Volksliedkompetisie kondig wenners aan!

Op 27 Februarie 2025, tydens Orania se Majubadagvieringe, is ʼn hoendervleis-oomblik beleef. “Roepstem van Orania” is as wenlied van die Volksliedkompetisie aangekondig en bekendgestel.
Die Murphy-gesin van Orania, het met die louere weggestap deur sowel die lirieke- en melodiekompetisie te wen. Nie net is dit ʼn oorwinning vir hierdie gesin nie, maar ook vir Orania. Dit dra by tot ons gemeenskap se strewe na volksvryheid.
Die Volksliedkompetisie is in Januarie 2023 geloods en was ʼn lang en deeglike proses. ʼn Beoordelingspaneel is saamgestel en kundiges is as adviseurs betrek. Woordkunstenaar, Daniël Hugo, en musiekkenners, Gisela de Villiers en Anton Esterhuyse het ʼn groot rol gespeel in die verwerking van die finale produk.
Orania Kunsteraad (OKeR) het die proses binne die Volksliedkomitee gefasiliteer en is opgewonde om “Roepstem van Orania” met die wêreld te deel. Bladmusiek, asook opnames van instrumentale begeleiding en begeleiding met stem, is beskikbaar. Vir verdere inligting kan volkslied.co.za besoek word. Leoni de Klerk, nuutaangestelde uitvoerende beampte van OKeR, noem dat die OKeR-bestuur reeds hierdie volkslied uit volle bors tydens vergaderings sing en moedig alle Orania-instellings aan om dieselfde te doen.
Ons vir jou, Orania!
Luister na die Roepstem van Orania: