Kleuresport ‘n bron van opwinding in Orania

Foto: Leerders van Orania CVO-skool in die skoolbus op pad na die sportterrein.

 

ʼn Gesonde liggaam huisves ʼn gesonde gees – hierdie Christelike beginsel word aktief op Orania uitgeleef. Verskillende Orania opleidingsinstellings het oor die afgelope twee weke deelgeneem aan hul eie interne atletiekkompetisies.

Hierdie atletiekbyeenkomste word op Orania se sportgronde gehou wat goed ingerig is om allerhande items te akkommodeer. Vir die kinders is die kleuresport altyd ʼn opwindende tyd. Nie net is dit die eerste geleentheid van die jaar om jou atletiese vermoë op die proef te stel nie, maar dit is ook ʼn groot bron van gees – vir die skool sowel as vir die dorp.

Orania CVO-skool se atletiekbyeenkoms is op die naweek van 24 Januarie gehou. Die skool word verdeel in drie verskillende spanne wat teen mekaar kompeteer: die Rooi-, Blou- en Geelspan. Verder is daar ook CVO-skole in die omliggende gebiede wat aan Orania CVO-skool se atletiekbyeenkoms kom deelneem. Dankbaar CVO-skool uit Bloemfontein neem deel as die Oranjespan en die Groenspan is ʼn gekombineerde span van kleiner skole uit die Noord-Kaap. Meer as 500 leerlinge het aan hierdie byeenkoms deelgeneem.

Op die naweek van 31 Januarie het Volkskool Orania hul atletiekbyeenkoms aangebied. Die skool is in twee spanne verdeel met die Oranjespan en die Groenspan wat teen mekaar kompeteer het. Vanjaar het Bo-Karoo Opleiding (BKO), Orania se instelling vir tersiêre studies, vir die eerste keer ook deelgeneem aan hierdie geleentheid. Hierdie was dus ʼn prettige samekoms van verskillende Orania-instellings om kragte te meet en te sosialiseer. Vir die nuwe eerstejaarstudente was Volkskool Orania se 2025 atletiekbyeenkoms ʼn wonderlike geleentheid om die Orania gemeenskap beter te leer ken, en ook om hul talente aan die gemeenskap te wys.

Spanne verwef punte op die baan en op die veld. Deelname sowel as prestasie kan vir jou span punte invorder. Verder is daar natuurlik ook die geesbeker waarom meegeding word – wie bring die meeste gees na die veld?

In Orania heers daar ʼn opwindende atmosfeer wanneer die atlete in hulle optogte deur die strate stap en hul spankrete skree. Dit bevestig wat Oraniërs reeds weet – Orania is ‘n aktiewe dorp en altyd besig!

 

Foto 1: Die spanne van Volkskool Orania en BKO staan in afwagting vir die dag se gebeure.

Foto 2: Dit was die eerste jaar wat BKO aan hierdie byeenkoms deelgeneem het.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel