Oraniërs vier fees op Majuba

Tussen motreën, swepe wat klap en “Ken jy die land waar die Boerevolk woon” wat in die verte opklink, staan die Orania-vlag aan die voet van Majuba en wapper.

27 Februarie is nie meer net ʼn datum wat onthou word in ons geskiedenis nie, maar ʼn dag wat gevier word. In Orania is Majubadag ʼn vakansiedag wat elke Afrikaner in Orania laat terugdink aan die eerste Vryheidsoorlog. Dit gee vir verskeie Oraniërs die geleentheid om hulle reënjasse in te pak en self te gaan kamp opslaan daar waar die boere 144 jaar gelede geveg het. Vir baie is dit net ʼn uitstappie, maar vir ons is dit ʼn geleentheid om ons geskiedenis te beleef en bande met ons volk en erfenis te versterk.

Hierdie jaar het ongeveer 20 Oraniërs die vlag laat wapper op Majuba. Dit is een ding om in geskiedenisboeke van Majuba te lees, maar om self op daardie berg te staan, waar ons voorouers vryheid verower het, vuur die vryheidstrewe in ons net nóg meer aan. Dit help ons om soveel sterker met ons voorgeslagte te vereenselwig. Die samesyn en gemeenskap by Majuba is iets wat nie beskryf kan word nie, dit is iets wat beleef moet word. Tussen volkspele, cantus, sweep slaan en klim van die berg is dit merkwaardig om te sien hoeveel jongmense en studente ook aan die fees deelneem en ons geskiedenis vier – ʼn teken dat ons geskiedenis steeds voortleef in die harte van die jeug.

Die herdenking van Majuba is ʼn belewenis wat elke Afrikaner moet ervaar. Volgende jaar wapper die Klein Reus DV weer op die kruin van Majuba.

 

Foto: Oraniërs laat die Orania-vlag op Majuba wapper!

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel