Studente slaag vaktoetse met vlieënde vaandels

Bo-Karoo Opleiding (BKO), tersiêre opleidingsinstansie in Orania, vier die sukses van hul studente wat vanjaar hul vaktoetse met groot ywer en toewyding aangepak en geslaag het. Hierdie belangrike mylpaal is die finale tree op die pad om te kwalifiseer as professionele ambagsmanne. Die resultate spreek van harde werk en uitstekende mentorskap.
Vanjaar se vaktoetse het uitstekende slaagsyfers gelewer. Tot dusver het studente in drie verskillende rigtings hul vaktoetse geslaag:
- Elektries: dertien studente slaag, met nog drie wat hul toetse voor die einde van November moet aflê.
- Loodgieter: agt studente slaag, met twee wat nog toetsafwagtend is.
- Messelaar: vyf studente slaag.
Met ʼn 100% slaagsyfer vir die studente wat reeds hul toetse voltooi het, bevestig BKO sy posisie as ʼn leier in die opleiding van skaarsvaardighede.
Vaktoetse bly egter ʼn groot uitdaging. Die onbekende omgewing en toerusting tydens die toetse dra tot die spanning by, maar dit is ook ʼn geleentheid vir studente om hul vaardighede te bewys.
“Dit is ʼn baie spanningsvolle tydperk in ʼn student se lewe. Hierdie toets bepaal of jy uiteindelik as ʼn gekwalifiseerde ambagsman erken word,” verduidelik Johan Klinck, Departementshoof: Ambagte.
Vir BKO as opleidingsinstansie is elke suksesvolle student ʼn viering van drie jaar se harde werk en mentorskap. Elke student wat sy of haar vaktoets slaag, is ʼn lewende bewys van die hoë standaarde en Christelike waardes waarop BKO se opleiding gegrond is.
BKO sien met groot opwinding uit na 2025 en is gereed om ʼn nuwe groep voornemende studente op kampus te verwelkom. Met ʼn sterk fokus op gehalte opleiding en praktiese vaardighede, is BKO in ʼn positiewe groeifase en op koers om sy invloed verder uit te brei.
Foto 1: Die toekoms lyk belowend vir BKO se suksesvolle studente, soos GJ Venter hieronder. Die meeste word vinnig in diens geneem of begin hul eie ondernemings.
Foto 2: Vir BKO as opleidingsinstansie is elke suksesvolle student ʼn viering van drie jaar se harde werk en mentorskap. (vlnr. Zak Winterbach, Andries Swart, Kevin Ferreira)

