Studente in Orania: Kollege groter as ooit

Hoe sal Orania lyk as meer as 10% van die totale bevolking studente is? Kan Orania die studente-dorp estetika, kultuur en karakter ontwikkel wat Potchefstroom en Stellenbosch soveel jare gelede bekend gemaak het?

Bo-Karoo Opleiding het vanjaar ʼn rekordgetalstudente. Met eerstejaars wat pas hulle eerstejaarskamp voltooi het en tweedejaars wat na die vakansie teruggekeer het, is daar meer as 200 ingeskrewe studente wat by BKO studeer! Orania het in 2023/2024 al meer as 2874 inwoners gehad (studente uitgesluit). Met die toenemende getal studente neig syfers dus reeds na ‘n verhouding waar bykans 10% van die bevolking studente is.

Die jaar is reeds met ʼn aktiewe eerstejaarskamp afgeskop, ontgroening wat die mansstudente hulle hare gekos het, talle tradisies, baie pret en die begin van ʼn nuwe studentelewe in Orania.

Bo-Karoo Opleiding, wat in 2019 met ʼn skamele vyf studente begin het, bied al vir ʼn wyle kursusse aan waar jong Afrikaners as elektrisiëns, loodgieters en messelaars kwalifiseer. Boerderybestuur is ʼn betreklike nuwe, en baie gewilde kursus, terwyl BKO verder vanjaar met twee splinternuwe kursusse naamlik diplomas in siviele ingenieurswese asook vroeë kinderontwikkeling, spog.

Bo-Karoo Opleiding het tans drie amptelike koshuise naamlik Steenbok, Duiker en Vaalbos. Daar word egter ʼn reeks koshuise wat 800 studente sal kan huisves, beplan. Dit sal fase vir fase opgerig word en ʼn hele kampusgebied in Orania inlei.

Bo-Karoo Opleiding bied ʼn uiters belangrike diens: geakkrediteerde opleiding op ʼn hoë standaard in Afrikaans, en waar Afrikaners nie agter in die ry hoef te staan vir toelating nie – inteendeel!

Baie geluk aan BKO met hierdie mylpaal.

 

Foto: ‘n Groot groep (die grootste tot dusver) eerstejaars woon vanjaar se eerstejaarskamp by.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel