Vergelegen tekenend van Orania se groei en ontwikkeling

Vir Orania om te kan groei tot ʼn tuiste vir honderd-duisende Afrikaners moet daar aan sekere aspekte voldoen word as voorvereiste vir verdere ontwikkeling om te realiseer. Seker een van die belangrikste dinge waaraan daar deurlopend aandag geskenk moet word, is die beskikbaarheid van gedienste erwe.

In talle gebiede binne sowel as buite Suid-Afrika, het goed-gedienste erwe ʼn skaars kommoditeit geword. Gelukkig beskik Orania oor ʼn funksionerende Dorpsraad wat basiese dienste soos riolering, vullisverwydering en water- en kragvoorsiening op ʼn volhoubare en professionele wyse lewer.

Wat die diens van erwe betref, is dit van wesenlike belang dat daar genoegsame erwe vir elke segment van die gemeenskap beskikbaar gestel moet word. Sulke erwe bied aan voornemende kopers nie net die geleentheid om in Orania te kan belê nie, maar ook om hulle hier te vestig.

Om die nood na gedienste erwe na behore aan te spreek, het die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) ʼn ontwikkelingspyplyn daargestel waarvolgens hulle beoog om DV meer as 600 gedienste erwe in die voorsiende toekoms in die mark te plaas. Hierdie ontwikkeling maak voorsiening vir die diens van residensiële-, kommersiële-, sowel as nywerheidserwe.

Een van die pyplynontwikkelings wat onlangs bekend gestel is, is Vergelegen. Die ontwikkeling wat in Kleingeluk geleë is, het dit spesifiek ten doel om aan eerste kopers die geleentheid te bied om ook die eiendomsmark te betree. Wat die ontwikkeling besonders maak is nie net die prys van die erwe nie, maar ook dat eerste kopers, onderhewig aan sekere voorwaardes, kwalifiseer vir ʼn aansienlike afslag met die aankoop van ʼn erf. Die verkoopprys (vóór afslag) van die erwe wissel van so goedkoop as R205 000 per erf tot R410 000 vir die groter en meer eksklusiewe erwe.

Die ontwikkeling van hierdie erwe moet gesien word in die lig van ʼn gemeenskap wat mekaar se belange op die hart dra. Orania deel geen gratis huise uit nie, maar bied wel aan diegene wat verantwoordelik met hul finansies te werk gaan, die geleentheid om ook ʼn eiendom te bekom.

Saam bou ons aan ʼn toekoms vir ons en ons mense!

 

Foto: Voorstelling van die Vergelegen-erwe.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel