Vordering met Werksgebou, Orania-stadsplein in die vooruitsig

Die Werksgebou waarvan die sooi in September 2024 gespit is, begin om vorm aan te neem. Sedert September het die werkspan nie stilgesit nie en volgens Niel de Klerk, Hoof: Ontwikkeling en Belegging van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, word daar goed volgens skedule gebou.
Sedert die eerste graaf grond geskep is, het hierdie terrein aansienlike veranderings ondergaan. Tans is die staalstrukture op die grondvloer reeds staangemaak. Die vloer is gegooi en daar word nou gewerk aan die steenmure.
“Die Werksgebou behoort teen September 2026 gefinaliseer te wees,” sê Niel.
Hierdie Werksgebou maak deel van die beoogde Werksplein – ʼn lewende stadsplein in die middel van Orania. Op hierdie plein behoort daar altyd iets aan te gaan; deur die dag besig met mense wat werk in hulle kantore of koffiewinkels besoek, en in die aande bied dit verblyf vir studente wat in die boonste verdiepings van dié gebou woon. Die Werksgebou is een van twee geboue (Duikerkoshuis die ander) wat op die onderste vloere kantoorspasie bied, en op die boonste verdieping studenteverblyf.
Buiten vir die Werksplein, sien Oraniërs ook uit na die stadsplein waar die standbeeld van Paul Kruger staangemaak gaan word. Volgens Niel is daar reeds in 2025 besprekings gehou met professionele beplanners en argitekte om verskillende ontwerpe vir hierdie plein te oorweeg. Niel vertel dat daar binnekort geleentheid sal wees vir openbare deelname in beplanningsfase van die plein en dat belangstellendes op die uitkyk moet wees daarvoor.
Diegene wat nog nie van die geleentheid gebruik gemaak het om reeds by dié projek betrokke te raak deur ʼn steen vir die Paul Kruger-beeld te koop nie, word uitgenooi om nie hierdie kans mis te loop nie. Klik hier:
Foto: Waar eens net dorre veld was, begin die Werksgebou nou vorm aanneem.
