fbpx

Voornemende inwoners kla dikwels oor die hoë eiendomspryse in Orania. Hoog is natuurlik relatief, in vergelyking met die groot stede is ons pryse nog steeds matig, maar dit is duur in vergelyking met die dorpe in die omgewing. Dit is nie veel van ʼn troos vir iemand wat sukkel om sy huis in basis enige deel van die land te verkoop nie, omdat die mark al vir jare stagneer, terwyl Orania se mark (alhoewel van ʼn lae basis) al vir jare sterk groei.

Eerder as om nou te verduidelik hoekom dit so is (vraag en aanbod, asook ‘n sekere hoeveelheid opportunistiese verkopers wat meer as die markwaarde vra) moet ʼn mens kyk hoe ons huiseienaarskap meer bekostigbaar kan maak. Daarby moet voorkeur aan die markkragte eerder as aan sosialistiese inmenging gegee word, maar die markkragte moet nog steeds getemper word deur gesubsidieerde behuising vir diegene wat ʼn lae inkomste verdien. Dit word reeds gedoen.

Kom ons kyk egter eers na die markkragte. Die wonderlike daaraan is dat dit na ʼn tyd altyd weer uitbalanseer. Huispryse was vir lank baie laag in Orania weens ʼn stagnerende ekonomie en lae groei in die tydperk 2000-2007, dieselfde tyd waar huispryse in Suid-Afrika as ʼn geheel die hoogte ingeskiet het, ook weens markkragte: ʼn redelik goeie ekonomie, lae rentekoerse, ʼn ontluikende swart middelklas wat in die hoër middelklas woonbuurte inbeweeg het, hoë lone by internasionale maatskappye wat veral met uitvoere gemoeid was, wat alles ʼn effek op alle eiendomspryse gehad het. Orania was daardeur onaangeraak, omdat die dorp lokalisties en nie globalisties dink en funksioneer nie. Soos ons weet het in 2009 Jacob Zuma oorgeneem en die land in ʼn sosialistiese rigting gestuur en internasionaal was die kommoditeits-supersiklus stadig besig om te taan. Swakker omstandighede in Suid-Afrika as geheel het weer daartoe gelei dat Orania as alternatief oorweeg is en dit is inderdaad so dat eiendomspryse sedert om en by 2007/2008 (die outeur praat uit persoonlike waarneming) sterk gestyg het en nog nooit weer afgekom het nie. Die Suid-Afrikaanse huispryse, terloops, het wel gestagneer, maar ook nie weer terug gekeer na die vlakke van die 1990’s nie.

Die enigste remedie vir stygende huispryse weens hoë vraag en beperkte aanbod is om die aanbod te verhoog. Dit kan natuurlik net met ʼn sekere tydelike vertraging geskied, want om nuwe erwe uit te lê en te diens vat ʼn ruk, om huise te bou vat nog langer. In Orania is toe al ʼn paar jaar gelede begin met nuwe projekte vir erwe, sowel intreevlak- asook middelklaserwe. Omdat die koste om erwe te diens ook duurder geword het weens die swak Rand en invoer van feitlik alles, kon die erwe nie teen weggeepryse beskikbaar gestel word nie, maar nog steeds teen billike pryse. Daar was selfs by sekere erwe klousules dat dit nie onbeboud herverkoop mag word nie, maar dit is hoe ver inmenging kan gaan, anders sal jy ontwikkelaars afsit.

Behalwe vir die private ontwikkeling van veral middelklas- en laer middelklaserwe en selfs huise was en is daar ook institusionele ontwikkeling van deels gesubsidieerde huurbehuising soos Soetdoring en Gannabos. Soos wat meer bekostigbare behuising beskikbaar kom, kan meer ambagsmanne gevestig word wat help met die bou van nog huise. Verder geskied ook dit wat eweneens orals gebeur waar ʼn sekere area te duur raak: die omgewing ontwikkel ook. Eiendomspryse in die groter (landelike) Orania het eweneens stewig gestyg en soos wat pryse styg, kyk mense na alternatiewe. Selfs dorpe in die omgewing kan al effens die effek van ʼn groeiende Orania voel.
Soos wat nog eiendomsprojekte, selfs “selfdoen-erwe” sonder dienste in die pyplyn is, sal die aanbod vorentoe nog styg. Tegnologie ontwikkel ook en oor 10 of 20 jaar is dalk ʼn hele nuwe dorp of ten minste woonbuurt slegs met alternatiewe dienste moontlik.

Die huidige skeefgetrekte huismark in Orania is glad nie uniek nie. Selfs ʼn hoogs ontwikkelde land soos Duitsland sukkel met dieselfde probleem. In die tyd waar huispryse in SA hoog was, was dit daar onder druk weens ʼn krimpende bevolking. Die onlangse instroming van immigrante het huispryse in veral stede geweldig onder druk geplaas en almal roep nou na drastiese maatreëls om hoë huispryse te bekamp. Daarby het die politiek self die krisis geskep: kunsmatig is nuwe inwoners in ʼn kwessie van enkele maande ingebring, en aan die ander kant is bouregulasies so verskerp met allerhande verpligtinge oor veiligheid en die omgewing dat dit baie duur geraak het om te bou. Nou eis sekere politici dat die regering moet ingryp en maatskappye en welvarende individue wat huise besit en dit laat leegstaan of nie optimaal verhuur nie, onteien moet word. Die ondervinding het egter gewys dat die staat net ʼn gemors maak waar hy in die ekonomie te veel wil inmeng. Kuba en Venezuela is seker ekstreme voorbeelde, maar selfs in Duitsland het ʼn wetlike demper op huurverhogings net die teendelige effek gehad, naamlik dat ontwikkelaars terugstaan.

Die beste wat Orania dus kan doen is om die beperkinge op ontwikkelaars so min as moontlik te maak, maar om terselfdertyd ook institusionele ontwikkeling, soos deur Orania Beweging, Orania Dorpsraad en ander te bewerkstellig. Met die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan is ook die wetlike raamwerk vir ontwikkeling geskep. Daar moet geen “Wilde Weste” ontwikkeling plaasvind waar elke ou bou waar en soos hy wil nie, maar ook geen oorregulasie nie wat die aanbod kunsmatig beperk nie.