Sinkplaatfietstoer: ʼn Eerste vir Orania

‘n Avontuurlike grondpad-fietsrytoer met heerlike saamkuier en in die oop Karoo oornag? Dit was presies wat die eerste Sinkplaatfietstoer was!

Die Sinkplaatfietstoer wat van 18 tot 20 Desember in en om Orania plaasgevind het, was besonders. Die 14 deelnemers het nie net die geleentheid gehad om die Bo-Karoo streek se skynbare verlatenheid en prag te ervaar nie, maar ook die uitdaging beleef om 175 km per fiets af te lê.

Wat die roete besonders maak, is die verskeie besienswaardighede waarby op weg aangedoen is. Die ou treinbrug by Oranjerivierstasie is oorgesteek en Doornbult konsentrasiekamp – seker die bes bewaarde konsentrasiekamp in Suid-Afrika – is besoek. Vandaar het die deelnemers na ʼn wildsplaas te Kraankuil vertrek waar hulle die natuurlewe en sterrehemel van die Karoo eerstehands kon beleef.  

Saans is daar nie net lekker geëet nie , maar ook saam gekuier. Vriendskappe is gesmee wat beslis die toets van die tyd sal deurstaan. Almal was dit eens: die Sinkplaatfietstoer is ʼn belewenis wat elke Afrikaner, wat oor ʼn fiets beskik, beslis moet mee maak. Volgende jaar maak ons weer so!

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel