‘n paar olywe en ham of kaas. Tapas kan ‘n mens natuurlik ook later in die vroeë aand kry, as oorbrugging tot by die aandete (cena).
Die brandende son maak dat in die warmste tyd van die middag, tussen 2 en 5:30, alles sluit en dit soos ‘n Sondagmiddag in Orania lyk, elke dag. Dit is die bekende siësta, wat in hierdie klimaat sin maak. Dan gaan mense van die werk af huis toe, eet middagete (almuerzo) en knip ‘n uiltjie. In die laat middag gaan mense egter weer terug werk toe en winkels maak weer oop en bly oop tot laat, en mense bevolk die strate. So om en by 6 uur sal mense by ‘n koffieplek weer ‘n koffie drink met ietsie soet. Dan, as die temperature so na 7 meer draaglik is, word rondgeloop, op pleine gesit en gesels en by restourante bier, wyn en tapas genuttig. Ook na 10 uur gaan die lewe nog aan, dan eet mense in restourante of kuier op pleine waarvan daar nie ‘n tekort is nie. Nou, in die somer, is ook gereeld musiekvertonings op pleine wat nog tot die lekker kuieratmosfeer toevoeg. Die Spanjaarde het ‘n mooi manier van kuier, daar word uitbundig gesels as families of vriendekringe, maar ek het nooit swak gedrag en dronkenskap in die openbaar beleef nie.
Kultuur is nogal belangrik vir die Spanjaarde en word selfs in tye van ekonomiese benoudheid gesubsidieer. Veral in die somer het elke stad en dorp sy feestye (fiësta) wanneer daar orals musiek- en dansvertonings is, dikwels gratis of betreklik goedkoop. Ook museums is gratis. Die Spanjaarde het ‘n ou en ryk kultuur en geskiedenis en is trots daarop. Dit vind ook sy neerslag in die houding teenoor buitelanders: Hulle is vriendelik en hulpvaardig, maar val nie oor hulle voete om ‘n uitlander se wense te vervul nie en stel ook nie juis belang in ander volke se mense nie. Anders as in Suid-Afrika, ten minste buite die sentrums, waar mense altyd buitelanders nuuskierig sal uitvra oor waar hulle vandaan kom, is dit hier nie die geval nie. Spanje is natuurlik ook een van die top toerismebestemmings en uitlanders is dus niks snaaks nie. Die buitelanders wat langtermyn hier leef berig dat hulle nie sommer vriende maak met die Spanjaarde nie. Dit is in teenstelling met die Afrikaanse kultuur, wat nogal besonder gasvry en oop teenoor buitelanders is, seker ook maar omdat dit ‘n volk is wat uit ‘n mengelmoes volke ontstaan het, en nogal betreklik onlangs.
*Sebastiaan Biehl keer weer later vanjaar na Orania terug. Hy doen tans sendingwerk onder die Marokkane in Spanje.