Orania skole heropen

Foto: Die graad 1’s van Volkskool Orania spog met hulle nuwe skooltasse.
Die openingsdag van die 2025 skooljaar was op 16 Januarie. Tussen die graad 1’s wat uiteindelik “groot skool” toe gaan, graad 8’s wat hulle hoërskoolloopbaan betree en 2025 se matrieks wat nou die oudste leerlinge in die skool is, het daar ʼn atmosfeer van entoesiasme vir die nuwe jaar in Orania geheers.
Orania CVO-skool en Volkskool Orania het op 16 Januarie hul personeel, leerlinge en ouers na die Desember-vakansie terug verwelkom. Tussendeur die gekriewel van jong, energieke skoliere kon die skoolhoofde darem hul boodskappe vir 2025 aan die kinders oordra en hul sterkte toewens met die komende akademiese jaar.
Beide Volkskool Orania en Orania CVO-skool het die jong, opgewonde graad 1’s op unieke maniere verwelkom. Orania CVO-skool het hul jaarlikse kloklui-tradisie voortgesit waar die graad 1’s hul eerste skooldag inwy deur die klok wat voor die skool hang, te lui. Kwassie die Dassie, Orania CVO-skool se gelukbringer, het ook vir hulle kom kuier.
Elke graad 1’tjie by Volkskool Orania kon die jaar begin met hul eie splinternuwe skooltas – gereed vir al die nuwe kennis wat 2025 inhou! Volkskool Orania tesame met Solidariteit Helpende Hand het vir 2025 se graad 1’s elkeen hul eie skooltas oorhandig.
Vir diegene wat uiteindelik die hoërskool betree, het daar egter ʼn meer uitdagende openingsweek voorgelê. As groentjies in die hoërskool word die graad 8’s goed ingesout deur die matriekklasse. Ontgroening van die graad 8’s is ʼn jaarlikse tradisie wat deur beide skole uitgevoer word en maak skoolgaan in hierdie eerste paar weke net bietjie meer interessant – selfs vir diegene wat die ontgroening ondergaan. Van eier-babas, kruiwa-skooltasse, omgedopte skoolklere tot swartsak dra, stroopappel eet en hoendereier begrafnis hou was alles items op die arme graad 8’s se programme.
Orania se kinders word in ʼn kultuurryke Afrikanergemeenskap groot waar hulle nie net die geleentheid ontvang om akademies te presteer nie, maar ook kosbare lewenslesse te leer om vir die res van hul lewens saam te dra.
Die Orania Beweging sien saam met beide skole uit na ʼn vreugdevolle 2025.
Foto: Leerders van Orania CVO-skool groet mekaar na ‘n lang Desembervakansie.
