deur Du Preez de Villiers
Die histerie rondom die Koronavirus mag dalk vir ons ietwat oordrewe wees, maar wat soos ‘n paal bo water staan is die reuse, ekonomiese ontwrigting wat dit tans op die ganse wêreld het. En dit het skielik en onverwags gebeur en die gevolge kring steeds uit. Sommige Sjinese fabrieke se uitset het verlede maand tot so laag as 60% gedaal en ontleders reken dat die skade weens die agterstand blywend gaan wees. Mens wonder hoeveel Sjinese gebruiksartikels binnekort nie op ons winkelrakke te siene gaan wees nie – daar is nie veel wat nie in Sjina gemaak word nie…
‘n Wêreldwye voorsieningsnetwerk is uiters ingewikkeld en sensitief en Afrikaners moet ‘n belangrike les hieruit leer. Boonop wankel Suid-Afrika se ekonomie oor die afgrond en die land se voorsieningskettings is reeds besig om stadig maar seker te verklein en te verdwyn soos die ekonomie krimp. Ons splinternuwe resessie gaan sake ook nie makliker maak nie
Dit is dus vanselfsprekend dat ons al hoe meer op onsself aangewese gaan word om noodsaaklike produkte te voorsien. Boonop is ‘n Westerling gevorderd en het ‘n magdom dienste en hulpbronne nodig om sy lewensstandaard te handhaaf. Afrikaners het nie meer ‘n ander keuse as om bymekaar te kom om selfstandig en selfonderhoudend te word nie. Orania kan dus ook nie meer bekostig om langer ‘n pioniersgemeenskap te bly nie. Gelukkig is ons nuutskeppend en kan nog planne maak as daar nie meer ‘n skroewedraaier of kitaarsnare op die winkelrakke is nie. Maar ons sal baie vinnig aan die werk moet spring om ons eie, omvattende voorsieningsnetwerk vir ‘n uiterse noodsaaklikheid te bou – voedsel.
Orania is gelukkig in een van die gunstigste landboustreke in Suid-Afrika geleë. Die hoë opbrengste wat die spilpuntboere aan weerskante van die dorp al met die rivier langs kry, getuig daarvan. Die dorre klimaat in hierdie halfwoestyn verhoed dat plant- en dieresiektes maklik versprei en verskaf meer as genoeg hitte-eenhede vir plante om optimaal te fotosinteer. Die bestendige water wat die boere uit die Oranje trek is ook baie voordelig. Dit is inderwaarheid beter as reënwater waarop boere elders moet staatmaak, want reën word al hoe meer onvoorspelbaar en kan droogtes of vloede veroorsaak.
Ons sal egter radikaal anders moet dink as ons vir onsself kos wil voorsien. Ons is Westerlinge en ons diete lyk anders as die gemiddelde Suid-Afrikaner s’n. Ons maak meer op groente en koring, en minder op mielies as ‘n stapelvoedsel staat. Rondom die stad Orania sal daar dus minder mielies geproduseer moet word en dit sal hoofsaaklik vir veevoer gebruik word, want ons diereproteïenbehoeftes is ook baie hoër as die res van Suid-Afrika s’n.
‘n Gesonde Arikaner kan nie sonder rooivleis, melk, hoender en vis oorleef nie. Groente en vrugte is net so belangrik as ons nie skeurbuik wil kry nie en wanneer ons regtig soos ander Westerlinge wil leef sal meer nisprodukte soos kruie, ‘n wye verskeidenheid neute en ander eksotiese groente en vrugte verbou moet word.
Oraniërs se ander tydelike uitdaging is afset. Die huidige inwonertal is nie genoeg om ‘n volwaardige boerdery te onderhou nie en die kuns gaan wees om die onbekende, omliggende markte wat wyd geleë is te voorsien. Maar met ‘n 11% groei in inwonertal sal dit ‘n kleinerwordende probleem wees.
Landbou word al hoe meer nuwerwets en die hedendaagse tegnologie is verstommend. Boere spandeer al hoe meer tyd voor hulle rekenaars as in die lande, want met data-, sensor-, hommel- en kamerategnologie kan hy nou sy gewasse beter vanuit sy kantoor of vanaf sy slimfoon moniteer as wanneer hy self daar deurstap. Dit het ook die deur oopgemaak vir winsgewende boerderye op kleiner oppervlaktes. Voerkrale, visplase en vertikale groenteproduksie is intensief en tegnies en ‘n baie opwindende uitdaging vir mense wat ‘n tekort aan arbeid het en eerder met robotte en kunsmatige intelligensie wil werk. Die ontwikkelings in onderdaklandbou bied ook ‘n uitstekende oplossing vir gewasse wat sensitief vir die Karooson se strale is.
Die primêre landboubedryf kan nie sonder sekondêre dienste bestaan nie. Dit skep ook ‘n magdom geleenthede. Boere het gereedskap, verpakkingsmateriaal, onderdele, kunsmis en baie ander produkte en artikels nodig om te kan boer. Die sekondêre verwerkingsbedryf soos meulenaars, voer- en voedelverwerkingsfabrieke en natuurlik ons bierbrouers en wynmakers is ook van kardinale belang. Die tersiêre landboubedryf sal ook kort op hulle hakke volg. Konsultante, kommoditeitshandelaars, bedryfsorganisasies, navorsingstasies en ‘n landbou-kollege voltooi die voedselwaardeketting.
Ons moet onthou dat Orania nooit ‘n eiland sal wees nie en dat daar altyd produkte van buite af ingevoer sal moet word. Selfs tydens die sanksiejare moes ons sekere produkte in die geheim invoer, maar soos goeie Afrikaners betaam, kon Suid-Afrika nog lank vasbyt met dit wat ons plaaslik kon vervaardig. Die kruks is net dat ons in ‘n ontwrigtende krisis, en terwyl vyandige elemente in ons nabyheid is, vir onsself moet kan sorg. Die kersie op die koek is natuurlik dat ‘n onstabiele Suid-Afrika mettertyd ‘n reuse afset vir ons oorskot landbouprodukte sal word.
Israel het reeds deur die meeste van bogenoemde oefeninge gegaan in hulle poging om hulle woestynagtige streek bewoonbaar te maak. Vandag is hulle wêreldleiers in dripbesproeiingstegnologie en spog met 190 000 hektaar se gewasse onder besproeiing. Dit laat hulle toe om 95% van hulle landbouprodukte self te verbou. Dit sal baie wys vir Oraniërs wees om by hierdie merkwaardige mense te gaan kers opsteek.
Ons het reeds heelwat boere en voedselverwandte nywerhede in ons midde, maar die behoeftes word vinnig meer. Dus, vir enige stads- of dorpsjapie wat ooit gedroom het om te boer bied Orania uitstekende geleenthede. Orania se eie OSK-bank, die Sakekamer en ander instellings staan ook gereed om enige persoon met ‘n deeglike sakeplan met raad en daad by te staan.
Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie
Briljant.
Sonder ons eie soortige voedsel produksie dal vryheid net ‘n droom bly.
Briljant, gestel.
Sonder ons eie soortige voedsel produksie dal vryheid net ‘n droom bly.