fbpx

Deur Carel Boshoff

Inleiding:

Orania is nie net ’n dorp nie. Orania is nie eers net ’n dorp met ’n verskil nie, Orania is deel van ’n groter beweging. As ons dus van die Orania beweging praat, dan praat ons in die eerste plek van ’n hele klomp mense en instellings wat saam en in dieselfde rigting beweeg. In die tweede plek is daar ook die Orania Beweging (met ’n hoofletter) – ’n vereniging met lede en kantore en projekte wat juis die rigting waarin ons almal beweeg, bepaal.

Die eerste vraag wat natuurlik nou by mens kan opkom, is wat dié rigting is en waar dit vandaan kom. Daarop is ’n kort antwoord en ’n lang antwoord te gee. Die kort antwoord is: ons beweeg in die rigting van vryheid en dit kom uit ons geskiedenis, ons is ’n vryheidsliewende volk. Ons was nog nooit ’n volk van slawe nie en ek kan my nie indink dat ons nou een gaan word nie, maar daarop brei ons verder uit.

Ons kan dus sê dat daar eerstens Orania die plek is, ’n dorp wat besig is om ’n klein stad te word; tweedens is daar die Orania B/beweging en derdens die Oraniagedagte wat aan ons hele beweging rigting gee. Vervolgens wil ek bietjie uitbrei op die volgende vrae: Waar kom die gedagte vandaan? Hoe pas ons dit toe? En hoe gaan ons van hier af vorentoe?

  1. Waar kom die Orania-gedagte vandaan?

Om te sê die Orania-gedagte kom uit die geskiedenis, is natuurlik ’n oorvereenvoudiging. Die geskiedenis lewer nie outomaties ideale en mense om dit na te streef op nie. Al is dit belangrik om te sê dat ons volk ’n lang geskiedenis van vryheid, óf as werklikheid, óf as strewe het, wil ek op ’n heel spesifieke stuk geskiedenis en op ons voorgangers se bydrae daartoe fokus.

Hierdie geskiedenis begin in 1948, nie omdat die destydse Nasionale Party daardie jaar die verkiesing onverwags gewen het en ’n nuwe sosiale orde gevestig het nie, maar omdat daar uit dieselfde Afrikanergeledere ’n navorsingsorganisasie gestig is, die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede. Mense van my ouderdom kon op skool nog die afkorting SABRA in ’n taalkunde vraestel gekry het.

SABRA is gestig omdat daar toe al ’n besef is dat Suid-Afrika nie vir altyd deur ’n minderheid blankes geregeer kan word nie en dat Afrikaners se vryheid op ’n ander manier verseker sal moet word. Hy het ’n groot bydrae gelewer tot die beleid van onafhanklike swart tuislande wat van Suid-Afrika ’n gemenebes van volkstate, vergelykbaar met Europa in dié tyd, sou omskep. ’n Volkstaat is natuurlik ’n staat waarvan die bevolking vir die grootste deel uit een volk met dieselfde taal, kultuur en geskiedenis bestaan. Ekonomiese integrasie het egter daarteen gewerk en teen 1970 het die destydse voorsitter, prof Gerrit Viljoen, in die taal van die tyd gesê dat as die tuislande vir swartmense nie uitwerk nie, daar na ’n tuisland vir die blankes gekyk sal moet word.

Hoewel Afsonderlike ontwikkeling nog vir jare regeringsbeleid gebly het, is daar min vordering mee gemaak en het SABRA in 1979 (met prof Carel Boshoff as Voorsitter en dr Chris Jooste as Direkteur) die inisiatief geneem om die Vereniging van Oranjewerkers te stig. Ds Hendrik Verwoerd sou die leiding daarmee neem en die doel was om groeipunte te vestig waar selfwerksaamheid beoefen word sodat Afrikaners ’n onbetwisbare eie gebied kon ontwikkel. Verskeie projekte is van stapel gestuur, maar die eise wat selfwerksaamheid gestel het, was vir die meeste mense eenvoudig te hoog en op die vraag waar die toekomstige Afrikanerland sou wees, kon geen ooreenkoms bereik word nie.

Intussen het die NP-regering nie net voortgegaan met hervormings wat op ’n eenheidstaat onder swart beheer afgestuur het nie, die party het ook al die Afrikanerkultuurorganisasies in ’n ystergreep gekry en ondersteuning van sy beleid afgedwing. Die gevolg was ’n hewige stryd onder Afrikaners en die behoefte aan ’n oorkoepelende, konserwatiewe kultuurorganisasie het ontstaan. Prof Boshoff, wat kort tevore as voorsitter van die Afrikanerbroederbond moes bedank, het in 1984 die leiding geneem om Die Afrikanervolkswag te stig. Meer as 10 000 mense het aan die stigtingsvergadering in die Skilpadsaal in Pretoria deelgeneem en sowat 7500 gesinne het by die organisasie aangesluit. Die Volkswag het dan ook in 1988 die reuse herdenking van die Groot Trek, waarvan die Geloftedagprogram op Donkerhoek buite Pretoria deur naastenby 100 000 mense bygewoon is, gereël. Die tema van die drie jaarlange herdenking was dan ook Op trek na ons eie!

Hoewel hierdie hele beweging dus onmiskenbaar sterk was, het die meeste ondersteuners van ’n eie gebied geglo dat “die volkstaat moet wees waar ons mense is”, maar die werklikheid was dat dít juis was waar al die ander mense ook gekonsentreer was omdat hulle deel van een ekonomie uitgemaak het. Die enigste alternatief was om ’n betreklike leë gebied te beset en met volkseie arbeid te ontwikkel, maar dit het min byval gevind. Die Oranjewerkers het gevolglik op die duur nie hond haaraf gemaak nie, met die gevolg dat prof Boshoff en dr Jooste teen 1988 die Afrikanervryheidstigting (AVSTIG) opgerig het om spesifiek op ’n volkstaat in die yl bevolkte Noordwes-Kaap te fokus. AVSTIG het as ’n navorsingsinstelling met sowat 16 gerespekteerde medewerkers gefunksioneer.

AVSTIG het sy kaart bekendgemaak en hoewel daar waardering vir die eerlikheid van ons destydse poging was, het die media dit verkleineer en het die meeste Afrikaners dit as beide onmoontlik én onnodig beskou. Dit het die pioniers egter nie gestuit nie en toe die uitgediende Waterwesedorp, Orania, op tender aangebied is, het lede van AVSTIG en die Volkswag ’n maatskappy, Orania Bestuursdienste (OBD) opgerig, aandele verkoop om kapitaal in die hande te kry en die dorp aangekoop. Die groot toets het voorgelê: om ’n volhoubare gemeenskap, gebou op eie arbeid en met eie instellings te vestig.

  1. Hoe pas ons die Orania-gedagte toe?

Orania se vestigingsgeskiedenis, veral in die pioniersjare, sal in die toekoms nog ’n boeiende studieveld uitmaak. Hier hoef net verwys te word na die ooglopende uitdagings vir mense wat hulle op ’n onbewoonde en verwaarloosde dorp vestig, sonder geriewe of winkels, sonder hulp of arbeid, maar mét elkeen se vaste idees oor hoe dinge gedoen behoort te word! Die basiese infrastruktuur was wel hier en kon herstel word, water kon uit die rivier gepomp en gesuiwer word, die Eskom-aansluiting kon hernu word en strate kon herstel word. Vir hulle huise het inwoners natuurlik self verantwoordelikheid geneem.

Een van die eerste uitdagings was om eienaarskap van huise en basiese, munisipale dienste te struktureer. Daarvoor het OBD ’n Aandeleblokskema geregistreer en in ’n aparte maatskappy Vluytjeskraal Aandeleblok Bpk (VAB) geplaas. Sedertdien neem eienaarskap van huise, hoewes en geboue in die grootste deel van Orania die vorm van ’n afgebakende aandeel met ’n aandelesertifikaat aan. Nuwe ontwikkelings het om verskillende redes ook nuwe vorme aangeneem, maar die benadering is deurgaans om ’n eie grondregime te vestig. VAB moes, onder leiding van sy eie direksie, spoedig ’n dorpsbestuurder, sekretaresse en tegniese personeel aanstel en dit het in die volksmond as die Dorpsraad bekend geraak. Streng gesproke sou mens eerder na VAB se direksie as Dorpsraad verwys en na die administrasie as Dorpskantoor. Die formidabele dorpsadministrasie wat ons vandag ken, het daar sy beskeie ontstaan gehad.

Die gemeenskap het aanvanklik maar met tientalle gegroei en stadig tot ’n paar honderd gevorder, maar daarmee is ’n onbetwisbare werklikheid gevestig. By die onderhandeling vir Suid-Afrika se nuwe grondwet, was selfbeskikking en ’n volkstaat ter sprake, onder andere deur die instelling van ’n Volkstaatraad. Orania het spesiale aandag geniet en toe ’n oorgangsbedeling vir munisipale regerings landswyd van stapel gestuur is, het Orania ook sy eie Verteenwoordigende Raad gekry. Dié het sy praktiese bevoegdhede na die Dorpsraad gedelegeer, maar die instelling daarvan was ’n belangrike vorm van erkenning en het aan selfbeskikking formele beslag begin gee.

Omdat die hoop op ’n groot volkstaat nog hoog gebrand het, is hierdie klein verwikkeling byna misgekyk, maar mettertyd het dit uiters belangrik geblyk te wees. Hier was in die kiem al vier elemente van ’n staat alreeds teenwoordig: ’n geordende bevolking, ’n omlynde gebied, ’n wettige owerheid en staatkundige erkenning, al sy dit nog op die laagste vlak. Orania was dus besig om nie net oor vryheid te praat nie, maar om dit te lééf.

’n Groot uitdaging op hierdie terrein het egter voor die deur gelê: die afbakening van nuwe munisipaliteite om aan die ANC se beleid van “kant tot wal”-plaaslike owerhede beslag te gee. Dorpe is saam gegroepeer met die verwagting dat groter gebiede met meer mense beter dienslewering sou verseker. Die Munisipale Afbakeningsraad het voorgestel dat Orania saam met Hopetown en Strydenburg in ’n enkele munisipaliteit saamgevoeg sou word met die gevolg dat Orania se eie Oorgangsraad ontbind sou word. Daarteen het ons ons heftig verset en op die betrokke bepalings in die Suid-Afrikaanse grondwet beroep, in besonder op Artikel 235 wat bepaal dat:

Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking, soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.

Die Afbakeningsraad het eenvoudig aangevoer dat Artikel 235 nie in hulle opdrag genoem word nie en dat hulle nie hulle afbakening van Orania aan die hand daarvan kan verander nie. Hulle aanbeveling was dat ons politieke eerder as administratiewe weë moes volg, waarop Orania hom op die nasionale en provinsiale ANC-regering, met wie die ooreenkomste oor selfbeskikking bereik is, beroep het. Dit was egter onsuksesvol en alle moontlike alternatiewe is ondersoek. Daaruit het ’n tegniese punt, wat oënskynlik op ’n oorsig berus het, na vore gekom. Daar is naamlik nie aan die vereiste voldoen om die Orania Verteenwoordigende Oorgangsraad saam met ander Oorgangsrade wat moes ontbind, in die Noord-Kaapse Provinsiale Koerant te publiseer nie. By navraag het dit geblyk dat dit nie net ’n oorsig was nie, maar dat die betrokke amptenare “vir uitsluitsel oor Orania se status” gewag het.

Op sterkte daarvan het Orania hom op die laaste nippertjie tot die Hooggeregshof gewend, waar die regter die partye aangeraai het om ’n vergelyk te kry sodat die verkiesings landswyd nie deur ’n verhoor vertraag hoef te word nie. Dit sou natuurlik verreikende finansiële en politieke implikasies hê en het ons posisie aansienlik versterk. Die uitkoms was dat ’n ooreenkoms tussen Orania en die regering bereik is ingevolge waarvan Orania se Raad behoue gebly het terwyl die verkiesings elders voortgegaan het. Die ooreenkoms is ’n Bevel van die Hof gemaak.

Intussen het Orania ook reggemaak vir sy eie verkiesing en is die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) as opvolger van die Oorgangsraad verkies. Sy verteenwoordigers het dan ook verdere stappe geneem en met die regering op nasionale en provinsiale vlak onderhandel terwyl ons eenvoudig voortgegaan het om ons eie dienste te lewer en uit te brei. Teen 2009 het die OVR, wat steeds sy diensleweringsfunksie aan die Dorpsraad gedelegeer het, formeel bevestig dat die oorsprong van sy gesag nie tot die destydse hofbevel beperk is nie, maar op ’n gemeenregtelike wyse aan die gemeenskap se verbintenis tot sy instelling en deelname daaraan ontleen. Die OVR is dan ook sedert 2000 elke vier jaar, tegelyk met Suid-Afrika se Munisipale Rade, verkies.

Waar verkiesings binne maatskappyverband, soos vir VAB se direksie, normaalweg tot aandeelhouers en op ’n pro rata grondslag plaasvind, word die OVR in ope verkiesing deur alle inwoners met permanente verblyfreg verkies, ongeag of hulle eienaars of huurders van eiendom is.

Welwetende dat dit nog op ’n baie beperkte vlak is en dat daar nog ’n lang pad voorlê om volle vryheid te verwerf, kan ons met goeie reg nou al sê: Vryheid in ons tyd!

  1. Van hier af vorentoe

Orania is ’n werklikheid wat gekenmerk word deur groei, goeie orde en sukses. Waar talle Afrikaners vir jare lank geglo het dat selfbeskikking in ’n eie gebied onnodig én onmoontlik is, bewys die verval van Suid-Afrika nou onteenseglik dat dit nodig is en bewys Orania se sukses dat dit moontlik is. Die beweging na onteiening sonder vergoeding en die gepaardgaande verbreking van die 1994-skikking, saam met verslegtende verhoudings en spanning tussen Suid-Afrikaners en diskriminasie teen witmense, toon verder dat dit ’n saak van dringendheid is om ’n Afrikanergebied te hê wat deur onsself bewoon, bewerk en beveilig word.

Die vraag ontstaan of Orania hoegenaamd groot genoeg is om aan die behoefte te voldoen – selfs die beplande stad waarheen ons besig is om te ontwikkel. Prakties is dit duidelik dat ons net met die middele tot ons beskikking kan werk, daarom kan ons nie meer doen of vinniger vorder as wat ons inwoners en ondersteuners moontlik maak nie. Om die waarheid te sê, in enige normale terme groei ons buitengewoon vinnig en het ons baie om voor dankbaar te wees. Ook die stabiliteit waarmee dit tot dusver gepaard gaan, dra by tot die sukses. Maar dit is in normale terme en ons weet dat buitengewone omstandighede besig is om vorm aan te neem en dat ons toenemend aan abnormale eise sal moet voldoen.

Met die oog op selfbeskikking kan ’n probleem soms ’n geleentheid wees en Orania moet homself nie die kans misgun om vloeibare omstandighede tot voordeel van sy strewe te benut nie. Selfs ’n betreklike klein getal mense wat gekonsentreerd is en saam optree kan ’n groter verskil maak as wat mens soms verwag – Orania bewys dit reeds. Daarom plaas ons die meeste klem op Orania se uitbreiding en groei en ons verwag dat ons vermoë saam met ons bevolking sal groei en groter politieke doelwitte binne bereik kan bring. Dit neem egter nie weg nie dat ons, naas ’n stadsperspektief, ook ’n streeksperspektief moet hê. Ons moet gereed wees vir onverwagse moontlikhede in buurdorpe of selfs aan die Weskus; ons moet politieke vriende maak eerder as vyande sonder om ons strewe te verwater; ons moet aanpasbaar wees by omstandighede wat onverwagse probleme én geleenthede kan oplewer en geen geleentheid in die rigting van ons vryheidstrewe onbenut laat verbygaan nie.

Dit is natuurlik nie ’n staat se grootte as sodanig wat sy sukses bepaal nie, maar sy mense. Die enigste werklike vereiste is dat hy genoeg plek vir sy mense en hulle behoeftes en vermoëns sal hê. Soos die Voortrekkers nie geweet het hoe hulle toekomstige vryheid sou lyk toe hulle die Kaapse Oosgrens verlaat het nie, weet ons ook nog nie hoe ons vryheid gaan lyk wanneer ons dit weer herwin nie. Ons weet egter waarna ons streef en verstaan dat die werklikheid die wetlikheid voorafgaan. In ’n demokrasie is dit die meerderheid wat besluit hoe sake ingerig word. Daarom dat ons nie in een stelsel saam met ’n vreemde meerderheid kan floreer nie en dat ons nie op vreemde arbeid kan staatmaak om ons toekoms te bou nie.

Eintlik is dit baie eenvoudig: vestig die werklikheid en verwerf dan erkenning vir iets wat niemand kan ontken nie. Daarom is elke boom wat ons plant ’n tree op die pad van vryheid.