fbpx

… hoor ek die geldige verskoning. Met ‘n magdom skuld is dit nie maklik om te verhuis na ‘n nuwe begin toe nie, dit geld sekerlik vir Perth, Vancouver, Hamilton en Orania. Vir die tipiese middelklasmens is verskuiwing na Orania dalk, van al die mense, die moeilikste. Die jongman met min verantwoordelikhede en sy sak op sy skouer skuif maklik, en pas maklik ook aan, maar beweeg soms net so maklik weer agter ander weivelde aan. Die welaf Afrikaner skuif ook makliker, omdat die kapitale basis waarvandaan hy kan vestig sterk genoeg is om die verskuiwing te kan buffer. Dit is egter die middelklas Afrikaner, die een met ‘n lening, ‘n oortrokke rekening, ‘n verband, ‘n tweede verband en ‘n voertuig op die bank se naam, wat die skuif die moeilikste kan maak. Ek waag dat Desember maar vir meeste middelklasmense ‘n lang maand is, mense wat eers teen einde Januarie weer iets in die bank inkry. Vir diegene is dit meermale die geval dat die salarisse, wat met hard-verdiende spesialisarbeid en sweet verdien word, maar net só aan die einde van die maand aan die onderskeie skuld-eisers elektronies oor betaal word. “Dit is maar die koste van die leefstyl.” Dan is daar al die versekeringe, sekerheidstelsels, mediesefondse en polisse wat elk ook sy pond vleis in die vorm van rande opeis.

My vroulief, Lianda, het die oulike gesegde, dat mens vir geld ook betaal. Mens betaal vir geld, mens betaal met jou tyd, jou arbeid, jou vernuf, dit is immers ‘n gegewe, want die arbeider is sy loon werd. Soms betaal mens egter met ander dinge ook vir hierdie geld. Mens betaal met jou veiligheid, met jou gemoedsrus, met jou gesinslewe, met jou gesondheid. Mens betaal vir geld deur ure en ure in die verkeer die sleurstroom van die lewe te trotseer. En dan verslaaf ons onsself aan die maandelikse elektroniese skuldeiser, wat die spanning van die leefstyl net verhoog en vergroot.

“Mens kan mos met veel minder oor die weg kom…” Probeer ek een van my professionele vriende oorreed. Maar dit voel vir hom na verlies. Ek probeer ‘n ander hoek. “Frans,” my negejarige seun… “het Saterdag alleen winkel toe gestap om koeldrank en brood te gaan koop, sommer met my beursie. Gereeld gaan hy en Layla sommer self swembad toe. Ek sien die kinders daagliks op fietse… skaatsplanke in die strate.” “Mens stap soms sommer in die aand van die kuierplek af huis toe… selfs meisies.” “My huis, het nie ‘n sleutel nie, kan nie sluit nie… en die deure bly sommer oop as ek met vakansie gaan, vir die hondjies.” Die veiligheidshoek werk, want ek sien hy begin somme maak. “Verder, en weet jy, dit is nogal belangrik… ons is Afrikaans, Afrikaners. Mens is heeldag tussen jou mense, miskien is dit een van die welkome redes vir die veiligheid, want Orania is ons mense.” “Hoe lank sal jy beplan om te emigreer? ‘n jaar? dalk twee?” “As jy nou daardie tyd en energie spandeer om te konsolideer, skuld af te los, te spaar en aan geleenthede binne Orania te werk, sal dit nie vir jou die moeite werd wees nie?” “Maar dan gaan ek dalk maar liewers Perth toe…” Ek slaan my oë op na die berge…

“Nou goed, as mens die geleentheid het om te emigreer, en dit realiseer so, is dit sekerlik ‘n moontlikheid, maar, en dit is ‘n groot maar, jy los jou mense hier, en jy gaan, jy of jou kinders en hul kinders gaan, assimileer en nie meer Boere wees nie. Ongeag jou goeie bedoelinge en wense, is die normale verloop van emigrasie, een van identiteitsprysgawe, ter wille van die nuwe en die andere. As jy heel gemaklik daarmee is, dan is dit sekerlik nou maar so, maar as jy wil meewerk aan die Boer-mense se oorlewing as volk, dan gaan jy hier moet kan bly.”

“Wat van die ankerdorpe?” “Ek dink die Afrikaner trek agter ekonomie aan, en die arbeid trek saam. Mens gaan dalk meer gekonsentreerd wees, maar ‘n gekonsentreerde minderheid, is steeds dít, ‘n minderheid en jy gaan moet veg vir elke stukkie kulturele ruimte, en jy gaan, ongelukkig, elke dag daardie ruimte, stukkie vir stukkie moet prysgee.”

“Nou wat sê jy, dat ons Orania toe moet trek?” Ek dink so oomblik aan ‘n diplomatieke antwoord, en sê uiteindelik doodeenvoudig: “Ja”

“Ja, julle moet Orania toe trek.”

Vir vele van ons was die skuif nie ‘n maklike een nie, maar ek sal geen oomblik anders besluit nie. Dit is die regte ding, dit is die lekker ding, dit is die gesonde ding, dit is die Boere ding. Trek is in ons gene, en trek, onder die vreemde vlag uit, trek sal ons weer moet, en díé keer moet ons trek, Orania toe.

“Maar hoe?”

Miskien ‘n twee-jaar plan, waaraan jy vandag kan begin werk. “Weet jy, doen dit, beplan daarvoor, werk daarvoor, kom kuier, kom soek geleenthede en die deure sal oopgaan. Waar daar ‘n wil is, is ‘n weg, en die weg na Orania, alhoewel nie altyd maklik nie, is meer as die moeite werd… want Orania is ons toekoms.”

Pieter Krige