Oraniërs open die nuwe Trommel

Op Vrydagaand, 21 Maart, het Oraniërs saamgekom vir die lintknipseremonie van die opgeknapte Trommel-winkel, ʼn projek van Orania Helpmekaar. Die Trommel is ʼn tweedehandse klere- en huisgoedere winkel wat deur skenkings funksioneer, en produkte teen bekostigbare pryse aan die gemeenskap bied.
Die opgradering van Die Trommel het ‘n groot indruk gemaak, en reeds op die eerste aand is duisende rande se produkte verkoop. Die fondse wat hierdeur ingesamel word, help Orania Helpmekaar om belangrike maatskaplike dienste in die dorp te verrig. Só dra talle Oraniërs, dikwels sonder om dit eers te besef, by tot die welsyn van die gemeenskap.
Die opgeknapte Trommel is netjies ingerig met stylvolle rakke en ʼn beter uitleg, wat dit makliker maak vir kliënte om na verskillende items te kyk.
Baie inwoners het die opening bygewoon, waar ʼn sterk gevoel van samehorigheid geheers het. Hierdie gevoel is verder beklemtoon deur ʼn gratis worsbroodjie-ete wat Oraniërs motiveer het om skenkings aan Orania Helpmekaar te maak.
Oraniërs toon telkens hul bereidwilligheid om by te dra, te ondersteun en te belê in hul gemeenskap, met die wete dat hulle eendag die vrugte van hul harde werk sal pluk.
Besoek Orania Helpmekaar om jou bydrae te lewer.