Orania modelle: Ons bou die stad

Die modeparade van JC Modelle op 16 November het die tema “ons bou die stad” uitgebeeld. Modelle het die aand geopen as bouers, skoonmakers, arbeiders en oprigters. As deel van dié tema is ʼn verhaal uitgebeeld van “lig” teenoor “donker”.
ʼn Modeparade is ʼn relatiewe nuwe domein vir Orania. Oraniërs wat die geleentheid bygewoon het, het dit as “uniek”, “interessant”, “professioneel” en van “hoë gehalte” beskryf.
Modelle uit Orania het die loopplank betree om besonderse Orania-ontwerpe en hul unieke talente ten toon te stel. ʼn Verhaal van lig teenoor donker is deur die loop van die modeparade vertolk, met die lig wat eindelik die donker oorwin.
“Ons bou hard aan die stad,” vertel Jessica Bornman, uitvoerende vervaardiger van die geleentheid. “Soos op alle terreine is daar donkerder en ligter tye in Orania – tye wat dit moeiliker gaan, maar tye wat dit ook beter gaan.”
Ontwerpe van herwinde materiaal was ʼn interessante en kreatiewe wending in die aand. Kledingstukke van swartsakke, koerante en selfs speelkaarte het pragtig vertoon. Die herwinde materiaal-ontwerpe was ʼn ekstra uitdaging vir die modelle wat self hierdie ontwerpe moes uitdink.
“Die vertoning was ʼn reuse sukses,” sê Jessica. “In vergelyking met ons aanbiedings van vorige jare, was hierdie een reeds duisende kere beter. Sedert dié ervaring gebruik ek die woord ‘fantasties’ sommer baie meer, want dit was die beste woord om die geleentheid, die span, die modelle en elke helper, te beskryf.”
Foto: Interessante ontwerpe van herwinde materiaal kon by hierdie geleentheid gesien word.
