Orania Trommel slaan nuwe blaadjie om

Groot opgewondenheid heers oor die veranderinge wat eersdaags by die Trommel, Orania se gemeenskapswinkel, gaan plaasvind. Die behoefte wat ontstaan het om ook meubels, linne, elektroniese ware en selfs sporttoerusting te koop aan te bied, het Orania Helpmekaar genoodsaak om ʼn groter perseel te bekom. Volgens Janca Pieterse, maatskaplike werker van Orania Helpmekaar, is hulle dankbaar oor die nuwe perseel wat bekom is.

“Ons is veral dankbaar dat die Trommel steeds maklik toeganklik vir alle Oraniërs gaan wees en is ook opgewonde oor die moontlikhede wat die groter ruimte bied.”

Die nuwe gebou sal verseker dat die Trommel in Oraniërs se toenemende behoefte aan huishoudelike ware kan voorsien. Die skenkings wat Helpmekaar ontvang, maak dit nie net vir die Trommel moontlik om alle items op ʼn bekostigbare wyse aan inwoners beskikbaar te stel nie, maar genereer ook ʼn inkomste wat Orania Helpmekaar in staat stel om maatskaplike dienste, waar nodig, in Orania te lewer.

Die Trommel is ʼn mooi voorbeeld van ʼn gemeenskapswinkel wat oor jare daarin geslaag het om om ʼn waardevolle bydrae tot Orania se groei en ontwikkeling te lewer. Persone wat goedere het wat tuis in onbruik verval het, skenk dit aan die Trommel wat dit weer aan diegene wat dit benodig, beskikbaar stel. In- en uitwoners van Orania wat graag ʼn bydrae in die verband wil maak, is welkom om met Bianca van der Linde te skakel. Sy kan gekontak word by 053 110 0797 of admin@oraniahelpmekaar.co.za

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel