Volkskool Orania bied Herfsskool aan

Volkskool Orania het in die laaste week van Maart hul jaarlikse Herfsskool gehou. Dis ʼn week waarin die afstand- en plaaslike graad 10 en 11’s genooi word om akademiese werk te kom doen, te sosialiseer, nuuskierig te raak, Orania te leer ken, buite-die-boks-ervarings te beleef en om oor die algemeen net ʼn avontuur te hê wat hulle uit hulle gemaksone uitkry.
Hierdie jaar is 17 leerders verwelkom by die Herfsskool. By die akademiese sessies was die onderwysers se instruksies om opnuut na die vak te kyk en leerders nuuskierig te maak daaroor. Hier is enkele voorbeelde van aktiwiteite en uitstappies wat deel van die program uitgemaak het:
– Hulle het die dorp se monumente en museums besoek en die Eleksa-pendeltuig as vervoer gebruik met oom Jannie Roux as bestuurder.
– Hulle het ʼn slaghuis besoek om te leer waar die vleis wat ons daagliks eet vandaan kom. Hulle het ook hulle eie wors gestop en van die verskillende snitte op ʼn tasbare manier geleer.
– Hulle het Bo-Karoo Opleiding se proefplaas besoek waar hulle meer van die tonnel geleer het en die oes in die olyfboord beleef het.
– Die Orania Sakekamer het kom verduidelik hoe die dOra werk en elkeen van die leerders moes ten minste een transaksie daarmee maak.
– Hulle het ʼn bouterrein besoek waar die IGO-leerders geleer het hoe ʼn bouplan in praktyk lewe kry.
– Tussendeur hierdie uitstappies was daar rekenaars uit mekaar gehaal, limerieke geskryf, skaaplonge gedissekteer (en opgeblaas), potensiële na kinetiese energie prakties ondersoek, fliek- en skryfaande gehou en vele meer.
– Die week is afgesluit met ʼn Herfsskoolete wat voorberei is deur die Gasvryheidstudieleerders.
Herfsskool was ʼn reuse sukses en Volkskool Orania bedank almal wat dit moontlik gemaak het. Daar word reeds uitgesien na Herfsskool 2026.
Foto: Dié span spog vir ‘n foto by die Koeksistermonument.
