fbpx

Deur Victor Correia

Het jy al daaraan gedink om na Orania toe te trek? Dalk is jy van die vele Afrikaners wat toenemend ontuis voel in Suid-Afrika, eintlik nie wil emigreer nie, maar kort voor lank besef dat jy nie kan bekostig om die skuif aan te pak nie? Wel, dalk moet jy hierdie som weer gaan maak, want as ʼn mens wil trek, kan jy nie ʼn blote finansiële som maak nie. Dit is ook belangrik, maar is nie al wat jy in ag moet neem nie.

Diegene wat Orania toe wil trek word dikwels met ʼn indringende vraag gekonfronteer, naamlik hoe sal ek met minder dinge oor die weg kan kom? Gesien in die lig daarvan dat Orania ʼn ontwikkelende dorp is, kan mense in baie gevalle nie noodwendig vir ʼn soortgelyke salaris na Orania skuif nie. Dit kan dalk self iemand wat oortuig is van Orania se strewe, twee keer laat dink voor hul uiteindelik besluit om te trek.

Die bedoeling van die skrywe is nie om mense wat graag wil trek ʼn onverantwoordelike keuse te laat maak nie. Orania verwag immers dat mense wat wil trek, buiten die wil om te gaan finansieel selfstandig moet wees. Eerder wil ek krities kyk na die hoë lewenspeil wat ons vandag as vanselfsprekend aanvaar en met verwysing na die minimalistiese beweging wys op ʼn ander manier om rykdom te meet. Dit alles kom weer neer op die Christelike deug van “vergenoegdheid”.

Hoewel ons gou sal erken dat daar ander vorme van rykdom is, is dit gewoonlik materiële rykdom wat die hardste praat. Vergelyk ons ons lewens in ʼn ontwikkelde stad soos Pretoria met Orania is daar soveel meer moontlike materiële voordele in die groot stad as in die klein ontwikkelende dorp. Meer werksmoontlikhede, meer koop-opsies en meer voete by die winkel. Vreemde arbeid kan ook goedkoper bekom word, maar dit kom in die langtermyn teen ʼn duur prys.

Indien ʼn mens net hierdie maatstaf wil gebruik om te bepaal of ʼn mens wil trek of nie, gaan meeste Afrikaners dalk eerder besluit om vas te byt in die stad of andersins as hulle nie meer in Suid-Afrika kan bly nie, vir groener weivelde oorsee gaan soek. Wanneer mense emigreer, word hierdie selfde maatstaf gebruik. Ek het al van min mense gehoor wat vir ʼn kleiner salaris hul lewens in ʼn ander land gaan vestig het.

Is dit dan enigsins moontlik om suksesvolle jong Afrikaners te oortuig om eerder te emigreer na Orania. Ek dink wel so. Redelik onlangs in Amerika het ʼn beweging genaamd die Minimalisme ontstaan. Diegene wat dalk nog nooit van die beweging gehoor het nie, sal die volgende film (Minimalism: A Documentary) baie handig vind om meer oor hulle te leer.

In kort kom dit op die volgende neer: Terwyl materialiste daarvan uitgaan dat ʼn mens soveel as moontlik besittings nodig het om gelukkig te wees, meen minimaliste dat jy eintlik so min as moontlik besitting nodig het. Joshua Fields Milburn en Ryan Nicodemus was uiters suksesvolle sakelui, wat elkeen ses-syfer salarisse verdien het. In Suid-Afrika sal dit seker sewe syfers wees as ons die Rand-Dollar wisselkoers in ag neem. Met die massiewe salarisse kon hul eintlik net koop wat hul wou en het hulle in wêreldse terme die korporatiewe leër suksesvol geklim. Die groot eise van die korporatiewe lewe het wel hul tol geëis. Milburn is van sy vrou geskei en het ook berou gehad oor min tyd wat hy met sy ma kon bestee voor sy gesterf het. Milburn en Nicodemus het ten spyte van hul finansiële sukses gevoel dat hulle iets van hul menswees in die proses prysgegee het. Hul situasie het hul ook uiters depressief laat voel.

Hul het tot die besef gekom dat ʼn gejaag na rykdom ʼn gejaag na wind kan wees. Dus het hul besluit om te fokus op die belangrike dinge in die lewe. Dit was naamlik om meer tyd met mense te bestee.

Milburn en Nicodemus het in ʼn strewe om in minder gejaagde te lei begin om van alle onnodige besittings ontslae te raak of weg te gee. Dit het vir hulle nie primêr gegaan oor hul besittings nie, asof hul geluk direk daaraan wou verbind nie, maar ten diepste wou hul ʼn meer doelgerigte lewe wou leef.

Hul wou ook hierdeur meer tyd maak vir ander. Hoe minder besittings ʼn mens het, hoe meer tyd is daar vir sinvolle verhoudings, vir die gemeenskap, die gesien ens. Die ding wat hulle raakgesien het, was dat die mens met meer besittings, ook meer dinge het om hom oor te bekommer.

ʼn Groter motor vereis ʼn groter versekeringspolis, ry meer brandstof uit en kos meer om te diens. ʼn Groter huis kos meer geld, word afhanklik van vreemde arbeid, se erfbelasting is hoër, is vir kriminele meer begeerlik en kan op die ou end ʼn groter las word. Eerder moet ʼn mens ʼn huis kry wat groot genoeg is om sinvol in te bly en self te kan onderhou.

Buiten die ekstra finansiële kommer wat aan meer besittings gekoppel word, kom al die besittings wat ʼn mens opgaar in baie gevalle net eenvoudig in die pad. Dan help dit nie om meer besittings te hê nie. Nee, eerder kompliseer dit ʼn mens se lewe en veroorsaak dit ekstra finansiële stres.

Verder neem dit elke dag ekstra tyd om ʼn huis vol allerhande dinge skoon te maak. Dit is juis hierdie greep van die minimaliste wat Oraniërs goed sal verstaan. Oraniërs wat verstaan wat dit behels om jou eie huis skoon te hou weet goed dat hoe meer besittings jy het, hoe moeiliker maak jou huis skoon. Hoe minder dinge ʼn mens het wat rondlê, hoe moeiliker is dit vir jou huis om deurmekaar te raak. Veral as jy klein kinders het.

Wat die grote van ʼn mens se huis betref neem die minimaliste ʼn baie interessante greep. Hul meen dat ʼn mens moet probeer bly in die kleinste huis moontlik. Om te veel skuld op ʼn groot huis te maak veroorsaak immers ook meer finansiële stres.

Hiermee word nie gesê dat ons almal in klein huisies moet gaan woon nie. Dit gaan eintlik daaroor dat die huis waarin ʼn mens leef optimaal benut moet word. Veral as die openbare geriewe veilig en toeganklik is.

In ʼn land soos Suid-Afrika waar dit in baie gevalle ongemaklik of selfs onveilig is om parkies te besoek, is dit wel soms nodig om ʼn groter erf te hê. ʼn Mens wil darem net hê dat jou kinders kan buite speel. Waar ʼn mens van meet af ‘n groot eiendom koop, kan dit ʼn mens boonop onder groot finansiële druk plaas, en ʼn mens afhanklik van vreemde arbeid maak as die grote van die huis en die tuin te groot is om self te onderhou. Dit bring weer ʼn veiligheidsrisiko na vore, omdat ʼn mens ook hierdeur toegang tot ʼn mens se huis verleen aan ander.

In Orania is dinge ietwat anders. Die parkies en openbare geriewe is geredelik toeganklik, gebruikersvriendelik, skoon, word goed onderhou en is veilig. ʼn Mens kan dus in Orania in ʼn kleiner huis bly, maar verkry eintlik daardeur ʼn groter “gemeenskaplike erf”. Daar is in Orania vir kinders genoegsaam ruimte om in die strate fiets te ry, of in die parkies te gaan speel of in die openbare swembad te gaan baljaar. Van die huise in Orania het interessant genoeg nie heinings nie. ʼn Mens kan dus amper sê dat ʼn mens in Orania wel ʼn kleiner huis kan koop, want jy kry ʼn baie groot erf. Die hele dorp word jou erf wat jy met die ander Oraniërs te deel.

Dit is alles dinge wat mense in ag moet neem as hulle oorweeg om na Orania te verhuis. Dit is nie ʼn ware vergelyking as ʼn mens net kyk na jou huidige salaris en verwag om presies dieselfde in Orania te kry nie. Dinge soos veiligheid, speelplek vir kinders, meer tyd vir ander en ʼn verwagting van ʼn beter toekoms kan immers nie net koud en klinies in monetêre terme geweeg word nie.

Om ʼn kleiner salaris te kry en minder besittings te hê, mag dalk nie so slegte ding wees soos wat jy dalk dink nie. Buitendien kan die twee ure per dag wat meeste mense vandag in verkeer bestee in Orania eerder in sinvolle tyd besteding met ander mense bestee word. As ons dus vanuit oortuiging ʼn skuif na Orania wil maak, maar dalk van ʼn kleiner salaris moet leef en in ʼn kleiner plek moet bly, moet ons nie noodwendig dat hierdie skynbare struikelblokke ons keer nie.

As ʼn mens wil opweeg of jy na Orania toe kan trek of nie, moet ʼn mens jou som reg maak. ʼn Koud en kliniese finansiële som gaan nie die volle prentjie gee nie. Dit bring ons weer uit by dit wat ons in die Bybel leer dat ʼn mens vergenoegd moet wees as jy kos en klere het. Dit sê nie vir ons dat ons lui moet wees en uiters lae mikpunte in die lewe moet hê nie. Paulus waarsku juis ook hierteen. Wat hy hierdeur bedoel het, is dat ons daarteen moet waak dat ʼn voortdurende gejaag na meer materiële besittings ons nie uiteindelik kelder nie.

Vir diegene wat wel bereid is om nou vir minder geld te trek en steeds aan te hou hard werk, mag hul dalk verbaas wees om uit te vind dat hul in Orania juis baie meer terug ontvang. Dit is nie vergesog dat ʼn mens hier meer werksbevrediging, gesinsvreugde, meer tyd, dalk self beter gesondheid (minder stres) en ʼn hoër lewenskwaliteit hier mag beleef nie. Laat ons nou nie Orania verromantiseer nie, maar laat ons ook aan die ander kant nie ʼn lewe met meer materiële besittings se waarde oorskat nie.

Buitendien is die opoffering om te leer om met minder besittings oor die weg te kom, maar jou gesin se geloof en kultuur te behou, dalk klein in vergelyking met iemand wat vir meer dinge trek, maar in die proses die laasgenoemde prysgee. Om met minder dinge oor die weg te kom, is in die geval dalk ʼn klein opoffering. Minder is in die geval dalk juis baie meer.