Stigtingsdag – ʼn herdenkingsdag in Orania

Op 6 April herdenk en vier Oraniërs jaarliks Stigtingsdag. Hierdie belangrike Afrikaner herdenkingsdag is sedert 1994 in Suid-Afrika as amptelike vakansiedag afgeskaf, maar in Orania word Stigtingsdag steeds met trots gevier.
Op 6 April 1652 het Jan van Riebeeck en sy bemanning van die VOC (Verenigde Oos-Indiese Kompanjie) aan die Kaap aangekom om ʼn verversingspos vir Nederlandse skepe op die roete na die Ooste te vestig. Op ʼn manier was hierdie gebeurtenis die begin van die Afrikaner se verhaal.
Daar is egter nóg ʼn rede waarom Stigtingsdag vir Oraniërs ʼn belangrike datum is om te herdenk. In April 1991 het die heel eerste Orania-gesinne na Orania verhuis. Op ʼn manier was dit dus die begin van die verwerkliking van die gemeenskap se strewe na Afrikaner-selfstandigheid en selfbeskikking. Vir Oraniërs word ons geskiedenis en toekoms weer in perspektief geplaas op Stigtingsdag – kyk waar kom ons vandaan, kyk waar is ons vandag, en dink weer oor waarna ons op pad is.
Aangesien Stigdingsdag in 2025 op ʼn Sondag val, herdenk Oraniërs dié gebeurtenisse eerder op die voorafgaande dae. In 2025 word Stigtingsdag gevier deur ʼn uitdaging aan Oraniërs en aan Orania ondersteuners te stel: Dra jou vlag vir Stigtingsdag!
Of jy nou jou vlag in jou erf of op jou bakkie het, en of jy ʼn lapelwapen netjies op jou bors dra, vir die tydperk tussen 3 – 5 April, word elke Oraniër en Orania-ondersteuner aangemoedig om hul kleure te wys!
Dra jou vlag en wees trots op jou herkoms, maar rol jou moue op (soos die Klein Reus) vir jou eie toekoms!