Toe ek verlede Dinsdagoggend saam met mede-Oraniërs die bitterkoue trotseer om Bittereinderdag by die nabygeleë Doornbult Konsentrasiekampterrein te herdenk, het ek weer oor die Afrikaner se verhouding met die Britte begin dink. Dit is net asof daar te veel uitstaande sake is wat ten spyte van die Afrikaner se opkoms in die middel van die twintigste eeu nooit behoorlik hanteer is nie.

Ek moet onmiddellik kwalifiseer dat die uitstaande sake vir my nie oor die verhouding tussen Afrikaners en Engelssprekende Suid-Afrikaners is nie, maar wel tussen Afrikaners en Brittanje as moondheid. Daar is baie Engelssprekende Suid-Afrikaners wat sterk met die Afrikaner assosieer of ons ten minste goedgesind is.

Wat Brittanje aanbetref het ek egter ‘n hele paar dinge wat my verhoed om gemaklik oor hulle te voel. Om die waarheid te sê ek is verstom oor hoe gemaklik die meeste Afrikaners met die Britte geraak het – ‘n tendens wat ons al kort na die Tweede Vryheidsoorlog begin sien.

Indien ons die pad wat die Afrikaner gedurende die twintigste eeu gestap het gaan analiseer sien ons watter wesenlike effek die oorlog, maar veral die Britte se verskroeide aarde beleid op die psige van ons volk gehad het.

Wanneer jy kyk na die persentasie van Afrikaners wat direk by die oorlog betrokke was of daardeur geaffekteer is, begin jy te meer besef dat die oorlog Afrikaners in hul wese moes verander.

Die na-oorlog lewe van die Afrikaner was in baie opsigte iets anders as die voor-oorlog lewe. Gesinne is uit mekaar geskeur en soms heeltemal of byna heeltemal uitgewis. Plase is verwoes en van ‘n eie regering en ‘n eie land het niks oorgebly nie. Ek dink wat egter amper nog erger is, veral wanneer ons vandag terugskouend kyk, is die verlies aan selfvertroue wat daar onder groot dele van die volk bestaan het en selfs ‘n mate van skuldgevoel onder baie Afrikaners omdat hulle gevoel het dat die lyding in konsentrasiekampe deur hul besluit om oorlog te voer veroorsaak is.

Daardie verlies aan selfvertroue en gevoelens van skuld het vir lank na die oorlog die wyse waarop Afrikaners opgetree het bepaal. Ek is oortuig daarvan dat dit deel van die rede is waarom soveel gesinne na die stede verhuis het en skielik bereid was om in haglike omstandighede in die myne en ander industrieë onder die Britse base te gaan werk.

Die opkoms van die Afrikaner en veral Afrikanernasionalisme vanaf die 1940’s tot ten minste diep in die 1960’s is keer op keer inherent deur die psigologiese gevolge van die oorlog beïnvloed.

Ek wil die heeltyd daardie byna sinnelose vraag vir myself afvra: Waar sou ons vandag gewees het sonder die oorlog?

Soms wens ek ook die Boere het anders na die oorlog gereageer. Meer sinvolle woede en minder van ‘n gevoel om verslane te wees. Meer strategiese denke as uitsigloosheid. Meer van ‘n poging om na die voor-oorlogse waardes terug te keer eerder as ‘n byna aggressiewe poging (veral na ’48) om tog net nie so minderwaardig soos wat Milner ons wou uitbeeld voor te kom nie.

Vandag nog beleef ons ‘n vreemde verwydering tussen Afrikaners en kultuurbeoefening uit vrees om agterlik oor te kom. Meng dit met die psigologiese effek van skuld weens apartheid en jy kry ‘n volk wat eintlik net wil vlug van wie hy werklik is.

Dit bring my terug by die verhouding tussen Afrikaners en Brittanje. Waar die aggressor in baie oorloë later om verskoning vir sy dade gevra het en aktief meegewerk het om dit reg te stel het die Engelse ons nog net altyd met dieselfde argwaan bejeën. Voor die oorlog was ons barbare wat nie die grond waarop ons geleef het verdien het nie. Na die oorlog was ons net goed vir slawe-arbeid en gedurende apartheid is hulle weereens reg bewys oor hoe ‘n afskuwelike volk ons is weens ons vreeslike onderdrukking van swart mense – iets wat in ‘n groot mate natuurlik deur hulself begin is.

Tog sien ons vandag dat Afrikaners min kwade gevoelens teenoor die Britte openbaar. Honderde duisende Afrikaners woon in Brittanje of het die afgelope paar jaar vir lang tye daar gewoon.

Ek sê glad nie dat dit verkeerd is nie, maar wonder tog of dit reg is dat ons alles maar net vergeet. Moes die koningin nie minstens kom om verskoning vra het nie? Moes hulle nie meer gedoen het om konsentrasiekampkerkhowe te bewaar nie? Moes hulle nie meer gedoen het om die Afrikaner te help om sy trots te herwin nie?

Wat voorts vir my vreemd is, is die internasionale onkunde wat daar oor die Tweede Vryheidsoorlog bestaan. Daar word nie in Hollywood films hieroor gemaak nie, ten spyte daarvan dat dit die bloedigste en duurste oorlog vir Brittanje in meer as 100 jaar was. Wanneer oorloë by universiteite, konferensies en selfs binne ‘n meer populistiese doemein soos televisie bespreek word, hoor ons weinig iets van hierdie oorlog. Dit is asof die vuilheid van die Afrikaner se internasionale beeld ook ‘n publieke verhoog vir die oorlog verhoed.

Indien Afrikaners hul eerbare plek as ‘n sterk identifiseerbare volk in die wêreld wil opneem moet ons meer doen as om net onsself as aanvaarbaar binne liberale Westerse norme te probeer posisioneer. Ons sal ook ons geskiedenis met trots weer ons eie moet maak. ‘n Natuurlike spanning met Brittanje mag dalk net die vlak wees wat ons nodig het om weer nader aan mekaar en ware Afrikanerkultuur en –waardes te kom. Daar is baie voorbeelde in die wêreld waar so ‘n natuurlike spanning juis tot die heropkoms van ‘n volk gelei het.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel