Orania-infrastruktuur word opgradeer

Een eienskap van ʼn groeiende gemeenskap is wanneer die huidige infrastruktuur nie meer in staat is om almal te akkommodeer nie. Daarom is die Dorpsraad besig om die hooftoevoer pyplyne na Kleingeluk vir rou- en suiwerwater op te gradeer.

Kleingeluk se woongebied het die afgelope tyd geweldig uitgebrei en die bestaande pyplyne kan nie meer aan die groeiende waterbehoefte voorsien nie. Die bestaande 80 mm pyplyne word vervang met 200 mm diameter uPVC pyplyne.

“Die projek is die eerste fase van die opgradering en ons voorsien dat daar reeds ’n verbetering met die vloei en druk vir Kleingeluk sal wees,” sê André van Heerden, Hoof: Ingenieursdienste by die Dorpsraad.

ʼn Gereelde uitdaging van ontwikkeling in Orania is harde grond en rotsbanke wat die proses vertraag. Dit is nie ongewoon dat ʼn ontwikkelingsprojek se einddatum uitgestel word sodra die span ʼn klipbank tref en nuwe planne moet maak nie. In hierdie geval is daar ook verskeie bestaande infrastruktuur waar versigtig gewerk moet word om dit nie te beskadig nie. André vertel egter dat Oraniërs teen die tyd al geleer het hoe om sulke uitdagings te hanteer.

“Gelukkig het Herman Grotius en die siviele konstruksiespan al baie ervaring om in moeilike omstandighede dienste te installeer. Orania het ook al goed gevorder met middele om dié tipe uitgrawings te hanteer en groot meganiese brekers het gesorg dat die uitgrawings suksesvol voltooi kon word.”

 

Foto: Die siviele konstruksiespan het al ervaring om met harde grond en tussen rotsbanke te werk.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel