Orania CVO-skool se uitslae oortref ander Noord-Kaap skole

Orania CVO-skool is gemeet teen data van die Skoleondersteuningsentrum oor openbare skole, en is daarvolgens die top akademiese skool in die Noord-Kaap. Volgens hierdie data, het Orania CVO-skool se 2024 matrieks meer onderskeidings per leerling as enige ander staatskool in die Noord-Kaap behaal.
Die top drie Afrikaanse openbare skole in die Noord-Kaap het onderskeidelik gemiddelde van 1.18, 0.81 en 0.79 onderskeidings (A-simbole) per matrikulant ontvang. Orania CVO-skool, ʼn privaatskool, het aansienlik beter presteer met ʼn gemiddeld van 1.3 onderskeidings per matrikulant.
Matrikulante van Orania CVO-skool skryf jaarliks die matriekeksamen van die Onafhanklike Onderwysraad (IEB). Die IEB-eksamen is bekend onder Suid-Afrika se top privaatskole aangesien dit ʼn eksamen van ʼn besondere hoë standaard is.
In ʼn plasing op sosiale media noem Orania CVO-skool dat dit moeiliker is om ʼn A-simbool in die IEB-eksamen te verwerf as wat dit is om een in die staatseksamen te verwerf.
“Ons het dus ekstra rede om trots op ons matrikulante van 2024 te wees!” lui dié plasing.
Buiten vir die akademiese prestasie in die Noord-Kaap, spog Orania CVO-skool ook met die vierde meeste A-simbole per leerling van alle Afrikaanse skole landswyd met minder as 50 matrikulante. ʼn 100% slaagsyfer word by Orania CVO-skool al sedert die skool se ontstaan in 1993 gehandhaaf. Die matrieks van 2024 sluit hul skoolloopbaan af met ʼn klasgemiddeld van 68,71%.
Die gemeenskap van Orania is trots wanneer ons instellings presteer. Ons oorleef nie in Orania nie, ons floreer!
