Onlangs was ek in Europa, by name Suid-Duitsland, Oostenryk, Suid-Tirol en Noord-Italië, ʼn baie mooi deel van die wêreld en in talle opsigte die prentjieboek-Europa wat die reisiger soek, met Alpe, Venisië, ou dorpies, feeste soos Karnaval, markte, pleine, kastele, tradisionele eetplekke, kunswinkels ensovoorts.
By die idee van die stad of selfs stadstaat Orania loop altyd ʼn sterk sentiment vir Europa saam. Die voorbeeld vir suksesvolle en estetiese stede as model vir Orania kom grootliks uit Europa. Vir die waarnemer van buite wil ʼn middelslagstad, met so tussen 20 000 en 50 000 inwoners, voorkom as die ideale leefruimte. Jy het al die nodige dienste en produkte, ʼn redelike verskeidenheid wat restourante en vermaak betref, jy het gewoonlik ʼn lieflike historiese deel en nuwer woonbuurte aangrensend, maar nie die massabehuising en ellendige woonstelblok-voorstede van die megastede, nie. Misdaad is ook gewoonlik laag in sulke middelslagstede. Alhoewel die demografiese verandering ook hier sigbaar is, is dit nie so oordonderend soos in die groot stede nie en het die kleiner stede meer van ʼn inheemse karakter. Die gemeenskap is ook meer betrokke en daar is hope kulturele aktiwiteite, nie noodwendig van wêreldgehalte nie, maar ook nie meer amateuragtig nie. Daar is baie dinge wat Orania kan leer van so ʼn Middel-Europese stad, en heelwat word reeds suksesvol toegepas: die effektiwiteit, die goeie bestuur, die benutting van plek, die plaaslike ekonomie, gemeenskapsbetrokkenheid, omgewingsbewustheid.
Ons moet egter ook erken dat Orania nooit ʼn Europese stad kan word nie. Iets wat oor honderde, selfs duisende jare gegroei het, met al die terugslae, die oorloë, hongersnood, peste, brande ensovoorts van vorige eras kan nie in enkele dekades herskep word nie. Jy kan ook nie eeue oue geboue herskep nie, dit sal altyd iets van ʼn Disneyland-voorkoms hê. En allermins kan jy van Afrikaners Europeërs maak. Die Afrikaner het natuurlik sy Europese erfenis en daar is talle ooreenkomste, maar ons moet nooit vergeet nie dat Afrika ons mense sterk beïnvloed het, ten goede en ten slegte. Die unieke mengsel van Europa en Afrika maak die Afrikaner besonders. Ons kan nie in Orania Middeleeuse “Fachwerk” argitektuur herskep nie, maar wel die mooi Karoostyl- en Kaaphollandse argitektuur wat eie is aan ons. Ons kan ook nie probeer om die oeroue tradisie soos Karnaval, wat die vastydperk inlui en uit en uit Rooms-Katoliek is, na te boots nie, maar ons kan wel ʼn spesifiek Afrikaanse geur aan feeste gee wat oorspronklik van Europa af kom, veral feeste met ʼn Christelike grondslag. Hoekom maak ons nie meer van Paasfees en van Kersfees nie? Of van die Oesdankfees, wat byvoorbeeld in die VSA as Thanksgiving ʼn groot familiefees is. Die “Straatliggiefees” van Desembermaand verlede jaar was reeds ʼn goeie voorbeeld van so ʼn soort unieke Orania-fees met Westerse wortels, waar die gemeenskap, die samesyn en die plaaslike produkte gevier word, en waar aan God as gewer van die goeie gawes erkenning en dank betuig word.
Daar is ook nie net goeie dinge aan Europa nie. Vir die besoeker lyk alles idillies en die lewe lyk baie lekker en is dit natuurlik ook, maar dit kom teen ʼn prys. Eiendomspryse is baie hoog en min mense besit hulle eie huise, wat nog van ʼn tweede en ‘n derde huis. Kleinhoewes is feitlik onbekend. Al is meeste Europese lande nog steeds “volkstate”, beweeg hulle vinnig in die rigting van mengelmoes-samelewings. Dit word ook deur invloedryke groepe bevorder en lyk onstuitbaar, veral in die stede. En al is daar orals pragtige kerke, is geloof in die openbare sfeer feitlik afwesig. Ook ʼn godsdienstig gebaseerde opvoeding, selfs indirek, vind nie plaas nie, in teendeel, die oorblyfsels van godsdiens soos in sekere feeste word toenemend verban om nie aanstoot te gee aan nie-Christene, wat reeds die meerderheid is.
Nuutste Opmerkings