Plaasmoorde: Witkruisdag in Orania herdenk
Op 11 November 1918 word die einde van die Eerste Wêreldoorlog aangekondig, en het ʼn jaarlikse herdenkingsdag met die naam “Rooi Papawerdag” geword – ʼn herinnering aan die prys en offer van oorlog.
In Orania word 11 November ook herdenk – hier by ons heet dit Witkruisdag. Hierdie geleentheid word deur die Orania Bewaringstigting aangebied en die doel is om ons eie soldate wat in oorloë omgekom het, te onthou. Die fokus is baie spesifiek ook op die voortslepende plaasmoorde.
Witkruisdag het dus ʼn baie spesifieke betekenis. Die wit kruise wat velde vol staan, verteenwoordig ons mense wat op plase en in die dorpe op ʼn skaal en met ʼn wreedheid wat net so erg soos oorlog is, vermoor word.
Saam met elke wit kruis kwyn ʼn familie weg; kwyn Afrikaans weg; kwyn stories, tradisies en vriendskap weg. Saam met elke wit kruis is ons bietjie armer, en verdwyn ʼn stukkie geskiedenis.
Vanjaar het Oraniërs ʼn optog deur Orania se strate gehou, geklee in wit. Die Jeugkorps, ʼn jeugprogram deur Orania Veiligheidsdienste se Taakspan, het ook hulle uitklaarparade gehad, en het hierdie optog gelei.
By die Witkruismonument in Orania het ds. Ronald Bain geopen, Thomas van Dalen van AfriForum ʼn oorsig oor plaasmoorde gegee, mnr. Jan Snyder ʼn gedig voorgedra wat hy vir die geleentheid geskryf het, en daarna was daar geleentheid vir Orania se instellings en skole om blommekranse by die witkruis te lê. Die dag is met sonsondergang afgesluit met die speel van die Laaste Taptoe.
Op 11 November onthou ons elkeen wat ontydig en wreedaardig van ons weggeneem is, maar ons onthou ook hoekom dit so belangrik is om Orania te bou, ‘n plek waar ons mense vry en veilig kan wees.
Foto 1: Joost Strydom van die Orania Beweging lê ‘n krans
Foto 2: Verskeie Orania-instellings het ‘n krans kom lê