Oraniër bewys haarself as ystervrou

Michelle Rust, lektor in Boerderybestuur by Bo-Karoo Opleiding, het die afgelope naweek gewys wat in haar steek toe sy die uitdagende Ironman-kompetisie aangepak en suksesvol voltooi het.

“Ek daag myself gereeld uit. Hoe meer ek myself fisies uitdaag, hoe makliker word alledaagse probleme en hindernisse,” vertel Michelle geesdriftig. “Die Ironman-kompetisie was verseker uitdagend, maar dit is my kos!”

Die Ironman 70,3 kompetisie, het op 17 November te Mosselbaai plaasgevind, en het oor die tweeduisend deelnemers van oraloor gelok. Tussen hierdie talle deelnemers het Michelle Orania se naam hoog gehou, en was sy deel van die duisend plus vasbyters wat die kompetisie voltooi het.

Die kompetisie het met ʼn 1,9 kilometer se swem vanaf Santos strand na De Bakke strand begin.

“Ek het voor die kompetisie verskriklik opgesien na die swem. Ek het nie geweet wat om te verwag nie, en al het ek hard geoefen en goed voorberei daarvoor, was my senuwees gedaan,” vertel Michelle. “Maar op die ou end was dit die lekkerste en maklikste deel van die hele kompetisie!”

Daarna het deelnemers ʼn 90 kilometer roete te fiets aangepak. Michelle, wat lief is vir fietsry, het die roete met mening aangepak, maar by die 80 kilometer merk ʼn pap wiel gekry. Dit het haar egter nie gestop nie, en sy het die roete na ʼn vinnige wielvervanging suksesvol voltooi.

Die laaste gedeelte van die resies, ʼn afstand van 21 kilometer te voet, was vir Michelle ʼn belewenis.

“Die energie was wonderlik. Toeskouers het ons aangemoedig en natgespuit met water. Jy wóú nie opgee nie!” sê Michelle. “Noudat die kompetisie verby is en ek daarna terugkyk, het ek net weereens besef dat ʼn mens tot baie meer in staat is as wat jy dink!”

Ons is baie trots op Michelle. Sy is sowaar ʼn inspirasie vir haar studente en elke Oraniër!

Foto 1: Die laaste gedeelte van die kompetisie bestaan uit ʼn afstand van 21 kilometer te voet.

Foto 2: Tydens die 90 kilometer fietsry het Michelle haar nie deur ʼn pap band laat stop nie.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel