fbpx

Om te reis bly interessant. Dit neig om ‘n mens nuwe perspektief te gee, of jy daarvoor soek of nie. Na ‘n onlangse besoek aan Vietnam en Kambodja het ek so ‘n dosis perspektief gekry.

My drie weke vakansie het in Vietnam begin. My indruk van Vietnam is baie positief. Die Viëtnamese/Franse kulturele sintese is baie interessant. Daar is pragtige geboue, lekker koffie en kos, die mense het selfversekerde en ontspanne houdings en selfs die konstruksieklanke is sag op die oor. Die land is aan die ontwikkel en dit lyk of almal besig is om vir hulself ‘n beter lewe te beding deur ondernemerskap en handel.

Dit was met hierdie hoë verwagting dat ek die grens na Kambodja oorgesteek het. Onmiddellik besef ʼn mens dat jy nie meer in dieselfde land is nie. Alles is minder ontwikkel en selfs vervalle. My kop kon nie lekker orden wat ek gesien het nie. Daar was genoeg krotbuurtes om my aan Suid-Afrika te herinner, maar die skakerings van ontwikkeld, onder-ontwikkeld en vreemde argitektuur het my kop laat draai.

Net buitekant die busvenster was daar krot en nogmaals krot, ʼn vervalle skool, dan weer uitmuntend versorgde huise, ’n houtfabriek, ʼn vulstasie, huise, eerste klas sportgeriewe, ensovoorts. My (selferkende beperkte) waarneming kon geen rym of ritme aan die stadbeplanning vind nie, en die chaos het my gelyktydig gefassineer en gewalg! Lang storie kort, Kambodja is minder ontwikkel as Vietnam.

Die antwoord op die vraag, ‘Waarom Kambodja soveel minder ontwikkel is’, het baie vinnig gekom in die vorm van ‘n besoek aan die Volksmoordmuseum naby die hoofstad Phnom Phen, die “Killing Fields”.

Die atmosfeer by die museumkompleks is drasties anders as by die ander toeristeareas in die omgewing. Die toeriste met hulle kleurvolle uitrustings wat gewoonlik vrolik en energiek is, is stil, strak en somber. By die ontvangs word jy gegroet met ‘n kaart en oorfone wat dien as jou klanktoergids. Die stemme op die toer verander baie vinnig die moerasagtige kompleks in ‘n letterlike hel op aarde.

Die “killing fields” (moordvelde) was die sistematiese volksmoord wat deur die kommunistiese Khmer Rouge vanaf 1975-1979 uitgevoer is, waartydens meer as 1 miljoen mense uitgewis is. Die Kommunistiese Khmer Rouge regering het enigiemand wat van verset verdink is, gearresteer en vermoor. Etniese minderhede en gelowiges is onder andere geteiken. ‘n Beleid van “eerder per ongeluk ‘n onskuldige vermoor, as per ongeluk ‘n skuldige laat ontsnap” is gevolg. Om ‘n bril te dra was so goed as om jou doodsvonnis te onderteken, omdat jy slim gelyk het. Hele families is daar uitgemoor. In ‘n poging om die volksmoord so goedkoop as moontlik uit te voer, is byvoorbeeld skerp blare gebruik om mense se kele mee af te sny.

Die ergste vir my was die “magic tree”. Naby dié boom was ‘n diesel-kragopwekker wat gebruik is om krag op te wek vir die luidspreker se onaardse musiek, om die slagoffers se lydingsgille te verdoof…

Terwyl ek in ongeloof met die oorfone se begeleide toer van progressief meer gruwelike item na item op die kaart beweeg, hoor mens ook van individue se stories. Met die aanhoor van ‘n spesifieke seun se verhaal van hoe hy totaal uitgelewer was aan die kommuniste se moordsisteem, het ‘n vraag by my opgekom. Waar de hel is die mense wat hom kon beskerm?

‘n Gesprek wat ek in Desember 2015 met ‘n Afrikaanse tannie in haar sestigs gehad het, het ook by my opgekom. Sy was kwaad oor die leuen van die ou bedeling se grensoorlog en die kamstige “rooi gevaar”. Volgens haar was die hele grensoorlog net ‘n leuen. Die titel van die Arno Vosloo fliek “Boetie gaan Border toe” het ook by my opgekom. Wat sou iemand wat op hierdie plek opgeëindig het, met die dieselopwekker se klanke, wat wag op haar beurt vir haar keel om met ‘n skerp blaar afgesny te word, gegee het vir ‘n man op die grens om haar teen die “rooi gevaar” te beskerm? Vir Boetie?

Die werklikheid is dat hierdie volksmoord nie ‘n geïsoleerde geval was nie. Die 20ste eeu se grootste gevaar was inderdaad die “rooi gevaar”. Die dodetal as gevolg van kommunisme is astronomies. Dit het regoor Rusland en Asië plaasgevind, een erger as die ander. Alles in die naam van revolusie, gelykheid en verniet alles. Die gaan die verstand te bowe dat die ikone en simbole van Marxisme vir die langste tyd so populêr was in die Weste. Dink maar aan die Che en rooi ster hempies wat al die “cool” kinders dra. Die tyd van hulle invloed is gelukkig getel na aanleiding van onlangse internasionale politieke gebeure. Die winde van verandering waai gelukkig weer!

Die grensoorlog is myns insiens niks anders as ‘n deel van die Koue Oorlog nie. Umkhonto we Sizwe , The Peoples Liberation Army of Namibia en die Khmer Rouge (onder andere) was almal bewapen, befonds en ideologies geskool deur of die Sowjet-Unie of Sjina. Suid-Afrika en Namibië sou net nog statistiek toegevoeg het tot die kommunistiese moordsyfer as dit nie vir die grensoorlog was wat die kommuniste kon terughou tot en met die val van kommunisme in 1989 nie. Die kommuniste sou oorneem en hulle skrikbewind loslaat. Ek dink ook dat hedendaagse plaasaanvalle ‘n voortsetting is van die destydse taktiek om polisiekantore op te blaas en dan die uitgelewerde boere te vermoor.

Die “cool” kinders is lief om die te spot met diegene wat reken dat kommunisme se “rooi gevaar” regtig waar was. Elke keer as ek dink aan “Die Skynmaagde” se liedjie “Kommunis sokkie” laat dit my bloed kook. Hulle gebruik ‘n sokkieliedjie om ‘n bespotting te maak van enige iemand wat ‘n saak uitmaak dat daar wel so iets soos ‘n “rooi gevaar” was.

ʼn Mens dink aan die deur die Sowjet-Unie befondsde militêre bevrydingsbeweging in Suider-Afrika, Umkhonto we Sizwe, met sy leier Nelson Mandela. Onder die kommunistiese terreurgroepe was die Khmer Rouge besonder radikaal, maar nêrens het kommuniste in die Koue Oorlog tydperk die bewind oorgeneem sonder bloedvergieting, grootskaalse onteiening en ontwrigting nie. Ek is van mening dat as Mandela se kommunisties befondsde organisasie enige tyd voor die val van kommuniste aan bewind sou gekom het, dan sou ons alles verloor het. So nee, boetie (oom, papa, oupa) was nie verniet grens toe nie, boetie het letterlik alles gered. Dankie.