Met ope arms

In sy “Laaste Afrikanerleiers” maak Hermann Giliomee ’n sydelingse punt wat my bly boei, want dit werp lig op ’n teenstrydigheid wat ek lankal raakgesien het, maar nie geweet het wat om daarmee te maak nie.

Die teenstrydigheid is dat Afrikanernasionalisme twee gesigte gehad het – en steeds het, naamlik ’n populistiese én ’n elitistiese. Die punt wat hy sydelings maak, is dat daar ná 1948 ’n verstandhouding tussen die Afrikanerintelligentsia wat ’n verdedigbare beleid verlang het, en die Afrikanerwerkers wat beskerming teen kompeterende en goedkoper swart arbeid verlang het, tot stand gekom het. Dit het naastenby behels dat die intelligentsia hulle moreel verdedigbare weergawe van afsonderlike ontwikkeling en volledige vryheid in aparte tuislande sonder teenspraak kon verkondig solank die werkers hulle aparte beskerming geniet.

Dit verklaar my persoonlike ervaring as nuuskierige kind, naamlik dat getroue nasionaliste en ondersteuners van dr Verwoerd (wat toe al ’n paar jaar dood was), nie veel erg aan die tuislande gehad het nie. Soms het hulle eerder persoonlike bevrediging uit die mislukking daarvan geput, iets wat ek nooit kon begryp nie. Wat van dr Verwoerd hét hulle dan ondersteun as dit nie sy oplossing vir ons brandendste vraagstuk was nie?

Verwoerd, met sy politieke wortels in die Armblanke vraagstuk, sowel as sy besef van die Afrikaner/Blanke minderheid se politieke volhoubaarheidskrisis, kon daarin slaag om beide hierdie behoeftes, naamlik beskerming en staatkundige ontwikkeling oortuigend te versoen. Sy opvolgers het eenvoudig nie oor die insig en aanpasbaarheid beskik om dieselfde te bly doen nie en die twee kante van die nasionalisme-munt het uitmekaar begin dryf.

Beide kante het ten aansien van die Afrikanervolk met in- en uitsluiting gewerk. Diegene vir wie ’n aanvaarbare beleid swaarder geweeg het, was ruimhartiger na buite en kieskeuriger na binne; diegene vir wie beskerming swaarder geweeg het, was kieskeuriger na buite en ruimhartiger na binne. Die “verligtes” was meer tipies elitêr en wou nie deur agterhaalde maatreëls en agtergeblewe volksgenote gyselaar gehou word nie; die “verkramptes” was op ’n omgekeerde manier elitêr: deur die volkslidmaatskap wat mens vir beskerming laat kwalifiseer het tot enersdenkendes (sover dit wit-swart verhoudings aangaan) te beperk, hoewel ‘n populistiese appèl steeds tot beskermingsbehoewendes gerig is.

Dié teenstrydigheid het, ironies genoeg, van twee kante af bygedra tot ’n vreemde verskynsel onder Afrikaners, naamlik om die woord “Volk” (baie dikwels met ’n hoofletter) te gebruik, nie om na Jan en Alleman te verwys nie, maar as die seël van politieke en ekonomiese uitverkorenheid te plaas. Waar nasionalisme in die reël, soos vroeër ook onder die Afrikaners, ’n ideologie is wat sy nette wyd uitgooi, het dit by ons ’n ideologie geword wat mens deur sewe hoepels wil laat spring voordat jy vir aanvaarbaarheid oorweeg sal word.

Met Afrikaners aan die mag en onder die valse indruk dat hulle oor ’n veilige nasionale tuiste beskik, kon dié twee soorte nasionalisme eenvoudig ’n meer liberale en in ’n meer konserwatiewe denkstroom ontwikkel; dit is naastenby wat in ons kortstondige tweede Republiek (van 1961) gebeur het. Maar met Afrikaners wat voor die nood aan ’n nuwe nasionale tuiste en identiteit gestel word, sal so ‘n elitêre aanslag, van watter kant ookal, vernietigende gevolge hê. Dit sal so onsinnig wees as ’n Reddingsdaadbond wat net dié Afrikaners wil red wat goed genoeg is om gered te word. (Wie sal besluit? En aan die hand waarvan?)

Wie van ’n “volk-staat” durf droom, wie ’n nasionale tuiste vir die Afrikaner in die oog het en nie ’n klasgebaseerde mega-sekuriteitsoord nie, sal hieroor moet besin. ’n Volkstaat moet volksgenote met ope arms ontvang, by wyse van spreke sê: “So, jy is ’n skelm Afrikaner? Welkom, ons het net die tronk vir jou!” Of anders gestel, so moeilik as wat dit vir my sou wees om burgerskap van Israel te kry, so maklik was dit vir my klasmaat wat ’n Jood is; die Vrystaat Orania moet dieselfde houding teenoor die Afrikaners in diaspora inneem.

Verblyfreg moet gereguleer word – juis om te verseker dat die Afrikaners wat hier kom woon, ons Vrystaat se vryheid op prys stel en dat die ander wat by ons aansluit, voluit daarby inskakel. Ons bevolkingsregister moet onderhou word – enige moderne staat het dit nodig. Inburgering moet langs informele én formele weë plaasvind – die owerhede het ’n rol daarin te speel en die onderhoude wat met voornemende inwoners gevoer word maak deel daarvan uit. Maar die gedagte van “keuring”, asof ons moet besluit of die Afrikaners wat by ons wil aansluit goed genoeg is om dit te doen, pas by die nasionalisme van ons ondergang.

Die nasionalisme van ons opkoms – in die verlede en nou, die nasionalisme wat aan die derde Afrikaner beslag moet gee, het nie plek daarvoor nie, nie vir die woord nie en nie vir die gees daarvan nie. Dáárin moet ons populisties wees. Daarin staan ons digby die Reddingsdaadbond van die Armblanke-era en die denkwyse wat dr Verwoerd in staat gestel het om beide die beskerming van ons mense én ’n volhoubare staatkundige bedeling tegelyk te bedink.

Inleiding tot die Orania Beweging Burgervergadering van 2013

Carel Boshoff, President van die Orania Beweging, lewer die inleiding tydens vanjaar se Burgervergadering.

Carel Boshoff, President van die Orania Beweging, lewer die inleiding tydens vanjaar se Burgervergadering.

21 September 2013

Geagte Burgers van die Vrystaat Orania

(Ek spreek u só aan in die gees van verlede jaar se inleiding tot die Burgervergadering, nie omdat ons dink dat Orania nou die volkstaat geword het nie, maar omdat die strewe wat in Orania vergestalt is, daarin die tasbare begin van sy verwesenliking vind. Dit stel ons in die gunstige posisie om nie net met ’n soortnaam na ons te herstelde vrystaat/republiek te verwys nie, maar met die vooruitsig van ’n eienaam.)

Tydens hierdie 175ste herdenkingsjaar van die Groot Trek, waaruit ons volk se staatkundige vryheid die eerste keer gebore is, pas dit om erkenning aan dié epogmakende gebeure te gee en vir ’n oomblik by die waarde daarvan vir ons poging vandag stil te staan. Dit sluit aan by ’n deel van die FAK se herdenking van die geleentheid op ’n heel eietydse manier met ’n 4×4 avontuurrit wat vir uitsending op KykNet verfilm en verpak word en waarby verskillende Afrikanerorganisasies inhoudelike bydraes gelewer het. Een sou uitbrei oor veiligheid op die Groot Trek, ’n ander oor kos en die voorbereiding daarvan, nog een oor die voertuie en tegnologie van daardie tyd en die Orania Beweging oor … , nouja, wat anders as die ordening van die nuwe samelewing en die stigting van ’n nuwe staat.

Wat in my nalees vir die geleentheid opgeval het, was, naas die algemene toepaslikheid van daardie geskiedenis op Orania se strewe vandag, ’n stelling van prof Gert Duvenage in sy studie wat gedurende 1988 se Groot Trek 150 (met die tema Op trek an ons eie) gepubliseer is. Dit is dat die staatkundige geskiedenis wat in Desember 1836 by Thana Nchu met die Volksvergadering onder Gerrit Maritz se leiding begin het, in ’n eenheid deurgeloop het tot met die beëindiging daarvan in 1902. Hoe elementêr daardie eerste aanwysing van 5 of 7 “regters” (of eintlik “rigters”) ookal was, en hoe ongeskei die magte van die staat nog was, dit was die begin van ’n volksregering of demokrasie wat sou uitloop op ’n bedeling wat, in die vorm van die Oranje Vrystaat tot vandag toe as ’n modelrepubliek beskryf word.

Waar die Vryheidstigting in die gees van ’n staatkundige strewe opgerig is en sy strukture daaraan uitdrukking wil gee, is dit van betekenis om te sê dat ons die afgelope jaar met ’n beter funksionerende Uitvoerende Raad en met nuwe inisiatiewe binne die Burgerraad ’n beter omlyning van dié liggame se funksionering begin kry en dat hulle, saam met die Federale Forum wat besig is om tot stand te kom en waarby instansies wat oor grond onder eie beheer mekaar ontmoet, die grondslag vir meer as net plaaslike of private selfstandigheid gelê word. Wat reeds in Orania, in besonder deur VAB vermag word, kan op hierdie wyse uitgebrei en versterk word en ’n beweging word wat hoe langer hoe meer uitdrukking aan ons grootse vryheidstrewe gee. Ontvang die verslag van ons Uitvoerende Hoof vandag ook in dié gees.

In die tweede plek wil ek verwys na ’n punt wat dr Jooste, wat danksy gereelde verwysings vir ons jonger en nuwer lede seker al die gestalte van ’n soort mistieke figuur aanneem, aan die begin van Orania se vestiging gemaak het. Hy het in sy boek oor die ’n Afrikanervolkstaat en lesse uit die Joodse vestiging in Pallistina verwys na die spannin wat tussen die nedersetters in die nuwe land en die Jode wat nog elders in die wêreld gewoon het, ingetree het. Sonder om op sy voorbeeld te kan uitbrei, beleef ons dieselfde op verskillende maniere sedert die vestiging van Orania en nog steeds. Daar is ’n verskil tussen binne en buite Orania wat aan die een kant juis gehandhaaf moet word, maar aan die ander kant altyd weer oorbrug moet word.

Aanvanklik is Orania eenvoudig deur Afrikaners elders van die hand gewys en bespot en tot vandag toe moet ons die aanhang wat ons gedagte geniet, nie oorskat nie. En selfs waar Orania en ons vryheidstrewe aanhang geniet, heers daar dikwels verskil van mening oor wat gedoen moet word en hoe. Sulke spanning kan soms verlammend wees omdat inisiatief en ywer maar brose plantjies is wat maklik deur ’n vroeë ryp geknou kan word. Aan die ander kant kan niemand wat ten behoewe van ’n gemeenskap of ’n volk wil optree, bekostig om oorgevoelig vir kritiek te wees nie en moet elkeen wat inisiatief neem, gereed wees om dit nie net altyd weer te kan verduidelik en verklaar nie, maar ook aan die hand van welmenende kritiek aan te pas en te verbeter. Daarom mag ons nie van “robuuste debat” soos die mode=frase dit beskryf, terugdeins nie.

Dit is dan ook die gees waarin ek in die derde plek wil aanknoop by die kritiek van ’n eietydse Nederlandse denker, Hans Achterhuis, op beide sosialistiese en liberale tendense in die moderne samelewing. Dit kom in kort daarop neer dat beide denkrigtings, veral in hulle ekstreme of fundamentalistiese gestaltes, deur utopiese denkbeelde onderlê word. Of dit die Marxistiese utopie van gelyke besit en sentrale beplanning is of dié van Ayn Rand wat vrye teuels aan die hebsugtige individu gee en “letterlik” in die teken van die dollar staan, beide gaan uit van die rewolusionêre impuls om die slegte verlede uit te wis sodat ’n goeie toekoms op ’n skoon begin gebou kan word – baie soos moderne eiendomsontwikkelaars met boupersele omgaan.

’n Element hiervan was ook al deel van die volkstaatdenke soos dit veral aanvanklik beoefen is toe ons by wyse van spreke voor ’n leë lei – of letterlik ’n skoon blaaibord – gestaan het en oor afbakening, bevolking, ontwikkeling, regering, ens. gefantaseer het. Dat daardie vrye vlugte van die verbeelding ’n belangrike deel van ’n nuwe begin soos Orania uitmaak, kan niemand betwyfel nie, maar dat ons uiteindelik met harde en trae werklikhede te make het, soms ook in ons eie gemoed, staan netso vas. Om dit kort te stel: visionêre denke hoef nie utopies van aard te wees om hoegenaamd te bestaan nie. Inteendeel, “ons sin vir werklikheid én ons vermoë om te droom sal toenemend as inspirasie dien vir ons groeiende inisiatief” – om die slot van verlede jaar se inleiding aan te haal. Ek verwys weer daarna omdat daar gevare skuil in wat na onskuldige utopisme kan lyk omdat dit by die gegewe werklikheid verby kan stuur en aan die wortel van geweld kan lê.

Maar ten slotte en op ’n positiewe noot juis ’n verwysing na een van daardie werklikhede wat ons in die Orania Beweging al so lank voorsien het en wat op sy eie tyd en manier besig is om in vervulling te gaan. Ek wil met u die waarneming deel dat Afrikaners oor ’n breë front besig is om afskeid te neem van daardie betekenisgewende frase wat so lank tussen ons idealisme en hulle werklikheidsbesef gestaan het, naamlik “Suid-Afrika eerste”. In die negatief gestel, beleef Afrikaners oor ’n breë front ’n omvattende en diepgaande vervreemding van Suid-Afrika; positief gestel word die vraag na selfstandige ruimtes waarin Afrikaners aan hulle kultuur-politieke bestaan uitdrukking kan gee, toenemend gestel. Ek sou u van heelwat voorbeelde kon voorsien om die punt te illustreer, maar ek vermoed dat u elkeen dié lys sou kon uitbrei sodat ek nou net by die stelling volstaan.

Dit hou vir ons nuwe moontlikhede in wat met oorleg en ywer ontgin moet word terwyl die rig van ons appél tot nuwe gehore ons aanpasbaarheid sal toets. Aangesien ons ’n “volkstaat” in die oog het en die Vryheidstigting nog nooit sektaries was in sy beskouing van “die volk” nie, is die fondamente gereed vir ’n gebou wat groter is as enigiets wat die afgelope 25 jaar ons laat verwag. Kom, laat ons werk.

Versoening, erkenning en Mandela

Buiten vir die Orania Beweging se reaksie op oud-President Mandela se toestand die afgelope tyd, het Afrikaners op twee, dalk drie maniere daarop gereageer. Aan die een kant was daar diegene wat van hom as’t ware ’n eietydse heilige wou maak, aan die ander kant was daar diegene vir wie hy tot vandag toe niks anders as ’n terroris is nie, en tussenin was daar ’n groot klomp swygsames wat hulle eenvoudig nie daarmee bemoei het nie.

Orania se reaksie, wat veral deur my, maar ook deur ander verwoord is, het beide ondersteuning én kritiek uitgelok. Dit het goeie wense en sterkte aan die familie en vriende behels, maar het ook ’n bepaalde politieke inhoud gehad, naamlik dat sy nalatenskap van versoening slegs van betekenis kan wees as dit op erkenning berus – en dat erkenning die sluitsteen van ons politieke aanspraak uitmaak.

’n Deel van die ondersteuning en die meeste van die kritiek het van mense gekom wat gedink het dat ons saamsing in die huldigingskoor, hoewel die meeste van ons lede en inwoners verstaan het dat ons as’t ware ’n derde, alternatiewe standpunt ingeneem het. Ons het hom naamlik nie bewierook óf verdoem nie, maar ons eie saak bevorder deur die soort erkenning te gee wat ons ook van ander verwag. Dit het ons op ’n waardige wyse probeer doen, terwyl ons die onderliggende spanning tussen dit wat hy verteenwoordig het en dit wat ons verteenwoordig, juis aangeroer het.

Omdat ons reaksie slegs in verpakte stukkies en brokkies deur die media gedra is, het ons van ons eie kanale gebruik gemaak om ’n meer volledige weergawe daarvan die wêreld in te stuur. Ongelukkig is dit steeds deur sommige gekritiseer sonder dat ‘n mens kan agterkom dat hulle behoorlike oorweging aan ons argumente gegee het. Ons het ’n politieke, historiese en geloofsperspektief op die hele saak gestel, wat naastenby op die volgende neergekom het:

Histories gesproke kan niemand ontken dat mnr Mandela by die gewapende stryd teen die blanke bedeling in Suid-Afrika betrokke was en aan terrorisme deelgeneem het nie. Dit is egter ontoereikend om te ignoreer dat hy daarbenewens ’n lang politieke loopbaan gehad het, wat ook uit ander dinge as terrorisme bestaan het en dat, selfs as ‘n mens die ANC-propaganda buite rekening laat, daar ook verdere perspektiewe op sy lewe is. As ons die heersende, enkelvoudige veroordeling van ons eie geskiedenis verwerp, behoort ons seker nie dieselfde fout met ander se geskiedenis te maak nie.

Die politieke perspektief sluit hierby aan want dit verwys na die manier waarop mnr Mandela se politieke nalatenskap aangebied word. Hy is naamlik wêreldberoemd vir sy politieke versoening eerder as wraak. Ons sê: goed en wel, maar versoening sonder erkenning is leë woorde, en erkenning kan iets so sentraal soos iemand se vryheidsin nie uitsluit nie. Dit is waarop ons ingevolge sy politieke testament aanspraak maak. Daarmee opponeer ons nie die wêreldwye pogings om die goeie in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis raak te sien nie, maar wil ons ander se uitsig verbreed om ons plek daarin ook raak te sien.

Ten slotte is ons geloofsperspektief eenvoudig: waar iemand, selfs ons aardse vyand, voor die ewige reg te staan kom, kom die oordeel ons nie toe nie. Mnr Mandela se familie, vriende en volgelinge word met die feit van menslike sterflikheid gekonfronteer soos ons elkeen ook al daarmee gekonfronteer is. Ons bid hulle Gods genade daarvoor toe, soos ander dit al vir ons toegebid het. Só verstaan ons die liefdesgebod.

Iemand vra my egter: Waarom het julle nie liewer hoegenaamd niks gesê nie? Daarop kan ek net antwoord dat Orania nie op wag-en-sien gebou is nie. Ons leierskap was nog altyd “van voor af” en op oortuiging gebou, nie om iemand se guns te wen of populêr te wees nie. Daarmee het ons die toets van die tyd deurstaan. Ons reaksie op mnr Mandela se toestand is eenvoudig ’n voortsetting daarvan en niks om oor te swyg nie.

 

*Carel Boshoff is president van die Orania Beweging. Hierdie artikel het oorspronklik in die Orania Beweging se ledetydskrif, Voorgrond, verskyn.
0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel