Straatfees 2024 ‘n groot sukses

Die Straatfees het weereens ʼn Orania-vakansie met jolige samesyn en skaterwekkende geselskap afgeskop. Die Tuin-tot-Tafel Straatfees is ʼn jaarlikse kenmerk van die Orania vakansiekultuur. Oraniërs kom bymekaar en elkeen bring ʼn dis van hul voorkeur, waarvan almal na willekeur kan skep. Ongeveer 300 mense het op die aand van 29 November opgedaag om saam fees te vier.
Almal het by die rugbyveld gestop, vanwaar Orania se eie elektriese Eleksa-bussies mense na die feesterrein vervoer het. Op elke bussie was daar ‘n vrolike musikant of twee wat trekklavier gespeel het.
Nikke Basson, mede-organiseerder van dié geleentheid, vertel dat daar soveel kos was, dat teen die tyd wat helfte van die gaste opgedaag het, die kostafels alreeds vol was.
“Dit is die eerste jaar wat daar so baie kos was dat ons vier ekstra kostafels moes bysit! Die helfte van die mense het nog nie gearriveer nie, toe is die kostafels al vol. Die mense het in soveel oorvloed gebring!”
As voorgereg is heerlike roosterkoeke, vars van die kole af met plaasbotter en heuning bedien. Begeleiding deur ʼn Orania-orkes het gesorg vir ʼn rustige atmosfeer.
ʼn Impromptu musikale vertoning is deur verskeie kunstenaars uit Orania behartig. Na afloop hiervan is Afrikaanse kersliedere gesing en daarna is smaaklike oliebolle vir nagereg geniet.
Kyk gerus na die video hier onder wat tydens die Straatfees geneem is: