Briewe aan Oom Paul
Geagte Oom Paul
27 Desember 2019
Oom Paul, dit gaan goed in Orania; goed omdat ons hard kan werk, en die vrug van ons arbeid kan sien, goed omdat ons dorp steeds veilig is, Oom weet, in Suid-Afrika word kinders sommer uit waentjies en uit motorkarre uit gesteel… Goed omdat God se seëninge veel groter is as ons verdienste. Oom sien, ons is maar ‘n klomp gewone sondaar Afrikaners hier bymekaar, en dus maak ons maar lekker droog ook soms. Ten spyte daarvan gaan dit goed, ten spyte van ‘n Suid-Afrika wat soos die Titanic besig is om stadig maar doelgerig die niksheid in weg te sink. Oom sal nie die storie van die Titanic ken nie, dit was ‘n bitter groot skip gewees wat op die 14de April 1912 op haar nooiensvaart ‘n ysberg getref het en toe in die yswater van die Atlantiese oseaan weggesink het. Dit was die grootste skip tydens die bou daarvan, en meer as 1500 mense het hul lewens verloor.
Hoekom ek vanoggend aan die Titanic dink is omdat twee mense baie soortgelyke uitlatings gemaak het. Die een was Kaptein Edward John Smith, die kaptein van die Titanic, die ander meneer Jacob Zuma, voormalige president van die ANC en Suid-Afrika. Die uitspraak deur die kaptein van die skip was: Not even God can sink this ship. Nou moet Oom verstaan dat die skip so goed ontwerp was, dat dit onsinkbaar moes wees. Dit was die mees moderne ontwerp, maar ek is geen ingenieur nie en kan dus nie die besonderhede regtig uitlê nie; iets oor die kompartemente wat losstaande van mekaar gekonstrueer is… Die eerste uitspraak was êrens in 1912, die volgende een was meer as 100 jaar later in 2016 deur meneer Jacob Zuma. Hy het heel vermakerig gesê dat die ANC sal heers totdat Jesus weer kom…
Ek weet ek spring bietjie rond in die tydlyn soos ek aan Oom skryf, maar daar is so verskriklik baie dinge wat verander het, gebeur het. Oom sal nie eens van die ANC weet nie. Die African National Congress is vandag die politieke party wat Suid-Afrika regeer, maar ek gebruik die woord regeer losweg, want wat eintlik gebeur is dat die burgery beroof word, onderdruk word en afhanklik gehou word van die uitgifte van die staat. Ek sal ook nie oor die African National Congress met Oom kan gesels sonder ook oor twee ander sake te praat nie, die een is die totstandkoming van ‘n politieke idee wat Kommunisme genoem word, die ander is die beleid van afsonderlike ontwikkeling wat in Suid-Afrika gevolg is. Die eerste is al ‘n ou idee, maar word eintlik eers gebore in 1917 met ‘n revolusie in Rusland. Die tweede is ook ‘n ou idee, die idee dat volkere binne hul eie geografiese gebied vir hulself verantwoordelikheid moet neem, en dit is in kiemvorm in 1913 hier in Suid-Afrika tot model ontwikkel as ‘n poging, wel ook een wat nie gewerk het nie, om sin aan die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse bevolking te probeer bied.
Terug by die Titanic, Oom Paul, die skip het ‘n ysberg getref en gesink. Tragies en hartverskeurend, maar aan die eenkant voel ek dat verwaandheid altyd tot tragedie en hartverskeuring lei. Die ANC het ook ‘n ysberg getref, spreekwoordelik, en die hele land sink. Ek lees onlangs dat die nasionale skuld, dit is nou die geld wat die staat êrens skuld en moet afbetaal, meer as R55 miljoen per burger van SA is. Ek wonder wat het hulle gekoop, Oom Paul, R55 miljoen rand is vrek baie geld. Meer as 50% van ons jongmense is sonder werk, en bykans 30% van die bevolking oorleef op wat genoem word SASSA. Sosiale toegifte vir diegene sonder werk. Mense word betaal om nie te werk nie… g’n wonder die skippie sink nie.
By die draai van die vorige eeu, eintlik vir die 100 jaar voor dit ook, het daar ‘n gees van revolusie in die wêreld posgevat. Nou weet Oom ook goed dat die aard van revolusie juis is om af te breek wat staan, en van voor ag te begin. Dit is ongelukkig in meeste gevalle hierdie voor begin waar die probleem lê, want alles brand en al wat die burgery geleer het om te doen is om dinge omvêr te werp. En hier staan ons in tye van revolusie… en alles #mustfall
Oom Paul sien, dinge het maar skeefgeloop, en dit voel soms of die wêreldvingers Suid-Afrika soos ‘n groen perske ryp probeer druk het, en die verandering het gekom, met geweld en terreur en die Rooi gevaar van Kommunisme wat die burgery wou ophef deur ‘n konstitusionele demokrasie. Maar die perske is gedruk en gedruk tot ‘n groen, suur pappery. Ek voel soms dat hierdie ANC, wat ‘n swart vryheidstryd in Suid-Afrika gevoer het, ook die burgery soos ‘n perkse papgedruk het, om stemme te kry en dan te heers totdat Jesus weer kom; en hier staan ons, weer onder ‘n vreemde vlag en verwaande maghebbers.
Oom Paul, ek wou eintlik meer vertel oor die ANC, die People’s war en die Freedom Charter, en meer praat oor hoe dinge sleg skeefgeloop het, maar my tyd is maar min vandag. Ek wil afsluit deur te sê dat ek soms soos een van die dissipels op die skuit in die stormsee voel, die wat in kleingeloof alles probeer het terwyl die skippie sink, en ek wag, in geloof vandag, in Orania, op Jesus om die storm in Suid-Afrika stil te maak. Nadat ons alles probeer het, lyk dit maar steeds of die skip sink, dit is nou in groter en meer bekwame hande, die hande van die Allerhoogste.
Stuur groete vir my Oupa
PSK