Trotse netbalspelers hou Orania se naam hoog

Ons is trots op twee van Orania se kranige netbalspelers, Michelle Rust en Gabby McLean, wat die afgelope paar dae aan die SPAR Nasionale Netbal kampioenskappe van 2024 deelgeneem het.

Hierdie kampioenskappe, wat in Alberton plaasvind, word deur verteenwoordigers van al die netbaldistrikte regoor die land bygewoon.

Michelle Rust, Boerderybestuur lektor by Bo-Karoo Opleiding, is gekies om in die Frances Baard distrik se senior span aan die kampioenskappe deel te neem, terwyl Gabby McLean, eerstejaarstudent in Bou- en Siviele Konstruksie aan BKO, op haar beurt weer gekies is vir die distrik se O/21-span.

Michelle en Gabby, wat albei deel is van die Gemsbok Netbalklub in Orania, is na ʼn jaar van harde werk en deursettingsvermoë tydens Frances Baard se proewe gekies om die distrik by die SPAR kampioenskappe te verteenwoordig. Ter voorbereiding het gedurige oefensessies, kondisionering, en deurlopende deelname aan streek- en superligas verseker dat beide spelers wedstrydfiks is.

“Die kampioenskappe bied ongelooflike blootstelling aan enige iemand wat graag netbal wil speel,” meen Michelle. “Ons het die geleentheid om teen spelers te kompeteer wat op nasionale en provinsiale vlak speel. Ons is tussen goeie, ervare netbalspelers, afrigters en skeidsregters.”

Die SPAR kampioenskappe bied die geleentheid vir spelers om deur keurders opgemerk te word. Hierdie keurders kies spelers om op verdere vlak te kompeteer, onder andere vir die Proteas en Fast Five oefengroepe.

In Orania bied klubs soos die Gemsbok Netbalklub spelers die geleentheid om hul talente en harde werk na ʼn hoër vlak te neem, waarvan Michelle en Gabby vir ons ʼn bewys en voorbeeld is om op trots te wees!