by Orania Beweging | Aug 15, 2017 | Nuus |

Hier op Orania is ons bevoorreg om goed versorg te wees as dit by water kom, maar dit gee ons nie die reg om dit te mors nie. Dit kan selfs skade aan ons tuine doen as dit nie reg benut word nie. Hier is ’n paar belangrike punte.
Gee minder dikwels water, maar vir langer: As net die grondoppervlakte water kry, word plantwortels gedwing om opwaarts te groei om water te vind en hulle anker hulself sodoende nie behoorlik in die grond vas nie en mag selfs omval. Wanneer die water diep in die grond indring, groei die wortels na onder toe en kom by water dieper in die grond uit. So sal hulle beter oor die weg kom gedurende droogtetye en temperatuuruiterstes.
Besproeiingstye moet by die seisoene aangepas wees. Gedurende die somer, gee so vroeg moontlik in die oggend water om die warmste tyd van die dag te vermy. As plante laat in die middag water gegee word, word hulle ‘met nat voete bed toe gestuur’ en dit moedig plantsiektes soos swamsiektes aan. In die winter is die beste tyd tussen 9vm and 1nm sodat plante en grond kan uitdroog voordat dit donker word met gepaardgaande kans van ryp. As plante te vroeg in die oggend water gegee word, kan die water op die plant vries en dit sodoende beskadig.
Sit plante met soortgelyke watervereistes bymekaar sodat hulle die regte hoeveelheid water kry. Net soos plante kan vrek van te min water, kan plante wat min water benodig soos byvoorbeeld vetplante en dié met grys-groen blare soos salie en laventel maklik van te veel water vrek.
Plante is waterpompe: as daar min loof op ’n plant is weens siekte of rustyd, kan dit nie die gewone hoeveelheid water uit die grond trek nie, so gee spaarsaam water sodat die wortels nie vrot nie.
by Orania Beweging | Aug 10, 2017 | Nuus |
Die Helpmekaarbeweging was die eerste georganiseerde opheffingsbeweging na die Tweede Vryheidsoorlog. Dit is gebore uit die Rebellie van 1914 en 1915, toe Afrikaners wat gekant was teen Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog aan die kant van Brittanje en teen Duitsland, deur middel van gewapende protes hulle misnoeë daarmee gewys het. Die rebellie is vinnig onderdruk deur die regering van Louis Botha. Die rebelle is in die tronk gesit en daar is groot skadevergoedingseise teen hulle ingestel. Die rebelle se vroue moes alleen die pot aan die kook hou en dit het maar gesukkel. Spontaan het Afrikaners, familie van die rebelle en diegene wat hulle goedgesind was, bymekaar gekom en die Saamwerk-Vereniging op 8 Februarie 1915 op Bethlehem gestig, wat vinnig uitgekring het oor veral die Oranje-Vrystaat en wat die doel gehad het om gesamentlik fondse in te samel om die skuld van die rebelle te betaal. Die naam is spoedig verander na die Helpmekaarvereniging. Op bykans elke dorp is takke gestig wat aan die werk gespring het. Die beweging het landswyd uitgekring. Met die beperkte middels van daardie tyd is koeksisters en ander goed gebak, klere gemaak en verkoop asook groot fondsinsamelings gehou. Vroue het veral die leiding geneem en daar was ʼn gees van samewerking en ondersteuning vir ʼn groter doel. Die sukses was oorweldigend en die skuld van die rebelle kon nie net ten volle afbetaal word nie, daar was ʼn groot oorskot. Die beweging het op ʼn groter en meer algemene doel besluit, naamlik om die vraagstuk van arm Afrikaners (armblankes in die taal van die tyd, maar dit was hoofsaaklik Afrikaners) aan te spreek. Die NG Kerk het die leiding geneem en dit het uitgeloop op die Volkskongres oor die Armblankevraagstuk wat op 22 November 1916 in Cradock gehou is, waar die saak behoorlik ondersoek en bespreek is.
Die Ekonomiese Volkskongres het ʼn geweldige katalisator geword vir Afrikaner bemagtigingsinisiatiewe op talle terreine: die stigting van eie finansiële instellings en handelshuise, die stig van landbounedersettings vir arm Afrikaners soos Kakamas, bemagtiging deur opleiding, uitbou van ‘n eie Afrikaanse media (by name die Burger). EP du Plessis beskryf dit raak in sy boek “ʼn Volks staan op”(p.48): “Miskien van groter belang nog as die onmiddelike noodlening wat die Helpmekaar-insameling bewerkstellig het, was die geweldige sielkundige uitwerking daarvan. Opeens het Afrikaner besef dat, betreklik arm soos hy is, daar tog ʼn kapitaal-in-verstrooiing in hom opgesluit lê wat hom kon en moes help om sy ekonomiese voete te vind – mits die geld doeltreffend gemobiliseer kon word.”
Die Helpmekaarbeweging en dit wat daarop gevolg het, was egter nie genoeg nie. Veral in die 1930’s, met die Groot Depressie, het Afrikaners weer verarm, erger nog as tevore. JD Kestell het met ʼn reeks artikels in die Volksblad in 1932 die aandag daarop probeer vestig. Die volk was egter nog nie gereed nie, maar ʼn saadjie is geplant. Met die grondsteenligging van die Voortrekkermonument in 1938 was die volk grootliks verenig en Vader Kestell se pleit het nou op vrugbare grond geval. Weer is ʼn rigtinggewende kongres gehou met die naam die Eerste Ekonomiese Volkskongres, van 3-5 Oktober 1939 in Bloemfontein, waar Vader Kestell een van die sprekers was. Die kongres was baie groter en baie meer omvattend as die armblanke-konres van 1916 en het ʼn veel wyer impak gehad. Die klem was nou nie meer in die eerste plek op liefdadigheid en opheffing nie, maar op die mobilisering van Afrikanerkapitaal en ʼn volkseie kapitalisme tot voordeel van die volk as geheel. Die Volkskongres het uitgeloop op die stigting van die Reddingsdaadbond, ʼn volksorganisasie met ʼn Christelik-nasionale grondslag en die doel om Afrikaners se spaarkrag, koopkrag en mensevermoë te mobiliseer tot voordeel van die volk. Die Reddingsdaadbond het die leuse gehad: ʼn Volk red homself. Die Afrikaanse Handelsinstituut en Federale Volksbelegging is ook daarna gestig met die doel om Afrikaners op die saketerrein te bemagtig. Dit het ook uitgeloop op die stigting van groot maatskappye soos Foskor en Sasol in 1950.
Na 1948 het toenemend die staat en die staatsmaatskappye die funksie van noodverlening, opheffing en werkverskaffing vervul. Dit was baie doeltreffend en het van die Afrikaner ʼn gemoderniseerde middelklasmens gemaak, maar dit het die gees van interafhanklikheid, van saamstaan en saamwerk laat vervaag en uiteindelik tot die roemlose oorgawe van 1994 gelei.
Sedertdien het individuele oorlewing die wagwoord geword deur te verengels, te globaliseer of te emigreer en kollektiewe pogings tot ekonomiese bemagtiging het so vêr nog nie werklik momentum gekry nie. Daar is wel bemoedigende pogings, soos die talle aksies van Afriforum en Solidariteit, en natuurlik die Orania-projek, wat waarskynlik meer omvattend is as enige ander projek in die sin dat die volledige bemagtiging van die Afrikaner (al is die getalle nog klein) hier geskied, nie net ekonomies nie, maar ook geestelik en kultureel. Genoeg geld, maar ʼn verlore siel en of ʼn gebroke gees help ook niks nie. Ook hier kan ons sê, om die woorde van EP du Plessis soos bo aangehaal op vandag van toepassing te maak: belangriker as die fisiese hulpverlening aan Afrikaners in die vorm van werk, behuising en maatskaplike dienste is die sielkundige uitwerking van Orania. Meteens besef Afrikaners dat ons wel ons self kan ophef en ons eie toekoms sonder beheer oor die staat kan skep. Die Reddingsdaadbond se leuse is vandag nog net so geldig: “ʼn Volk red homself”.
Bronne:
EP du Plessis: ʼn Volk staan op. Die Ekonomiese Volkskongres en daarna. Human en Roussouw, Kaapstad, 1964.
Dr. Dirk Hermann: Van Helpmekaar tot Helpmekaar. Referaat gelewer tydens die Burgerraad van die Orania Beweging, 30 September 2016.
by Orania Beweging | Aug 3, 2017 | Nuus |

Tensy ons wil hê dat ons kinders eendag op ’n reusagtige ashoop woon, moet ons ons deel doen en herwin waar ons kan. Ons mag wel nie kan verander hoe die mensdom lewe nie, maar ons kan wel verander hoe dinge in ons eie huishoudings gebeur.
’n Ou man stap op die strand en kom op ’n jong seun af wat besig is om gestrande seesterre terug in die see te gooi. Die ou man bekyk die spul so ’n rukkie en vra dan vir die seun: ‘Hoekom mors jy jou tyd, daar is tog so baie van hulle, hoe kan jy ooit ’n verskil maak?’ Die seun tel nog ’n seester op en met die gooi sê hy: ‘Ek maak ’n verskil aan hierdie een’.
Met die gedagte dat so min van ons hulpbronne as moontlik ons perseel behoort te verlaat, hier is wat om met hulle te doen ter voorbereiding van jou kostuin:
- Metaal: blikkies, spykers en ander skrootmetaal: vir die bodem van die groentetuin beddings.
- Nie-glans koerantpapier en karton: bo-op die gras wat jy wil omskep in ‘n groentetuin en vir die komposhoop.
- Jogurt- en margarienhouers en plastiekbottels: sit dreineringsgate in en gebruik hulle om saailinge te groei.
- Hout: verbrand stompe en takke en sit die as op die komposhoop
- Ongekookte kombuis vrugte – en groenteafval, eierdoppe, koffiemoer en teeblare: vir die komposhoop of klein gesny as deklaag
- Met ‘n wurmdrom kan jy gekookte kos, nie geskik vir die komposhoop nie, herwin. Jou erdwurms sal doodgelukkig hul pad deur jou muwwe brood, yskas kosoorblyfsels en selfs gisteraand se pizza eet. Hulle verwerk tot hulle eie liggaamsgewig in een dag!
Op my kombuistoonbank het ek twee bakke: een vir die komposhoop en een vir die voëltafeltjie en wurmdrom. Drie groot emmers staan daaronder gereed vir herwinbare vullis saam met ’n klein asblikkie – al wat nodig is vir dit wat oorbly.
by Orania Beweging | Jul 26, 2017 | Nuus |
(Hierdie artikel het oorspronklik in Mei 2016 verskyn en word weens die debat oor die e-Ora en oor Orania se ekonomie met enkele toevoegings weer geplaas).
Talle besoekers aan Orania (en waarskynlik nog meer mense wat Orania nog nie besoek het nie) het die persepsie dat Orania volgens een of ander sosialistiese model bestuur word, omdat ons sê dat ons ‘n gemeenskap is.
Die persepsie is byvoorbeeld dat jy grond nie kan koop nie en dit nie jou eiendom is nie, maar dat jy net ‘n lewensreg het en dit ook nie mag verkoop nie, behalwe aan die maatskappy en sonder wins. Verder is die persepsie dat die dorp se inkomste uit die gemeenskaplike boerdery kom en die inwoners se inkomste na die bestuur toe gaan wat dit dan gebruik vir ontwikkeling en om almal se salarisse te betaal.
Daar is blykbaar ‘n probleem om die idee van privaatbesit en privaatinisiatief met die idee van ‘n gemeenskaplike strewe te versoen. Privaat word gekoppel aan individualisme, en gemeenskap aan sosialisme. Verder is dit blykbaar ook moeilik om te verstaan dat ontwikkeling en voorspoed nie soseer kom uit ‘n maatskappy of bestuur wat alles beheer nie, maar uit verskillende privaatinisiatiewe. “Maar hoe verdien die dorp dan sy inkomste as die landbougrond aan privaatpersone behoort?” word dikwels gevra.
Orania funksioneer met die beginsel van die vrye mark, maar met die gemeenskap as die basis en vryheid vir die Afrikaner as ideaal. Dit is ‘n soort derde weg tussen sosialistiese staatsbeheer aan die een kant, en liberale individualisme aan die ander kant. Sowel die alles beherende staat asook die individualisme kalwe gemeenskappe uit, dus moet ons nie te veel van die een of die ander een hê nie. Ons soek egter groei en ontwikkeling, en dit is oor en oor bewys dat owerheidsinmenging groei eerder belemmer as bevorder en dat die owerheid hoogstens ‘n rol moet speel as inisieerder van ontwikkeling en dan moet onttrek en die bestuur aan ander moet oorlaat.
Dit is nie toevallig dat Libertariërs nogal ‘n groot mate van aanklank by Orania vind, nie so seer oor die ideaal nie, maar oor die praktyk van ‘n gemeenskap met die minimum staatsinmenging. Omdat die staatsfunksie in Orania grootliks afwesig is, word ‘n groot mate daarvan deur Orania-instellings gedoen. Die Dorpsraad, wat dikwels as die regering van Orania beskou word, beperk homself grootliks tot die pligte van ‘n munisipaliteit, naamlik dienslewering. Die Dorpsraad het wel ‘n soort “belasting” tot sy beskikking deur middel van heffings. Die Orania Beweging word befonds uit vrywillige bydrae van lede en ondersteuners. Sekere “staatsfunksies” soos die daarstelling en onderhoud van infrastruktuur, die handhawing van orde, geskilbeslegting, maatskaplike hulp en voorsiening van maatskaplike behuising word deur die Dorpsraad of die Orania Beweging bestuur en befonds. Daar is sowel betaalde amptenare asook vrywilligers wat daarmee gemoeid is.
Die verskaffing van werk, lewering van produkte en dienste word feitlik heeltemal aan die privaatsektor oorgelaat. Die ekonomie is markgerig en vry, en die owerheid meng selde daarby in. In die beginjare van Orania was die ekonomie gereguleer deur ‘n permitstelsel wat slegs een besigheid van ‘n soort toegelaat het. Dit het egter nie gewerk nie en gelei tot bevoordeling van sekere mense en ontevredenheid by ander en is daarom vervang deur die huidige stelsel van vrye kompetisie. Dit is werklik betreklik maklik om ‘n besigheid in Orania oop te maak, dit is slegs die markkragte wat jou sukses bepaal. Daar is egter ‘n hele paar markkragte wat in ag geneem moet word voor ‘n mens ‘n besigheid begin. Die kompeterende voordele van Orania is die gemak waarmee ‘n besigheid oopgemaak kan word, relatief lae huur, goeie veiligheid en goeie werkende infrastruktuur asook ‘n betroubare en nie-korrupte plaaslike bestuur. Die nadele is dat Orania ver van die markte is sowel vir in- as uitvoer, dat die plaaslike mark klein en in talle opsigte oorbedien is en dat die aanbod aan geskikte personeel nie altyd volop is nie. Die Tegniese Sentrum en ander onderwysinstellings in die toekoms sal laasgenoemde toedrag van sake egter aanspreek, en met meer inwoners is daar ook meer geleenthede.
Die basis van die ekonomiese model is dat hier geleenthede geskep moet word om ‘n gesonde gemeenskap te bou, maar dat van die enkeling verwag word om die geleenthede aan te gryp en om nie met die lepel gevoer te wil word nie. Sterk individue vorm sterk gesinne en families en bou sodoende ‘n sterk gemeenskap.
Groot opgewondenheid heers oor die vooruitsigte van ʼn elektroniese Ora. Die Ora as fisiese ruilmiddel word al vir sowat 15 jaar gebruik (parallel met die Rand) en dit werk goed, alhoewel die volle potensiaal nog nie bereik is nie. Soos meer en meer mense deesdae elektronies betaal, sal ʼn elektroniese Ora ook ʼn logiese volgende stap wees wat die ekonomie baie vinniger laat groei. Die tegnologie is in die vorm van selfoonaanwendings reeds beskikbaar en ʼn gemeenskap soos Orania, waar mense mekaar ken en mekaar vertrou, is die ideale terrein vir ʼn plaaslike (elektroniese) geldeenheid. Tyd word gespaar deurdat ʼn mens nie meer bank hoef toe te gaan nie, geld word gespaar deur geen transaksiekoste meer nie. Die geleenthede vorentoe is geweldig en die moontlikheid bestaan self om die Ora eendag van die Rand te ontkoppel.
by Orania Beweging | Jul 25, 2017 | Nuus |
Feitlik alle Afrikanerorganisasies het oor die jare by die veranderende omstandighede aangepas. Party het aangepas om hulle doelwitte onder ander omstandighede te kan bly nastreef (die FAK, Voortrekkers, Solidariteit), ander het aangepas om hulle organisasie te red en daarby amper onherkenbaar verander (hier sou ek die Afrikanerbond of die AHI noem), weer ander het aangepas om te verdwyn, soos die NP. Party het glad nie aangepas nie en irrelevant geword, soos die HNP.
Lede van ʼn Afrikanerorganisasie is buigbaar genoeg om te besef dat ʼn organisasie die veranderende tydsomstandighede moet verreken en sekere aanpassings moet maak. Hulle is egter ook slim genoeg om die verskil tussen aanpassing om te oorleef en aanpassing tot irrelevansie of verandering ter wille van verandering te sien, en daarom verlaat lede sekere organisasies en bly getrou aan ander. Mense, ook Afrikaners, is bereid om veranderings te aanvaar mits dit wat vir hulle kosbaar is nog herkenbaar is. Daar kom egter ʼn punt waar ʼn organisasie of ʼn handelsmerk wat jy ondersteun, so drasties verander het dat jy niks daarvan wat jy waardeer meer herken nie.
Die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging) is oorspronklik deur Henning Klopper, ʼn voorste kultuurleier onder Afrikaners, in 1930 gestig, met die doel om ʼn kultuurorganisasie vir Afrikaner spoorwegwerkers te begin, in ʼn tyd waar die Engelse taal en die Engelse kultuur in Suid-Afrika alles oorheersend was. Die ATKV het sterk gegroei en oor die jare al geweldig aangepas. Die vakansieoorde is vir meeste lede waarskynlik ʼn groter motivering om aan te sluit as die ledetydkskrif “Taalgenoot” en redenaarskompetisies. Nietemin, die ATKV roem daarop dat hulle nog steeds staan vir die bevordering van Afrikaans. Nou wil die nuwe uitvoerende bestuurder, Deidre le Hanie die ATKV deur die “Afrikaans plus” inisiatief meer inklusief maak deur na ander tale uit te reik en bruë te bou, aldus hulle eie werwing. Dit mag ʼn klein aanpassing wees, maar die ATKV, en talle ander organisasies wie se ruggraat Afrikaners is, vergeet blykbaar hoe hulle lede voel (sien goeie artikels oor die onderwerp van Eugene Brink en Herman Toerien op Maroela Media).
Afrikaners het vir jare aangepas en radikale veranderinge meegemaak ter wille van akkommodering van ander volke, ter wille van oorlewing ensovoorts, maar die laaste tyd is daar al hoe meer ʼn gees van “genoeg is genoeg” te bespeur. Dit is asof die toegewings en aanpassings wat Afrikaners maak nie waardeer word nie, in teendeel, dat vir die hand wat hulle uitsteek die hele lyf geëis word. Die hewige reaksie oor die eensydige skuldigbevinding van ʼn wit persoon in die Spur-onderonsie behoort vir almal wat in ʼn groot mate op Afrikaner-kliente of ondersteuners staat maak te wys dat dit nie nou die tyd vir nog verdere toegewings en verdere wegbeweeg van jou kerngroep is nie. Daarom, as jy ʼn nis beset het en daar suksesvol is, wees dan baie versigtig om nie jou plek daar te verloor nie, anders vul iemand anders daardie leemte.
Die ATKV se tydsberekening is swak en kom op ʼn tyd waar die laaste bastions van Afrikaans val en waar Afrikaners allermins voel dit is nou tyd om na “die ander” uit te reik deur meer van jou taal en kultuur op te gee. Ons mense het nou al te veel kere praatjies gehoor dat “Afrikaans nie weggeneem word nie, daar word net ander tale bygevoeg”, byvoorbeeld by die voorheen Afrikaanse Universiteite. Mev. Le Hanie verstaan moontlik nie daardie gevoel nie, want sy het groot geword in ʼn tyd waar Afrikaners (en ander blankes) alles gehad het en uit ʼn posisie van mag soms eerlik bedoel, soms om hulle gewisse te sus, na die minder bevoorregtes soos hulle bediendes uitgereik het. Dit is egter die een ding om uit jou oorvloed te gee, en die ander een om ʼn organisasie se rigting te verander sonder om jou lede te raadpleeg, veral in ʼn tyd waar die “voorheen bevoorregtes” self aan die agterspeen suig.
Die Orania Beweging het sedert sy stigting in 1988 deur prof. Carel Boshoff as Afrikaner-Vryheidstigting ook verskeie aanpassings gemaak. Die retoriek en die debatte is nie meer dieselfde as in die 1990’s nie, die naam en kenteken is aangepas, die voorkoms van die kantoor is verander, pleks van ʼn uitgestrekte landelike staat word eerder (ten minste vir nou) ʼn kompakte Afrikanerstad met sy landelike omgewing gebou. Dit was en is alles veranderings met die doel om jou ideaal en strewe beter te kan bevorder en om relevant te kan bly. Die doel en strewe van die Orania Beweging is nog steeds Afrikaner-vryheid in ʼn eie territoriale gebied, gebou op Christelike waardes en eie arbeid. Daarom groei die Orania Beweging se ledegetal en word ons meer en meer gereken. Sou ons egter nou besluit om dit waarvoor ons sedert die stigting staan en waarvoor ons lede ons ondersteun, vaarwel te roep en ons te herloods as “inklusiewe organisasie met die doel om ʼn beter Suid-Afrika vir almal te bou”, dan sou ons groot getalle ondersteuners verloor, sonder om nuwes te wen. Wie wil by ʼn ongeloofwaardige organisasie wat kort-kort sy rigting verander, aansluit? As die vertroue eers gebreek is, help gewoonlik geen verskoning en geen terug roei nie. Omdat die Orania Beweging ʼn alternatief tot die eenheidstaat Suid-Afrika skep, hoef ons nie oor elke verandering in windrigting bont te spring nie, maar kan koers hou. As ons uitreik, dan op ʼn basis van gelykheid en as een gemeenskap teenoor ʼn ander, nie as “bevoorregtes” teenoor “minder bevoorregtes” nie. Ons “minder bevoorregtes” is in elk geval ons mede-Afrikaners.
(Fotokrediet: www.atkv.org.za)
by Orania Beweging | Jul 24, 2017 | Nuus |

In die nagtelike ure voor die aanbreek van ’n nuwe week het ek, miskien deur ’n mate van moedeloosheid gedryf, besluit om weer die Gedagtes van ‘n gewone man te hervat. Nie dat ek ooit besluit het om dit te onderbreek nie, dit is asof die wintervakansie wat ek nie geneem het nie sigself as’t ware op dié manier op my gewreek het. Ten minste in één opsig was dit dus asof ek op die soort wekelange jagtog was waarvan ek onlangs in Eugene Marais se lewensverhaal gelees het.
Dit is ook nie om dowe neute dat ek na Leon Rossouw se Die groot verlange verwys nie; een van daardie boeke wat mens altyd alreeds moes gelees het, maar by my tot nou agterweë gebly het. Maar wat ’n wonderlike ervaring! Wat ’n vreugde om te besef watse skatte daar vir opkomende geslagte in ons literatuur opgesluit lê. En dat verwys ek nog nie eers na Marais se eie werke, soos Die siel van die mier en The Soul of the Ape wat ek darem as hoërskoolkind gelees het nie.
Die rede hoekom ek na Marais verwys (en eintlik moet ek Henriette Roland Holst-Van der Schalk se Jean Jacques Rousseau: Een beeld van zijn leven en werken wat ek terseldertyd gelees het, hierby noem), is dat so ’n geestelike nabyheid aan twee besonder ongewone figure ‘n gewone man se gewone gedagtes ‘n bietjie in die war stuur.
Nie dat baie gewone dinge nie bly gebeur het nie: in my gedagtes het ek rubrieke begin bewoord oor ’n heerlike ontbyt met ’n eerste besoeker aan Orania; oor my gewaarwording toe ek onlangs in Bloemfontein se middestad die geur van ’n gebrande mielieland kry en besef dat ek langs die stadsaal verby ry; oor ’n kostelike stap vorentoe in my stokperdjie van boekbindery; oor dr Danie Langner se wonderlike, plat op die aarde onderskeid tussen kulturele bywoners en eienaars by die opening van die Voortrekkers se kongres.
Dinge wat ’n gewone man kan laat dink, het dus nie opgehou gebeur nie. Wat opgehou gebeur het, is dat ek dit opskryf en soos brood op die water werp met die gerusstellende wete dat niemand dit juis gaan lees nie.
Een verklaring vir my afwesigheid van Orania se blogblaaie is dus dalk dat ek vir ’n paar weke goed genoeg geslaap het om nie tyd te kry vir skryf nie, want sulke geskrifte kom nie in die geroesemoes van gewone ’n werksdag na vore nie. Nog ’n verklaring is dat mens van jou beste ure weglees – iets waarsonder jy natuurlik niks van betekenis kan skryf nie, maar waarby jy die risiko loop om só verdwerg te voel deur groot geeste dat dit jou eie stem stil maak.
Nou lê die tweede helfte van die jaar voor, die deel waar dinge begin vinnig gaan. Jaarvergaderings, Taalweek, gedenklesings, Hervormingsondag, en dan moes jy al jou wingerd en rose gesnoei het. Elke week is te kort en die naweek nog meer so. As ons weer sien, begin die jaareindfunksies. Maar laat ek dit nie vooruit loop nie, daar is darem nog tyd om dinge te doen.
My pa het dikwels vermoeid uit ’n vergadering gekom en gesê: “Ek kon eerder ’n boom geplant het”. Nou is dit amper boomplanttyd en as dit vir Martin Luther ’n geloofsdaad sou wees, is dit in Orania ’n politieke daad. Dit sê dat ons hier wortel skiet. Maar van bome plant alleen sal ons ook nie vry word nie; sonder om ons sienings en strewes te verwoord, gaan dit ander verby sonder om iets ten goede te verander. Stel jou voor Luther het ’n boom geplant sonder om sy 95 stellings neer te pen …
Bome plant, boeke lees, rubrieke skryf, vergaderings hou, gaste ontvang, en al die res. Orania hou nooit op nie – dankie tog daarvoor!