Deur Johan van der Merwe
Ons stap deur die begraafplaas, tussen pioniers wat uiteindelik huller rus in vrede gevind het hier in Orania. Ons luister aandagtig na die verhaal van ‘n droom wat besig is om uit sy nate te bars. Die besonderse gebou in die middel van die begraafplaas trek my aandag en ek vra vir Joost uit daaroor.
“In Orania is daar drie opsies by afsterwe… Gewone begrafnis, verassing en mummifisering…”
Die fynste van glimlaggies trek in sy mondhoek… Joost jou bliksem! Jy het my uitgevang! Vir ‘n sekonde of meer het die idee van ou lyke, gebalsem en toegedraai in die Noord-Kaap son deur my brein geflits.
Die aand om die vuur dink ek weer daaraan. Hoekom sou ek vir daardie sekonde reken dat dit die waarheid kan wees? Is dit omdat al die ander persepsies wat ek gehad het so vinnig verander het toe ek sien wat regtig in Orania gebeur? Is dit die stigma van Orania, die misterie waarin dit toegedraai is soos ‘n mummie, wat gelei het daartoe dat ek dit as waarheid oorweeg het?
Baie mense sien Orania as ‘n mummie. ‘n Ou lyk wat eens ‘n volk was, dood en verdroog, toegedraai in die linne van misplaaste hoop, nasionalistiese hardkoppigheid… ‘n Poging om iets wat eens magtig was te bewaar vir die toekoms, hopende dat dit sal herrys.
Tog, as jy deur die strate ry en jong manne sien bou aan moderne geboue, jong meisies sien entrepreneurs word om ‘n besigheid op te bou dan kry jy die gevoel van groei… van nuwe lewe. Orania probeer jou nie oortuig hulle is reg nie, hulle is te besig om te bou aan wat reg is vir hulle. Hulle is nie besig om ‘n mummie weer aan die lewe te kry nie, maar eerder besig om ‘n nuwe baba te voed, ‘n baba met ‘n toekoms…
Die besef daal op my dat ek die mummie is in Orania. Dit is ek wat nog vasklou aan ‘n idee wat al meer uitdroog… dit is ek wat gebalsem is met vrees. Vrees dat dit nie gaan werk nie, dat alles in duie gaan stort, dat daar probleme gaan wees wat nie oorkom kan word nie… Dit is ek wat nog toegedraai is in lang lappe van verskonings omdat ek nog te gemaklik is in ‘n land waar mense wat kos probeer maak, wreed vermoor word… dit is ek wat nog vasklou aan die lappe om my dat ‘n land wat mense op kleur van hulle vel uit die ekonomie en bestuur stoot, ‘n toekoms het. Dit is ek wat wag dat daar “iets” moet gebeur dat hierdie mummie moet herleef en dan “sal dinge beter gaan…”
Joost… my maat… ek skuld jou een!
Uitstekend gestel. Sien vandag die nuutste grondgebruik aansoeke en die eerste gedagte was: Ons dorp is besig met die uitvoering van baie en groot planne 🙂
Wens net meer mense het die moeite gedoen om self te kom kyk en nie hulle ore uitgeleen aan die pers nie!