Orania serwituutpad: ʼn Teerpunt

Die Orania Dorpsraad se Ingenieursdienste beloof om binnekort met ‘n projek te begin waarna Oraniërs al vir baie jare uitsien: die teer van die serwituutpad.
Oraniërs is gewoond aan hitte en stof – die pad na vryheid is nie altyd ʼn teerpad nie! Inteendeel is die pad na vryheid dikwels ʼn opdraande weg waar dit moeilik is om koers te hou, maar juis daarom is dit die moeite werd. Stadig maar seker maak Oraniërs hul eie omgewing gemakliker.
Ondersoeke, verkeertellings, meningspeilings en spasie binne die begroting kan die Dorpsraad met die proses begin om die serwituutpad tussen die Eureka-kruising en die R369 te teer. Volgens ʼn plasing op die Orania Dorpsraad se Facebook-blad, word daar beoog om ʼn 8m breë pad hier te teer:
“Daar word dus beplan om bietjie later in die jaar die nuwe 8 meter breë teerpad te bou, wat baie gaan help met stof en wat ook minder skade aan inwoners se voertuie en besoekende vragmotors sal verseker.”
Infrastruktuurontwikkeling en -opgradering is ʼn duur, maar noodsaaklike element van ʼn groeiende gemeenskap. Oor die algemeen geniet water-, elektrisiteit-, en ekonomiese (soos hoëspoed internetverbindings) infrastruktuur prioriteit in Orania, maar soos wat die dorp uitbrei en groei, ontwikkel daar geleenthede soos dié.
Die byna ikoniese grondpad na die dorp vanaf die R369 sal dus binnekort ʼn nuwe baadjie aantrek en Oraniërs is baie opgewonde daaroor.
Foto’s: Foto’s etlike minute vanaf mekaar op ‘n gewone weeksoggend in Orania geneem, om te wys hoe besig dié pad is (foto’s van Orania Dorpsraad Facebook-blad).

