Briewe aan Oom Paul
Geagte Oom Paul.
12 Desember 2019
Oom Paul, dit gaan goed op Orania, maar Suid-Afrika is maar donker, donker en as Oom asseblief my taal vandag sal verskoon, donker en de moer in. Ek sal miskien moet verduidelik. Oom weet mos dat Afrika die Donker Kontinent genoem word, maar ek verwys nie daarna nie, nee ek verwys na ‘n onbekwame staatsinstelling wat tans besig is om hierdie land en haar mense nog verder te breek. Wat nie dood maak nie maak groot, sou my Ouma sê… maar ek sien nie die groot word in ‘n land wat so sleg breek nie.
Oom Paul, ek skryf vandag vir Oom oor elektrisiteit, of eintlik die gebrek daaraan, en watter invloed dit op ons lewens hier aan die einde van 2019 het. Nou oor elektrisiteit hoef ek nie Oom veel te vertel nie, dit is immers al millennia wat die mensdom na elektrisiteit kyk, dit sien werk, in weerlig en as voorbeeld daardie glibberige palings wat ‘n mens skok dat jy hik. Oom Paul, dit is nie soos die palings wat ons al in Loskopdam gevang het nie; Oom weet my Oupa het aan daardie damwal met sy eie hande gewerk, so na die oorlog? Die palings se skok en hik laat my nou sommer dink aan die draai-telefoon, Oom ken dit mos? Die wat ons as kinders mee gespeel het. Mens draai die slinger en hik soos die dink krag opwek, sommer so met een of twee draaie daarvan. Oom sien, elektrisiteit is eintlik nie ‘n ingewikkelde ding nie, die mensdom is al donkiejare met die goed doenig, maar vir mensdom is daar nie pille nie.
In elk geval, terug by elektrisiteit en donker Suid-Afrika. In 1922-23 is EVKOM hier is Suid-Afrika begin, om eintlik presies net te doen wat hul naam gesê het: Die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie van Suid-Afrika. Hulle moes elektrisiteit voorsien, en hoé het hulle dit nie gedoen nie. Oom moes EVKOM in sy gloriedae kon sien! Dit was ons trots Oom Paul. EVKOM was die grootste elektrisiteitsvoorsiener in die ganse Donker Kontinent en ons het selfs ‘n kernaanleg gebou onder in die Kaap. Nou om eerlik te wees, weet ek maar min van kernkrag af, maar daar was van ons mense wat die regte onderrig gekry het, die regte dinge geleer het, om met uraanverryking en die fusie van molekules, of so iets, ‘n enorme tipe reaksie te veroorsaak, wat ons dat omgeskakel het na bruikbare elektrisiteit.
Natuurlik was EVKOM dan, volgens die elektrisiteitsvoorsieningswet van 1922, dan ook ‘n staatsbeheerde instelling, wat vir baie mense werk verskaf het, en vir baie meer mense elektrisiteit kon bied. Een van die redes hoekom die myne daar in Middelburg se wêreld so goed doen, is omdat die steenkool wat hulle uit die aarde uitgrou, gebruik word om groot turbines te draai; dit is nou soos die steenkool brand en water wat kook se stoom opwaarts beur. Ek onthou toe ek klein was het ek altyd gedink dat dit die plekke is waar wolke gemaak word. Dit lyk kompleet soos wolkies wat uit daardie enorme betonskoorstene uitgeblaas word…
EVKOM het egter op ‘n stadium ESKOM geword, maar dit is nie die enigste drama nie, die verengelsing van die naam nie. Oom sien, ons ganse ekonomie is eintlik afhanklik van die gebruik van elektrisiteit, bykans alles werk met dit, en bykans niks kan deesdae sonder dit nie. Ek tik nou juis hierdie brief aan Oom op ‘n rekenaartjie, ‘n tipe moderne tikmasjien, wat met elektrisiteit werk. Ongelukkig is ESKOM so sleg bestuur en so leeg gesteel deur ‘n klomp onbekwame besture en bekwame skelms dat daar net nie meer genoeg krag is nie; nou kry ons maar so om die beurt krag… en selfs om die beurt water op sommige plekke.
Ag ek wou nog baie klae oor die toestand van ESKOM in ons land, maar my liggie flikker dat die elektrisiteit amper opgebruik is, daar is darem so effens van ‘n battery wat gestoorde krag kan hou in die tikmasjientjie. Nóg beter is die slim mense wat geleer het hoe om die krag van die Son op te vang en om dit dan om te skakel na elektrisiteit; op Orania is daar sommer baie van ons, maar ongelukkig help dit nie die res van die land nie. Die fabrieke staan, die yskaste loop af, die masjiene wat die banke aan die gang hou se liggies flikker al hoe flouer, en die ekonomie, Oom Paul, wat ook al eintlik nou die ekonomie is, is aan die val. Al wat ek weet, is ons mense word al hoe kwater vir die regering en kry al hoe swaarder. Oom Paul… en vir ESKOM is almal sommer in gewone Afrikaans net de moer in.
Daar flikker my masjientjie se laaste liggie nou.
Stuur groete vir my Oupa
PSK