Deur Sebastiaan Biehl
Dikwels word beweer Orania is ʼn “blanke dorp” en “die laaste bastion van apartheid”, veral in die media, wat natuurlik grof vereenvoudig of heeltemal onwaar is. Feit is wel dat Orania heeltemal anders is as Suid-Afrika, of eerder Suid-Afrika soos wat dit na buite bemark en waargeneem word. Dit is meer as die blote clichéagtige teenstelling van die “opwindende en bont reënboognasie” teenoor die “geïsoleerde en homogene dorp”, terme waarvoor joernaliste so lief is en hoekom hulle Orania altyd as kontras vir ʼn berig oor die multi-kulturele Suid-Afrika besoek. Dit is ook sentimente wat met elke verkiesing deur die hoofstroompartye gebruik word om ʼn eenheid te skep wat nooit bestaan het nie.
Dat Suid-Afrika net oppervlakkig so “multikultureel of bont” en gemeng is soos wat die meningsvormers dit graag wil hê, en in werklikheid nog altyd uit ʼn magdom gemeenskappe en volke bestaan wat min met mekaar in gemeen het, en net in die groot stede ʼn soort verbruikerssamelewing-eenheid vorm, behoort enige iemand sonder oogklappe waar te neem. Ook dat een suiwer Afrikanerdorp by ʼn volk van bykans drie miljoen Afrikaners nie so vreemd is nie, waar daar honderde etnies homogene Bruin, Zoeloe-, Sotho-, Xhosa-, Tswana-, Indiër- ens. gemeenskappe bestaan, behoort iemand wat nie ideologies na dinge kyk nie, toe te gee.
Wat Orania egter heeltemal anders maak en vir baie ʼn steen des aanstoots is, is nie die swart-wit tema wat al holrug gery is nie, maar sekere fundamenteel ander uitgangspunte:
Beheer van bo vs. opbou van onder
Die ANC probeer nou al sedert die bewindsoorname, gelukkig meesal onsuksesvol, om Suid-Afrika in ʼn diep staat volgens die sosialistiese ideaal te omvorm. ʼn Staat wat verkieslik alles moet beheer, alles moet reguleer, die mense in die regte rigting moet lei en die ideale samelewing volgens die ideale van gelykheid, broederskap en die uitroei van enige individuele verskille moet bou. Bykans alles wat die staat doen, kan in daardie lig gesien word. Die staat wantrou die burgery en wil daarom die maksimum beheer hê en toedeel volgens elkeen se gewaande behoefte. Die staat is nie meer die somtotaal van sy burgers nie, maar iets groters en hoër wat deur ʼn elite bestuur word wat verbind is aan die ideale van die “revolusie” of die “struggle”. Aldus die teorie uit menige beleidstukke van die ANC. In praktyk is die elite verbind tot selfverryking ten koste van die burgers, deur middel van die staat.
In Orania daarteenoor is die owerheid so sterk soos sy burgers en staan (ideaal gesproke) onder die gesag van die burgers. Pleks van ʼn sterk staat bou ons hier aan ʼn sterk gemeenskap. ʼn Gemeenskap bestaan uit al sy dele en sekere verskille is onvermydelik. Die owerheid se plig is nie om almal gelyk te maak nie, maar om te sorg dat basiese standaarde bestaan wat ʼn menswaardige lewe verseker. Wat elkeen daarmee maak, hang van elkeen self af. Die owerheid in Orania stel sekere standaarde waarvolgens mense met mekaar kan saamleef. Daar word egter nie vir elke vereniging, kerk ens. voorgeskryf watter ideologie hulle mag aanhang, dat hulle verteenwoordigend moet wees ensovoorts, nie. Verder ontwikkel die owerheid ook, soos wat die gemeenskap in getalle en grondgebied en eise groei. Waar daar vroeër net een grondeienaarsinstansie was, is daar nou 4, plus ʼn groeiende getal huurders wat ook gevestigde inwoners is en verteenwoordiging benodig. Die OVR is besig om die verskillende groepe gesamentlik te verteenwoordig.
Globalisme en sosialisme vs. lokalisme en vrye mark
Suid-Afrika se ekonomie is ʼn ongesonde kombinasie van globalisme en sosialisme. In kort, Suid-Afrika produseer amper niks meer nie (behalwe onverwerkte grondstowwe), maar koop allerhande verwerkte goedere vanaf die wêreldmarkte, veral van Sjina. Alles is te koop, maar teen duur pryse weens ʼn swak Rand, en min daarvan is plaaslik gemaak. Sosialisme ontmoedig produksie deur te veel regulasies en te veel belasting. Boonop word deur regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging en allerhande handveste met ʼn reeks voorskrifte ter wille van transformasie-doelwitte ʼn verdere las op die besigheidsektor geplaas. Om van misdaad nie eens te praat nie.
In Orania word gestreef na lokalisme. Weens ons beperkinge, veral wat die grootte van die ekonomie betref, kan dit in praktyk nog nie orals gedoen word nie, maar dit is ʼn sterk sentiment en daar is bemoedigende pogings om so iets reg te kry. Die Ora speel daarby ʼn belangrike rol, alhoewel ook hier nog ruimte vir verbetering is. Om ʼn besigheid in Orania te begin is redelik maklik en word onderwerp aan die kragte van die vrye mark. Daar is min regulering, registrasie is vinnig en billik en geboue en persele dikwels ook beskikbaar.
“Social engineering” en transformasie vs. natuurlike groei en bymekaarkom
Suid-Afrika is behep met die idee dat gelykheid op elke vlak afgedwing moet word deur middel van handveste en wette. Orals word teikens gestel wat dan bereik moet word, ongeag die menslike en ekonomiese koste daarvan. Die argument vir die gedwonge transformasie is altyd dat apartheid ongelykhede en skeiding geskep het wat nou “reggestel” moet word. Daarby word uitgelaat dat ongelykhede en skeiding, wat deur apartheid wel versterk is, in meeste gevalle natuurlik en onvermydelik is en, as dit reg bestuur word, ook nie tot skadelik hoef te wees nie.
Die so dikwels bepleite “diversiteit” kan jy nie daar kry waar almal kunsmatig gelyk gemaak word nie. Die “diversiteit” wat die staat wil afdwing kom eintlik daarop neer dat swartmense en in ʼn mindere mate vroue (oftewel almal behalwe wit mans) orals prominent verteenwoordig moet wees. Diversiteit kom egter nie deur ras of geslag nie, maar deur agtergrond, vaardighede en belangstellings.
Ten spyte van die ooglopend homogene gemeenskap van Orania, wat as nadeel gesien word deur die meningsvormers, is hier ʼn groot mate van diversiteit wat betref ouderdom, vaardighede, agtergrond, belangstellings ens. Orania is sterk danksy sy diverse gemeenskap wat strek van handlangers tot intellektueles en is daarin beslis meer divers as byvoorbeeld jou gemiddelde universiteit, waar die oorgrootte meerderheid tot dieselfde klas behoort en dieselfde sienings en gewoontes deel.
Almal saam binne kunsmatige grense vs. natuurlike grense deur taal, geloof en volkskap
Suid-Afrika is meer ʼn wêreld in die kleine as ʼn land. Die samebindende krag van taal, kultuur, geskiedenis en godsdiens ontbreek. Daar is geen gesamentlike “stigtingsmite” en geen gesamentlike identiteit nie. Die “oorwinning oor apartheid” werk net as stigtingsmite vir die ANC, maar nie vir die land as geheel nie, omdat dit mense juis verdeel volgens rasselyne en implisiet ook neerkom op ʼn voortgesette stryd wat nooit eindig nie aangesien daar altyd iewers nog “oorblyfsels van apartheid” gevind word. Al wat oorbly as samebindende faktor is ʼn soort verbruikerskultuur, waar mense met sekere Suid-Afrikaanse handelsname en ʼn leefstyl identifiseer.
In Orania kom die bymekaar wat bymekaar wil wees. Niemand word gedwing om hier te wees nie en (weereens ideaal gesproke) is dit ʼn ideaal en nie ekonomiese of veiligheidsoorwegings wat jou laat trek nie (alhoewel dit ook maar ʼn rol speel). Dit is ʼn Afrikaner-gemeenskap met Afrikaner-kultuur, Afrikaans as gesamentlike taal, en die Christelike godsdiens as fondasie. Eie arbeid maak dit uniek, trouens ʼn mens kan sê dat Orania daar eindig waar nie meer volkseie arbeid gebruik word nie.
Wat is die moontlikheid vir 55-jarige enkellopende manlike onderwyser, oud soldaat wat 18 jaar diens in die staandemag, SA Lugmag gehad het homself in Orania te kom hervedtig?
Ek sal inligting oor die proses aan u eposadres stuur.
Klasieke laaste sin: “Eie arbeid maak dit uniek, trouens ʼn mens kan sê dat Orania daar eindig waar nie meer volkseie arbeid gebruik word nie.”
Dit beteken ook dat Orania kan groei soos hy wil, mens moet net die een eenvoudige reel nakom.
Insiggewend en, ek dink, baie waar. Die gevoel wat ek kry is dat daar in die komende dekade of twee groot eise aan die bestuur en organisasie van Orania gestel gaan word om die eienskappe van ‘n gesonde basis, wat hier beskryf is, tot voordeel van gesonde groei in die dorp te laat ontwikkel.
Hi ek wil net vra ek is ‘n Afrikaaner en sal een bly. Ek en my man wil ons kom vestig in Orania. Ons wil as dit moontlik is kom kuier in Orania. Waar kan ons vir ‘n paar dae bly en watter plekkies laat hondjies toe. Ek het twee klein hondjies wat altyd by ons is. Kan julle vir my iets steur oor Oranje.
Goeie dag, besoek gerus ons webblad http://www.orania.co.za en kyk onder “Ontdek Orania” > Verhuising vir die hele proses om in Orania te vestig, en “Toerisme” vir blyplek.
Wat is die roete om te neem as mens wil Oranje toe verhuis. Ons wil vir ‘n paar dae kom vakansie hou en rond kyk in Oranje. Ons soek blyplek vir twee mense en plek vir twee klein hondjies.