Werksgebou: een verdieping op ‘n slag

Diegene wat onlangs verby die bouterrein van die Werksgebou gestap of gery het, sou opmerk dat die bouspan deesdae meer op die dak werksaam is as op die grond! Die ontwikkeling van die Werksgebou het ‘n punt bereik waar die betonblaaie vir die eerste vloer gelê is.
Vir hierdie taak, om swaar betonblaaie tot op die hoogte van die eerste verdieping te lig, moes ʼn 20 ton mobiele hyskraan gehuur word. Hierdie massiewe hyskraan toring bo die omliggende geboue uit en is ʼn taamlike belewenis om in aksie te sien. Volgens Niel de Klerk, hoof van ontwikkeling en belegging by die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM), bly een van die grootste uitdagings om konstruksiemateriaal en -produkte van buite Orania af te moet aankoop.
“Dit gebeur van tyd tot tyd op konstruksieprojekte dat items op ‘n kort kennisgewing benodig word. Die afstand wat Orania vanaf ander stede is veroorsaak dan dat vervoer nie beskikbaar is nie, of buitensporig duur is. Orania se nywerhede is nog nie van so aard dat meeste materiaal of produkte hier vervaardig word nie.”
Tog, waar moontlik, word plaaslike ondernemings altyd eerste ondersteun, voordat daar na buite uitgereik word.
Op hierdie stadium is die Werksgebou byna 15% voltooi en die span mik om die projek teen einde Julie 2026 gefinaliseer te hê.
“Die projek vorder fluks. Ons span is innoverend en kyk deurlopend hoe werk meer effektief gedoen kan word om die projek vinniger, veiliger en meer koste-effektief af te handel,” sê Niel.
Foto: Lugfoto van die Werksgebou waar die eerste verdieping se basis gelê is.
