Nederlandse studente besoek Orania skool

Studente van ʼn Nederlandse opvoedkundige instelling het op 19 Februarie in Orania opgedaag om Volkskool Orania te kom besoek. Dié studente is almal onderwys studente en besoek verskeie skole in Suid-Afrika om ʼn wyer perspektief rakende onderwysmodelle te kry.

Volkskool Orania het ʼn unieke “selfleer” onderwysmodel wat vir kinders, tesame met hul normale skoolwerk, ʼn les in tydsbestuur en verantwoordelikheid leer. Volgens die skoolhoof, Carel Boshoff, is Volkskool ʼn fisiese uitlewing van baie teoretiese selfleer-modelle wat deurlopend ondersoek en bestudeer word. Leerlinge by Volkskool Orania kry die geleentheid om selfgedrewe onderwys aktief te beoefen – dit wil sê om op eie tempo binne ʼn gestruktureerde raamwerk hul skoolwerk te voltooi. Onderwysers dien as mentors wat rigting gee en ondersteuning bied, eerder as om slegs lesse aan te bied.

“Die akademiese belangstelling van Nederlandse onderwysstudente sonder enige politieke affiliasie, bevestig dat Volkskool Orania se teorie en praktyk op die voorpunt van selfgerigte leer staan,” sê Anje Boshoff, akademiese hoof. “Hierdie model sluit aan by Orania se filosofie van selfwerksaamheid en gee jong Afrikaners die geleentheid om nie net akademiese vaardighede nie, maar ook lewensvaardighede te ontwikkel.”

Geïnteresseerd in hierdie onderwysmodel, het ʼn tersiêre instelling uit Gouda, Nederland, ʼn toer na onder andere Orania onderneem om meer daarvan te leer. Die toergroep is met koffie en koeksisters na hul lang busrit ontvang. Die 17 besoekers het met onderwysers en leerlinge gesels oor hul ervaring van Volkskool se model en van die meer tegniese vrae is behandel. Hier en daar is bietjie Engels en bietjie vertolking nodig gewees, maar oor die algemeen kon Nederlander en Afrikaner mekaar goed verstaan. Buiten vir die tale, is daar ook ʼn ooreenstemming in geloof opgemerk.

“Ons is die laaste oorblywende Christelike opvoedkundige instelling in Nederland,” vertel Corné, een van die toerleiers.

Orania is gereeld gasheer vir buitelandse besoekers en inwoners is gewoond daaraan om toeriste en navorsers vriendelik en gasvry te ontvang. Besoekers aan Orania bied vir ons die geleentheid om ons verhaal te vertel, ons idees te deel en ook om meer van ander te leer.

 

Foto: Die groep Nederlanders word met ‘n klein middagete en koeksisters ontvang.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel