Orania legende, Annatjie Boshoff, se grafsteen opgerig

Anna Maria Boshoff (of tannie Annatjie, soos meeste haar geken het) was ‘n prominente figuur in Orania. Sy was een van die vroeë pioniers en het op 4 Julie 1991 die skuif na Orania gemaak. Sy was die sesde persoon wat na Orania getrek het, en het hier gebly tot haar afsterwe in 2019.
Op 13 Januarie 2025, die 100ste herdenking van haar geboortedag is haar grafsteen op haar graf gelê deur die familie. Annatjie Boshoff se bydrae in Orania kan nie gemeet word nie. Sy was betrokke by alles waar sy kans gekry het, en het altyd gehelp waar sy kon.
Hier volg ‘n uittreksel uit die huldeblyk van Annatjie Boshoff wat ‘n gedeeltelike blik gooi op die blywende invloed wat sy op Orania gehad het:
Van 1958 tot 1966 was Annatjie privaatsekretaresse vir die Verwoerds en daarna vir nog 12 jaar, tot 1978, vir mev. Vorster, eggenote van dr. Verwoerd se opvolger John Vorster. Sy het ook daarna nog in verskeie posisies in die staatsdiens gewerk tot en met haar aftrede. Annatjie het altyd naby haar broer en skoonsuster beweeg en hulle oortuigings was dieselfde, alhoewel hulle persoonlikhede en terreine van betrokkenheid verskil het. Terwyl Carel en Anna op die voorpunt van die politieke stryd was en op allerhande maniere ondersteuning by mense en organisasies vir die volkstaat gewerf het, het Annatjie as een van die heel eerstes die harde pionierswerk van die bou van ʼn nuwe toekoms in Orania op haar geneem. Toe sy reeds afgetree was in gerieflike omstandighede in ʼn woonstel in Arcadia, Pretoria, het sy besluit om ʼn nuwe begin te maak ter wille van die ideaal en het haar pensioengeld gegee sodat die vervalle dorp Orania aan die einde van 1990 deur ʼn groep uit die Avstig-geledere gekoop kon word. Sy was ook een van die heel eerste inwoners wat in die winter van 1991 in Orania ingetrek het, toe dit nog woes en leeg was.
Sy word tot vandag nog met waardering onthou.
Foto: Annatjie Boshoff se grafsteen word deur familie gelê.
