Waar kom Orania se water vandaan?

Op 19 Oktober 1996 het Oraniërs saamgekom en hulle moue opgerol om waterpype aan te lê vir Orania. Orania lê aan die wal van die Oranjerivier en dit is geen toeval nie. Orania se ligging is spesifiek gekies omdat dit ʼn lae bevolking het met amper eindelose geleentheid vir uitbreiding. Die infrastruktuur om water te verskaf, spring egter nie sommer uit die grond uit nie. Daarom was die aanleg van water vir die dorp ʼn gesamentlike inisiatief deur Orania Bestuursdienste (OBD), Vluytjeskraal 272 en elke ander Oraniër wat aan die werk gespring het.

Tweedehandse waterpype is van ʼn myn aangekoop, maar met die uitdaging dat dit in segmente afgelewer is. Die ingenieur in beheer was Nic Pieterse en die hoofvakman was Toppie Steenberg. Die pype is aan mekaar gesweis deur ʼn groep jong Oraniërs wat verlof van skool geneem het en self gespesialiseerde sweisopleiding ondergaan het, onder andere, Johan Olivier, Nils Pieterse, Dawid Steenberg en Werner Aucamp. Die pype is presies uitgemeet, met die beton dwarslêers teen presies die regte helling. Die pype is noukeurig met hysers en kettings gelê, sodat dit dig gesweis kan word. Wolframelektrodes is gebruik en die sweisboog is met ‘n onreaktiewe gas afgeskerm (TIG-sweis). Daarna is ‘n staalhoepel wat van dieselfde pype gesny is, rondom gesit en aan albei kante vasgesweis. Toe die pype vir die eerste keer onder druk getoets is, het dit net op twee plekke gesweet. Verder was dit dig. ʼn Verdere voorsorgmaatreël was om op bepaalde afstande groot U-vorme te plaas. Dit sorg dat die lang pyp kan rek en krimp, sonder om te breek. Dit is egter nie nodig nadat die pyp water in het nie.

Francois Joubert, bestuurder van Vluytjeskraal 272 Eienaarsvereniging en Orania-pionier, vertel dat die sweiswerk op die pype van so ʼn gehalte is dat daar tot vandag nog nie ʼn enkele lek in die pype gevind is nie. Die waterskema is so beplan dat water voorsien kan word vir landbou in rou vorm, en ook gesuiwer kan word vir die inwoners se gebruik.

Erwe in Orania het ʼn aparte rouwateraansluiting vir tuinwerk, siende dat dit goedkoper en meer prakties is om te vervoer as gesuiwerde water wat meer algemeen in die huise self gebruik word.

Die grootste uitdaging wat die waterskema ervaar, is die kwessie van uitbreiding. Die waterskema wil graag nog water beskikbaar stel vir die uitbreiding van landbou, maar met die huidige stelsel, sal dit onekonomies wees om meer water te pomp. Daarom is planne reeds in die pyplyn om die stelsel uit te brei sodat meer water verskaf kan word, en Orania verder kan groei.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel